Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Hygliteratuur | Erotic literature > Straight > Fiksie | Fiction

Memoirs 1: Charlotte


Neil A Morum - 2011-08-16

Untitled Document

Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.


Toe ek jou die eerste keer gesien het, was my oombliklike gedagte: “Mmm, interessant …” Jou dun bloesie bo-oor ’n ander, stywer witte het my aandag getrek en gehou.

Ons ontmoeting was die gevolg van ’n gereëlde afspraak, maar ek was laat en die gasvrou het gedog ek kom nie meer nie. Toe ek uiteindelik gearriveer het, is ek voorgestel en jou lyftaal het my vertel dat jy vir my gewag het. “Dis nou hy …”

Dit was baie duidelik dat die gasvrou my met jou bespreek het: jy het my op en af bekyk en jou aanvaarding het vlak in jou oë gelê. Ek het jou terug dopgehou en gesien hoe jy soms in die groep inbeweeg om te meng en dan weer terugsit en ’n effense afstand hou. Ek het heel buite gebly: ek moes die misterie wat om my geweef is, handhaaf, en ’n stil op-die-rand-bly is die beste metode. Ek het nie eers gedrink nie: ’n seksuele innuendo oor drank en vermoë het my laat glimlag terwyl ek geantwoord het dat julle maar sal moet sien.

Op ’n voorstel van iemand dat ons moet dans, het ons het die eerste geleentheid vir fisiese kontak (en na mekaar) aangegryp. Jy het in my arms gepas (ek het dit gesê) en jy het selfs in die stiltes tussen liedjies in my omhelsing gebly. Jy het teen my vasgedruk: ek kon jou onderlyf teen my voel en ek het teruggedruk. Jy het geweet ek voel jou, ek het geweet jy weet, en ons het ons in die heen-en-weer weet-van-mekaar verlustig. Ons was albei brutaal eerlik oor wie ons is en waar ons vandaan kom; ons geskiedenisse is soos waarskuwings én lokaas uitgegooi. Dit was duidelik dat my reputasie jou nie afgeskrik het nie.

Die koue het ons later na binne gedwing en ons het op ’n groot rusbank gesit-lê. Jou eerste soene was wild, maar ek het gekeer en jou laat verstaan dat ek in beheer is. Ek het jou beskuldig dat jy ’n vraat is elke keer as jy my só wou soen. Jy het dan sag gelag en stil gewag vir my rustiger lippe. Later het jou asem effens gejaag, veral toe ek met my lippe teen jou keel en oor jou nek gevee het. My hande was nooit stil nie; ek het heeltyd iewers aan jou geraak en jou van my laat weet. Tog het ek die privaatheid van jou liggaam respekteer: ek het nêrens aan jou geraak wat nie “ordentlik” was nie.

Later, toe jy jou oorgegee het aan my beheer en beheersing, het jy vir elke aanraking van my gewag. Ek het daarop gekonsentreer om jou te verras: jy het later nie geweet waar en hoe ek aan jou gaan vat nie. My hande was teen jou rug, in jou hare, om jou middel; my vingers het gesprei en net onder die heerlike stuwing van jou borste gerus. Jou kommentaar (“Oh, boy …”), oor en oor gefluister, het my laat glimlag. Jy moes eers besef dat ’n lang, rustige soen baie meer vir jou liggaam doen as ’n wilde gestoei om twee paar lippe.

Ons moes noodwendig “ontspan” toe die ander mense ook van buite af ingekom het, maar jy het in my arm bly lê; ek het jou gestreel en toe my hand stadig laat afkruip tot in die waai van jou rug. In die halfdonker kon ek die afwagting in jou aanvoel; jy het (as ek dit by ’n ander skrywer mag leen) met jou lyf geluister. Ek het my vingers onder die rand van jou jeans ingeskuif en aan jou broekie se rek gehaak, speels getrek en toe my hele hand ingegly. My middelvinger (en jy het dit ook geweet) het net-net in die gleuf van jou boude gelê; jy het plek gemaak vir my hand deur jou maag in te trek sodat jou broek my beter toegang kon gee.

Toegang, en daardeur toestemming, is al wat ek toe wou hê … Ek het my hand stil gehou en gewag vir jou uitnodiging.

Dit het gekom toe ek aangekondig het dat ek moet ry; jy het gekla dat ek moet bly. “Kom ek gaan sit jou in die bed,” sê ek terwyl ek jou optrek. Jy het aan my hand geklou tot in die kamer, jy het my teen jou afgetrek tot op die bed. My skoene (werkstewels) het op die mat neergeplof en ek het omgedraai en gesien hoe jy uit jou boonste bloes wurm. “Dis beter,” het ek in jou oop mond in gesê en ek kon voel hoe jy glimlag.

Jy het my omgedop, oor my gesit en my hemp begin oopknoop. Dit was jou beurt om te beheer, maar ek het dit net vir ’n ruk toegelaat. Ek het gewag tot jy my hande teen jou borste toelaat, tot ek jou deur jou stywer toppie kon brei en vryf, en toe het ek jou regop gedruk. Jou tepels het deur jou bloes gedwing en jy het my palms om jou rondings gevou. “Wag,” het jou asem gejaag. Toe, “fokkit, ek wil”, en met dié het jy jou bolyf kaalgemaak vir my.

Ek het jou afgetrek sodat ons liggame teen mekaar kon vryf terwyl ek jou diep gesoen het. ’n Onuitgesproke besluit het ons gelyk na ons jeans laat strek om dit af te beur. Jou broekie, ’n wit g-string, was vasgeplak teen jou lippe en jy het jou kop half skaam in my skouer weggedruk. Ek was hard en het ook ’n nat kol teen my onderbroek gewys, maar swart is meer vergewend ...

Toe was jou lyf myne: daar was nie ’n kaal plekkie wat ek nie met my hande of my mond aangeraak het nie. Wanneer jy bo was, was jou rug supersensitief vir my vingers: ek het teen jou ribbes afgestreel en gevoel hoe jy hoendervleis word; jy het eers daaroor gekla, tot jy gevoel het hoe styf jou tepels was en hoe mal ek daaroor was om hulle dan te eet en te suig. My hardheid het gemaklik teen jou lippe vasgedruk terwyl jy bo-op my gesit het; wanneer ek bo was, het ek stadig teen jou gevryf tot jy my naderhand gesoek het met jou heupe.

Ek was tussen jou bene met my lyf, ek het jou maag en die onderkante van jou borste gesoen toe jy opwip en jou broekie teen jou bene afhaak. Toe ons albei kaal was, het ek jou onder my ingeskuif en lank vir jou gekyk. Ek wou hê jy moet seker wees oor dit wat ek jou kon bied: my lyf, my tyd vir die res van die nag, ’n ontdekkingsreis van jou eie liggaam, maar nie veel meer as dit nie.

Jy het my eerste in jou mond geneem: ek sou graag (ter wille van my ego) wou onthou dat jy vleiende kommentaar gelewer het oor die grootte of so iets, maar ek is nie seker nie. Ek weet wel jy het geweet wat jy doen; ek moes jou naderhand waarsku dat jy die gevolge van jou aksies sou moes dra. Jy het geantwoord met uitdaging in jou stem: “Ek vat baie lank om te kom ...”

“Nie as ek dit kan verhelp nie,” het ek die uitdaging aanvaar en jou so geskuif dat ek met die grootste beheer (en genot) jou kon binnegly.

Terg. Gly saggies op en af en dip net die punt in jou in. “Kom in, asseblief ... aaa” toe ek jou neem.

Ek het my bes probeer: hard en vinnig, stadig en diep, terg, huiwer, wag, instamp tot jy kerm, weer stadig, heel uit en dan vlak, jy bo, weer ek, tot ek die warm wrywing nie meer kon uitstaan nie. “Hoe ver is jy?” (die kru vraag van óú lovers of totale vreemdelinge). “Ek gaan kom!”

“Naby, naby, naby, wag, wag ...”, maar ek was nader as jy en het in my orgasme teen jou vasgebeur en my saad in jou ingespuit.

“Shit, sien jy, ek vat te lank.”

Maar my hande was nie moeg nie en ek het jou kittelaar redelik hard beetgekry. Jy het my vingers gestuur en gewys wat jy wil hê; ek het als probeer om jou te laat aftuimel oor die klein dood se afgrond. Jou orgasme was nie te great nie, ek dink die borrel was bietjie afgeblaas.

Ek het agter jou rug gaan lê en my hand oor jou bors geskuif, en jou tepel het sag-hard in my palm gepas. So het ons aan die slaap geraak.

Vir die uur of wat waarin ons geslaap het, was ek die hele tyd bewus van jou. Jou boude het in die kromming van my bene gelê, ons asemhaling was een deining. My lippe het agter in jou nek gerus terwyl jy al stywer teen my genestel het. Ek het hard wakker geword en teen jou vasgedruk. Jy het slaperig na my omdraai en met ’n tevrede geluidjie my mond gesoek. Voor jy heeltemal op jou sy was, het ek bo-oor jou geklim en tussen jou bene ingeskuif. Jy wou nog verbaas wees, toe het ek reeds in jou ingegly. “Wa-, hoe ... shit ... umm ... “ en daarna het jou woorde nie meer sin gemaak nie.

Jy het nie kans gehad om die mure om jou liggaam se reaksie te bou nie; ek het in jou ingestamp en jou oorweldig. Dié keer het jy jou orgasme aangekondig met kort kreune wat saam met jou terugbeur al hoe harder geword het. Ek het vir jou gewag: jy moes eers totaal ervaar voor ek myself toegelaat het om my genot in jou in te spuit.

“Dis hoe dit veronderstel is om te wees, Charlotte. Nie soos wat jy dit tot nou toe ervaar het nie.”

Jy het niks gesê nie en net in die sirkel van my arms ontspan. Ek wil onthou dat jou oë rustig en gesluier was, maar ek dink jy sal onthou dat hulle in verwondering oor my gesig gespeel het.

Ek het geglimlag, iets gemurmel van “a job well done” en jy het my speels in my ribbes gepomp.

“Ja, orraait, wees windgat. Jy mag maar, want jy is goed.”

Dit het niks met goed uit te waai nie, Charlotte. Dit gaan oor die feit dat jy nog nooit toegelaat is om jou liggaam se totale oorgawe te ervaar nie; geen man het jou al gewys waartoe jy in staat is nie.

Ek moes gaan werk, al was dit vyfuur Saterdagoggend. Jy wou my daar hou, maar omstandighede het my gedwing om my strenger minnares te gaan tevrede stel.

Ek het jou ’n ruk daarna ontmoet vir drankies. Ons het in my kar gesit en “daai aand” se gebeure bespreek. Weer was ons eerlik: jy het die nuwe ervarings erken, ek het jou komplimente aanvaar en weerkaats: “Ek doen niks spesiaal of anders nie, ek wys jou net wat jou lyf nog altyd kon doen.”

Die onthou het jou gestimuleer, jou reaksie het my laat reageer en ons het aan mekaar geraak. Jy het my soene herbeleef (“nie so wild nie, Vraatjie”). 

“Ons praat mekaar nou darem lekker warm, nè.”

Ja, Charlotte, ek was mal daaroor om te sien hoe jy in my stem week word.

Jou woonstel en jou kat het my ontvang asof ek al lank daar kuier. Ons het al twee geweet hoekom ek daar was, maar ons het tog gehuiwer. Versigtige soene is afgewissel met wilder gryp na mekaar se lywe, tot ons albei kaal op die bank gestoei het om beheer van die ander se orgasme.

Een keer het ek jou teen jou lyf afgesoen tot tussen jou skaamlippe. Ek het jou geëet soos ’n sagte vrug; klein suighappies en ligte lekkies het jou naderhand rasend gemaak. Jy was bang om oor te gee, maar ek het verby jou protes aangehou. Jou liggaam het (soos daardie eerste oggend) namens jou besluit om net te reageer en na die hel met jou inhibisies ...

Toe jy stil was, het jy – nog steeds uitasem – my opgetrek sodat ek in jou oë moes kyk. “Ek het nog nooit so nie ... dit was die eerste keer ... ek het nie geweet ek kan nie.”

Ek was eintlik half moerig: Hoe kon jy vir so lank ’n (ander) man met jou liggaam vertrou en nooit dié heerlikheid ken nie? En met dié het ek weer gedink jou eks is ’n ool.

Nadat ek in jou gekom het, het jy die guns probeer terugbewys, maar ons was al twee te gerattle vir enige noemenswaardige resultaat.

Op ’n ander geleentheid het ek vir jou kos gemaak. Ek het jou toegelaat om net op die rand van die gebeure te huiwer terwyl ek (behendig, want dit is hoe ek kosmaak) die geure en vreemde aromas in jou blyplek laat inwalm het.

Die seks daarna was baie rustig; ons het aanmekaar aan mekaar gevat, heeltyd oogkontak gehou. Ek het teen dié tyd al jou liggaam se ritme herken en presies geweet wanneer om saam met jou te kom.

Die bank was egter altyd die plek. Sy teenwoordigheid was te opvallend, en buitendien sou dit grens aan verraad as ons naby julle eksslaapkamer sou kom. Ek was toe nog net ’n minnaar, lyflik en gekonsentreerd op jou genot.

Die aand toe jy (téén my waarskuwings in) besef het dat ek spesiaal begin word, het jy my in déjà-vu om die hoek na julle ... jou bed getrek. Jy het die vraag wat in my oë was, saam met my hemp oor my kop gepluk … ek sou op geen manier keer dat jy hierdie laaste muur om jou afbreek nie.

Ek dink dit was die rofste wat ek ooit met jou was. Ek het jou geknie en gekneus, jou afgedruk en regopgetrek, jou gepenetreer en ge-...  ja, naai is die regte woord. Jy het lawaai, gegil en gekerm. “Die tannie langsaan se moeeeeer!” toe ek wonder of die bure gaan hoor. Weer het ons rustig geword, selfs ’n rukkie gedut.

*

’n Ruk daarna het jy verlief geraak. Ek was te veel keer onbeskikbaar om saam met jou uit te gaan (my ego verwag dat jy met my wou gaan spog) en jy het moeg geraak daarvoor. My oorspronklike waarskuwing het gestalte gekry: “Moenie te geheg raak aan my nie!” – en ons het stadig uitmekaar gedryf.

Tog gaan lewer ek elke jaar op jou verjaarsdag ’n sjokolade by jou kantoor af, druk jou liggaam styf teen die lengte van my lyf, soen jou ’n sekonde langer as wat ordentlik was, sien ’n duisend boodskappe in jou oë. Dan draai ek om en stap weg, net om (en hier leen ek weer) “vir dae oor jou [en ons] te loop en wonder ...”

Ns. Soms gaan haal my brein vanself herinneringe aan jou en gooi hulle voor my oë. Die enigste uitweg is om dan my liggaam te straf: ek vryf tot ek met ’n kreun weer kan sien hoe die onthou aan jou saam met my vog uit my lyf uitloop.

Nns. Jy sal sien dat ek jou naam verander het om jou identiteit te beskerm, maar verder is alles feite.