Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Koop-’n-Afrikaanse-boek-dag: Watter Afrikaanse boek het jou skryfwerk inspireer


Helena Gunter - 2011-08-12

Watter Afrikaanse boek het jou skryfwerk die meeste beïnvloed of geïnspireer, en hoekom?

Missionaris deur Elsa Joubert en Verkenning deur Karel Schoeman het my bewus gemaak van die uitwerking wat Europese kolonisasie op die vasteland van Afrika het.  Ek het beide boeke destyds gelees as ironiese kommentaar op die sogenaamde voorspoed en vooruitgang wat Westerse kerstening en beskawing na Afrika gebring het. Die ontheemding, verstrooiing en ontmensliking van die destydse inheemse Afrikaan kan grootliks toegeskryf word aan hoe kerstening en kolonialisering gepleeg is sedert die koms van die Europeër na die Afrika-vasteland. Die wyse waarop die geskiedenis hom tans uitspeel, waar politieke en maatskaplike onrus en onstabiliteit aan die orde van die dag is, verstout my om te sê dat beide boeke ook profetiese vooruitskouings was.

Daar is ’n groot groep Afrikaanse lesers wat weens die dogma waarbinne ons opgevoed is, nie bewus is van die “centrality of whiteliness” (soos daarna verwys word in Samantha Vice se opstel, “How Do I Live in This Strange Place?”) in ons kollektiewe geheue nie, of nie werklik geïnteresseerd is daarin om uit te vind nie. Ten spyte van ons ryk skat aan postkoloniale literatuur – waarin Christelik-Nasionale geskiedenis hoofsaaklik gedekonstrueer word – kan/wil baie lesers steeds nie ons geskiedenis as oorsaak van huidige polities-maatskaplike probleme verreken nie. In die naam van vooruitgang word ’n bemoeienis met die geskiedenis selfs afgemaak as “so laasjaar”. Wanneer ons gekonfronteer word met die onverteerbare geweld van plaasmoorde, onteiening, onbevoegde dienslewering, magsmisbruik of misdaad, reageer ons met verontwaardiging, woede en verontregting. Ons, en ja, ook ons kinders en hulle kinders, voel ons die groot slagoffers wat geen vennootskap met die geskiedenis en ons bevoordeling het nie. Asof die geskiedenis met die koms van demokrasie in 1994 weggeval het en die speelveld gelyk was. Asof mense wat verwond is tydens daardie geskiedenis nou psigies kerngesond en toegerus aan die ander kant moet uitstap en vorentoe gaan. In boeke soos Missionaris en Verkenning het ek ’n ander Suider-Afrikaanse geskiedenis as die Christelik-Nasionale een leer ken en internaliseer. Daardie kennis het ’n spesifieke insig gebring in die oorsake van ons huidige werklikheid. Omdat ek graag stories vertel, wou ek in beide kortverhaalbundels, Op ’n plaas in Afrika en Met koffer en kaart, probeer om geloofwaardige fiktiewe situasies op te stel waar ’n redegewende verband tussen ons komplekse verlede en problematiese hede vir die leser gesuggereer word. Ek glo dis ’n manier van konfrontasie (en hopelik belydenis) wat gesonder en meer terapeuties is as ontkenning of polities-korrekte feeverhale.