Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

The Young Gay Guys Guide to Safer Gay Sex: Allermins ’n prekerige pamflet


JB Roux - 2011-08-11

The Young Gay Guys Guide to Safer Gay Sex
Text by Robin Malan
Illustrations by Roberto Millan
Uitgewer:
Junkets Publisher
Prys: R80.00

 

Die meeste van ons ken Jan van Elfen se Wat seuns moet weet goed. Dié boek staan al jare lank in vir pa’s wat nie besef hoe belangrik dit is om self met hul seuns oor “die dinge van die lyf” te praat nie. Of wie se verhoudings met hul seuns nie intiem genoeg is vir so ’n gesprek nie.

Hoeveel seuns ooit Van Elfen se boek gelees het, weet nugter: ouers glo dikwels kinders is eers hier rondom 17 gereed om oor seks ingelig te word. Natuurlik weet Boetie teen daardie tyd lankal min of meer alles wat daar oor seks te wete is – veral die gure, onheilsame dinge. En nugter weet waar en hoe hulle aan dié inligting gekom het.

Boeke oor seksvoorligting is dus dikwels mosterd ná die maal. Maar dis darem daar, net ingeval iemand tog daarby kan baat.

Maar wat sê Jan van Elfen oor gay seuns?

Nie veel nie.

En selfs al sou ’n pa deur sy seun ingelig word dat hy gay is sónder dat sy pa kaalvoet teen die mure probeer uitklim, gaan so ’n pa finaal sy varkies verloor as sy gay seun by hom sou aanklop vir seksvoorligting – gay-seks-voorligting!

Gay mans wat seksueel aktief wil raak, moes jare lank op die “harde” manier leer wat daar te lere is. En dít is lankal nie meer veilig nie.

Daarom dat Junkets se jongste publikasie – ’n pers boekie in sakpasformaat – so nodig is.

Dié boekie is allermins ’n prekerige pamflet. Die bladuitleg maak dit maklik om te lees en die taal is ook maklik leesbaar. Die volop prettige illustrasies deur Roberte Millan maak The Young Gay Guys Guide To Safer Sex onweerstaanbaar: nadat jy vinnig deur hierdie sakgids geblaai het, wíl jy hom lees, van hoek tot kant. Die sketse ís eksplisiet en sal deur styweliptannies en -ooms as pornografie afgemaak word, maar tekeninge met minder detail sou minder insiggewend wees. Ek het geen twyfel dat Millan se sketse doelbewus eksplisiet is met die uitsluitlike rede om lesers behoorlik in te lig, en nie bloot om seksueel te prikkel nie.

Met hier boekie in die hand sal jy sal met ’n stuitige grinnik ingelig word oor seksposisies vir gay mans (daar is veel meer as wat sommige mense sou dink), masturbasie, orale seks, anale seks, groepseks – noem maar op. Natuurlik word lesers ook goed ingelig oor hoe om seks so veilig moontlik te hou.

Daar is ’n “Q & A”-afdeling waarin gay mans se seksuele tameletjies deur kundiges beantwoord word en ’n lys van gay organisasies en ondersteuningsgroepe.

Heel agter is daar “The Young Gay Guys Pledge”: ’n enkele bladsytjie met ’n onderneming dat die ondergetekende altyd ’n kondoom en geskikte smeermiddel tydens seks sal gebruik, sy eie sowel as sy seksmaat se lyf sal respekteer, en MIV-infeksies sal help bekamp. Lesers moet dié onderneming onderteken, uitskeur en aan die uitgewer pos. ’n Soortgelyke onderneming kan ook per SMS aangestuur word.

The Young Gay Guys Guide to Safer Sex hoort in elke dokter, sielkundige, psigiater en predikant se spreekkamer, ook in skoolbiblioteke, klubs en enige plek waar jongmense byeenkom. Heelwat jong mans besef en ervaar dat hulle gay is, maar weet nie wat gay-seks regtig impliseer nie. Professionele (en selfs nieprofessionele, maar goedbedoelde en soms redelik akkurate) raad is gewoonlik op die emosionele sy van gay-wees gerig, terwyl die fisieke heeltemal gesystap word.

Die hemele weet: vroeër of later móés daar ’n boek presies soos dié lig sien. Die wag is verby.

  • Ook vars van die pers van Junkets is daar SA Gay Plays 1, saamgestel deur Robin Malan. Dié boek is die eerste in ’n reeks en bevat die vyf Artscape New Writing Programme-toneelstukke wat vanaf 2006 tot 2010 na die International Dublin Gay Theatre Festival getoer het en óf bekroon is óf vir ’n bekroning genomineer is. Die toneelstukke is onderskeidelik deur Ashraf Johaardien, Juliet Jenkin, Pieter Jacobs, Fiona Coyne en Gideon van Eeden geskryf.