Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Captain America jaag na sy vervaldatum


Jacques Liebenberg - 2011-08-16

Captain America: The First Avenger
Regisseur:
Joe Johnston
Kamerawerk: Shelly Johnson
Rolverdeling: Chris Evans, Hayley Atwell, Hugo Weaving en Tommy Lee Jones
Looptyd: 124 minute


 Praat van ’n superkrag.


Die superversadigingspunt vir superheldflieks is al amper op ons. As hy nie reeds in die supertruspieëltjie verdwyn nie.

Want die een strokiesuperheld ná die ander vind sy/haar weg na die supersilwerdoek (3D, sien?) en, in die meeste gevalle, is dit maar hoogstens supermiddelmatige vermaak. Dis tog jammer geld laat die aarde skommel. (Draai hy nog? Moeilik om te sê.) As dit nie vir Hollywood se beheptheid met miljardrand-lokettreffers was nie, kon ’n mens ’n beter gehalte mega-uitreikings (jip, so goed was die onlangse Pirates-flieks nié) verwag. En hier is Marvel Studios deels te verkwalik. Dink daaraan.

Voorheen was ’n superheldfliek ’n skaars dier. Mens het dalk een per jaar gesien. Deesdae is dit eerder drie of vier per jaar. Noem daardie magiese “miljard” (ook nie meer vir lank nie, gegewe hoeveel van dié verdieners daar teen dié tyd is) en die pakdraers in die Stad van Engele kry skoon die ritteltits. Vinniger, groter, méér, kreun hulle en doen ’n vinnige kosteberaming. Kan ons ’n A-lyster bekostig? Tik-tik-tik. Hmmm …

En van oorspronklik wees is daar nie eintlik meer sprake nie. Ghost Rider kry opnuut lewe, weer met Nicolas Cage. Die Spider Man- en Superman-konsessies word weer gemelk. Christopher Nolan kan nogmaals aan sy beeld van onaantasbaarheid skaaf wanneer sy derde Batman die lig sien (sou hy graag vir Leo in die naamrol wou sien?). En die lys eindig nie daar nie.

Maar terug by Marvel, wat sy aanvoorwerk vir die uitreiking van The Avengers, vir eers die moeder van alle superheldflieks, nou met Captain America afgehandel het. En dis nogmaals ’n heel stewige produksie, so in die lyn van Iron Man, The Incredible Hulk en Thor, maar daar kom tog iets kort. Dis daardie gevoel van oppervlakkigheid, van jaag teen die spertyd-duiwel, wat aan mens knaag. En dis superironies, want die Marvel-helde is veronderstel om geteisterde, veelvlakkige wesens te wees.

Iron Man, veral die eerste een, hét dit. Dalk is dit danksy Robert Downey Jr se magic. Daardie vermoë om ’n hele storie in ’n enkele skoot te kan vertel. Dalk is dit Jon Favreau se stewige regisseurshand. Of die geskakeerde wisselwerking tussen Downey Jr en Gwyneth Paltrow.

Hulk het so ’n bietjie daarvan. Die eerste het Ang Lee se magiese visie, maar die mal pa in die drinkwater het hom gekelder. Die tweede het Edward Norton se behendigheid en Liv Tyler se groot oë, maar super-Norton is nie meer met ons nie. Thor is op sy beurt ’n knap glansfliek sonder veel van enigiets en, behalwe vir hier heel teen die einde, bevind Captain America hom in dieselfde heelal.

Vergeet mens van ’n paar superspronge, word daar nie veel van die soldaat Steve Rogers se superkragte gemaak nie en mens wonder wat presies Joe Johnston, regisseur, met dié halfterloopse aanslag probeer bereik. Johnston was ook verantwoordelik vir onder meer die genotvolle The Rocketeer (ongelukkig ook vir The Wolfman), maar Captain America het nie naastenby die menslikheid wat in The Rocketeer te bespeur is nie. Daar word gejaag na daardie ontknoping, sonder veel oorweging vir die moontlikhede wat monsterakteurs soos Hugo Weaving, Tommy Lee Jones en Stanley Tucci ’n storie bied.

Jones kry darem kans vir so twee prettige uitlatings, maar behalwe daarvoor is Captain America ’n fliek waarin daar streng by die ateljeeriglyne gehou word. Soos: Onthou, Joe, die teikenmark is tienjarige selfoongebruikers, so baie ontploffings en tonele in stadige aksie, oukei? Die “fanboys” gaan in elk geval kyk, so moenie te veel oor hulle bekommer nie.

Nee wat, ek mis superheldflieks soos die wonderlike Tank Girl en min gewaardeerde Constantine. Klein pogings sonder ’n vervaldatum. Maar die karakters en storie suig jou in en maak jou deel van daardie wêreld waarin die held miskien superkragte het, maar hy, of sy, is steeds eerstens mens (en verkieslik een wat nie lyk of daar te veel woorde in sy stukkies dialoog is nie).