Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Joernalistieke kollig op Kaapstad


Carina van der Walt - 2011-08-16

Untitled Document

 Dit is weer somervakansie in Nederland. Daar is min nuus. Tog weet die koerante hoe om sinvol daarmee om te gaan. Die NRC-Handelsblad het byvoorbeeld De grote wereld saamgestel. Dit is ’n reeks artikels oor tien wêreldstede: Parys, Istanbul, Kaapstad, Moskou, Sjanghai, New York, Berlyn, Sydney, Rio de Janeiro en Londen. Vir die reislustige Nederlanders is dit heerlik om goed ingelig na een van die bestemmings te vertrek. Dit is één van verskillende reekse wat hierdie somer gepubliseer word. Die joernalistieke styl daarvan is iets besonders.

Klik op die beeld vir 'n groter weergawe.


In De grote wereld word elke stad op ’n dubbelblad, vir ’n volle week lank, met presies dieselfde woorde aangekondig: “Hard, romantisch, exotisch. Elke wereldstad heeft zijn eigen imago. … op zoek naar de werkelijkheid achter het cliché …”

Die eerste artikel Maandag oor Kaapstad is polities van aard: “In Kaapstad ben je nooit wit genoeg”.’n Kort biografietjie en foto van Aryan Kaganof, die persoon uit wie se oogpunt korrespondent Peter Vermaas die verslag skryf, is ingesluit. Kaganof is positief én negatief: “Kijk, dit is toch net New Orleans: de lange straat met Victoriaanse balkonnetjes, overal barretjes en muziek. … De berg is de façade. Erachter wonen miljoenen armen die in deze stad niet meedoen.” Volgens Kaganof kan die koloniale, aangename en sonnige Kaapstad net by grasie van sy Blikkiesdorpse skadukant bestaan.

Die aflewering sluit ook’n lugfoto van Kaapstad, ’n kaart van die Kaapse skiereiland en ’n boekelys met die vyf beste boeke oor Kaapstad volgens Pieter Steinz in: Disgrace, Casspirs en campari’s, The Cardinals, Cape Town – the Making of a City en Cape Town in the Twentieth Century: an illustrated social history.

Die inwonerstal van Kaapstad is 3,4 miljoen.

Op Dinsdag word uitgebrei op die rassesamestelling. Die eerste vraag is: “Ligt Kaapstad in Afrika?” Vermaas weeg sy swart vriende uit Johannesburg se menings op teenoor dié van die DA-burgemeester, Patricia de Lille. Volgens die eerste groep is Kaapstad “een stukje Europa, een koloniale buitenpost die zicht niets aantrekt van de rest van de land”. De Lille reageer anders: “Alleen al geografisch lijkt me dit een onzinnige vraag. Afrika begint in Kaapstad en eindigt in Kairo. Punt.”

Ander gee hulle menings: die Kaapse politieke kommentator Rhoda Kadalie, die ANC-minderheidsleier Tony Ehrenreich en die skrywer Ntone Edjabe uit Kameroen. Uit sy kantoor in Long Street skryf Edjabe: “Kaapstap dwingt je om na te denken over wat Afrika eigenlijk is … Je vindt hier nergens het stereotype, hapklare Afrika. … Het draait om de samenstelling van de bevolking. Die is uniek, het is een creolenstad, een pan-Afrikaanse diasporastad, met een cultuur en een mentaliteit zoals je die in Brazilië of Jamaica vindt.”

Op ’n ander deel van die dubbelblad kom die oudhoofredakteur van Die Burger aan die woord. Henry Jeffreys (2006–2010) reageer kortliks op vier vrae van Vermaas en sê onder andere: “Bij Kleurlingen is het Afrikaans in goede handen.”

Die vier beste blogs van Kaapstad word bekend gestel as www.capetown.travel/blog, www.litnet.co.za, www.capetown2014.co.za en www.andrewboraine.com. Die ambisie van Andrew Boraine om Kaapstad in 2014 die wêreldhoofstad in ontwerpkuns te maak, geniet spesiale aandag.

Ten slotte word die prys van ’n taxirit oor tien kilometer in Kaapstad aangegee. Dis nuttig vir Nederlandse toeriste, wat sterk op openbare vervoer ingestel is.

In die Woensdag-uitgawe pryk vyf groot kleurfoto’s van die fotograaf Lizane Louw onder die opskrif “Het licht in Kaapstad”.Die skadu’s in haar foto’s kan slegs bestaan by grasie van die lig. Twee Afrikaanse digters word aangehaal in die kort teks deur Hans Steketee:

“Die lig val soos ’n emmer water oor die vloer” (Breyten Breytenbach) en “onsigbaar die berg in die mis – soos ’n klont van verdriet” (Antjie Krog).

Op Donderdag begelei die parkeerwag Modero Kimasi, immigrant uit Kongo, van uur tot uur die leser deur sy dagprogram.

“Ze zeiden dat we hun banen afpakten. En dat is ook zo.”

Om daarvoor te vergoed stapel Kimasi die vyfsente wat hy kry, op die muur van Hoërskool Jan van Riebeeck vir die veiligheidswag van die skool, want: “Je moet Zuid-Afrikanen te vriend houden. … Je heb mekaar nodig op de straat.” Aan die einde van sy dag het hy R132 verdien. Maar hy droom van ’n deurbraak as sanger.

Die duurste straat in Kaapstad, Nettletonweg in die uitbreiding Clifton, kom onder die lesers se aandag. Dis vir in geval iemand wil koop. Die gemiddelde huisprys is 1,18 miljoen euro.

Die hoogste punt van Tafelberg is 1 085 m bokant seespieël.

Vrydag fokus op kuns. Die opskrif is: Laat de kunst ons zeggen wie wij eigenlijk zijn”. Die direkteur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Galery in Kaapstad, Riason Naidoo, vertel van die omskakeling vanaf imperialistiese na Suid-Afrikaanse kuns. Dit het begin met ’n geïrriteerde reaksie van ’n Nederlander: “Waarom sou ik naar kunst uit eigen land gaan kijken als ik in Zuid-Afrika ben?” Foto’s van die werk van Vladimir Tretchikoff, Guy Tillim en Lisa Brice versier die bladsye.

Die kunsartikel word aangevul met films wat in die stad verfilm is: Judge Dredd, Save House, District 9, Black Butterflies en die jongste 007-film, Carte Blanche. Peter de Bruijn versorg dié deel.

Amanda Kuyper beklemtoon die rol van jazz-musiek in Kaapstad met name soos Abdullah Ibrahim, Basil “Manenberg” Coetzee, Robbie Jansen en Winston Mankunku.

Die naweek se leesstof oor Kaapstad bied Vermaas in ’n ligter trant aan met die fokus op die Waterfront. “Dit is de plek waar Kaapstad naar toe gaat om te zien en gezien te worden.” Hawemeester Steven Bentley en Laura Robinson van die Cape Town Heritage Trustdeel hulle kennis in hierdie aflewering met die Nederlandse lesers. ’n Panorama van Tafelberg op die agtergrond en die hawe op die voorgrond ondersteun die inhoud van die artikel oor die verhouding tussen stad, berg en hawe.

’n Toprestaurant in Woodstock se naam word verklap.

Nêrens lees jy misdaadstatistiek nie. Geen verslae van geweld, grusame motorongelukke, seksuele vergrype of dronkenskap ontsier hierdie bladsye nie. Ook die skoonheid van Tafelberg, die Kaapse fynbos, die ongerepte kuslyn en wildslewe as toeristiese clichés ontbreek.

Die verslaggewing oor Kaapstad is verfrissend ánders as wat Suid-Afrikaanse koerantlesers gewoond is. Dis nugter (selfs saaklik) en met baie feite uitgewerk oor ’n breë spektrum onderwerpe. Al ken jy Kaapstad hoe goed, is hier nog iets om by te leer. Jy mag verskil met die lysies boeke, blogs, films en jazz-CD’s, maar dis ’n uitstekende beginpunt vir buitelandse besoekers. Die Nederlandse lesers se nuuskierigheid is geprikkel en dit werk aansteeklik. Dis tyd om my tasse te pak.