Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Rise of the Planet of the Apes – selfs beter as die oorspronklike


André Crous - 2011-08-16

Rise of the Planet of the Apes
Regisseur:
Rupert Wyatt
Kamerawerk: Andrew Lesnie
Rolverdeling: Andy Serkis, James Franco, Tom Felton, Freida Pinto, John Lithgow, Brian Cox
Looptyd: 105 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 12 Augustus 2011

Rise of the Planet of the Apes klink miskien na net nog ’n kommersiële poging om die franchise te laat herleef wat in 1968 geloods is met Charlton Heston in die hoofrol (hy was ’n mens, nie ’n aap nie). Maar nes Batman Begins het ons hier te make met ’n film wat selfs beter as die oorspronklike is. Ek wil nie snedig wees nie, maar noem net so terloops dat die oorspronklike Batman, sowel as ’n ander "nuwe" Planet of the Apes, wat in 2001 vrygestel is, albei deur Tim Burton geregisseer is.

Tim Burton se Planet of the Apes was ’n nagmerrie, met ’n einde wat probeer het om oulik te wees deur middel van ’n draaipunt wat uit die lug uit val oomblikke voor die eindkrediete. Hierdie nuutste film, deur Britse regisseur Rupert Wyatt, val buite die raamwerk van die vorige films omdat die storie hierdie keer op die aarde begin, in plaas van die buitenste ruim, en dit gebeur duidelik in die hede, wat altyd voordelig is vir die moontlikheid van identifikasie tussen die kyker en die karakters.

In sy wese handel die film oor ouerskap – die rebellie van die kind namate hy of sy ouer word en deur die ouer teleurgestel word, en die aanvaarding van die ouer dat die kind die nes gaan verlaat. Terwyl die kind hier ’n aap genaamd Caesar is wat blootgestel is aan ’n moontlike kuur vir Alzheimer se siekte, wat die brein herstel (en verbeter!), is die ouer die wetenskaplike Will Rodman, wat baie goed vertolk word deur James Franco.

Soos al die ander films in die reeks aap-films, is die tema van mag ook hier aan die kern en word dit in verskeie situasies beklemtoon: tussen mense, tussen ape, en tussen die twee spesies. Caesar se groeiende intelligensie stel hom in staat om die mense wat hom onderskat, te uitoorlê, en die mag wat hy kry deur altyd ander se verwagtinge ver te oortref, is ’n belangrike deel van sy beeld.

Wanneer Caesar op ’n keer Will se pa, wat aan Alzheimer se siekte ly, wil beskerm, word hy opgesluit saam met "mindere" ape wat hom afknou, totdat hy besef hoe hy ook hul bewondering kan kry. Een goeie vriend wat hy maak, is ’n oerang-oetang, Maurice, wat vroeër in ’n sirkus was en Caesar se gebaretaal kan verstaan. Maurice is duidelik al gewoond aan die wyse waarop hy en sy mede-primate behandel word en sy koelkophouding help Caesar tydens sy ontnugtering.

Die ape begin uiteindelik die wêreld oorneem, soos die titel impliseer, en hul verhoogde intelligensie word ingespan teenoor die mensdom se wapens. Waarop dit alles afstuur, is nie duidelik nie, maar dit is wel die begin van iets groots.


Die drama tussen Redmond en Caesar is baie goed hanteer en die draaiboekskrywer se keuse om die film meer op Caesar as op Redmond te laat fokus, is effektief. Ons is nie heeltemal agter Caesar en sy aksies nie, maar ons kan dit verstaan en die drama wat hieruit vloei, veral wanneer ons albei kante van ’n saak kan insien (ons spandeer tyd saam met Caesar, maar ons verstaan Redmond as mens).

Ongelukkig het die draaiboek by tye groot probleme, soos wanneer daar van ons verwag word om te glo dat die ape se hoër intelligensie noodwendig beteken dat hulle alles kan doen wat mense kan, sonder eeue se blootstelling aan spesifieke probleme wat slegs uit ondervinding geleer kan word. Die sprong is dikwels net te groot, soos duidelik blyk uit ’n toneel wanneer Caesar besluit om uit sy hok te ontsnap.

Freida Pinto speel Redmond se vrou; sy was seker goed in Slumdog Millionaire, maar haar onlangse rolle laat veel te wense oor. Tom Felton, wat beter bekend is as Drako Malfoy in die Harry Potter-films, is hier ’n boosaardige wag by die instelling waar die ape aangehou en mishandel word, en hy kwyt hom goed van sy taak. Ongelukkig slaan sy Britse aksent heeltemal te veel deur.

Andy Serkis, wat ook Gollum in die Lord of the Rings-films vertolk het, is hier te sien in die hoofrol, Caesar, wat geskep is deur middel van visuele effekte. Met ander woorde, soos al die voorstellings van ape in hierdie film, dra hy nie ’n kostuum nie, en die beelde wat ons kry, is volledig van dieselfde aard as die regte mense. Die geld is duidelik hierop spandeer ten koste van veel swakker effekte elders in die film, byvoorbeeld wanneer die ape deur water hardloop, of San Francisco vanaf die boomtoppe gewaar.

Rise of the Planet of the Apes is die beste Planet of the Apes-film wat nog ooit verfilm is en is ’n wonderlike eerste tree in die rigting van ’n volgende filmreeks.