Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: Maritha Snyman gesels oor die plek van middelmoot-literatuur in die literêre sisteem


Maritha Snyman - 2011-08-10

Maritha Snyman reageer op die artikel “Literatuur in die marge: Die plek van die middelmoot-literatuur” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Hennie van Coller.

Van Coller se artikel bespreek in genuanseerde terme die verskil tussen middelmootliteratuur en letterkunde. Hy verduidelik ook op omvattende wyse hoe en waar hierdie onderskeid ontstaan het en waarom dit, volgens sy mening, moet bly bestaan. Van Coller verdedig die siening dat letterkunde “onderskeibare intrinsieke eienskappe” bevat en dat hierdie eienskappe verskil van dié van boeke wat as “middelmootliteratuur” bestempel word.

Hoe mens ook al daarna kyk, ontlok die voorgestelde eienskappe wat Van Coller aan die twee “soorte” literatuur toedig, vrae wat moeilik konkreet beantwoord kan word. Daar is boeke wat (vermoed ek) as middelmootliteratuur beskou word waarin heelwat letterkundige eienskappe voorkom en andersom. Dit sal dalk nuttig wees as literatore vir lesers kan aandui watter tekste wat die afgelope drie jaar verskyn het, letterkunde en watter middelmootliterauur  is. Dalk kan mens dit verder verfyn en kategorieë soos besonder/hoogs letterkundig; letterkundig; middelmoot wat maskereer as letterkunde; ware middelmoot; swak middelmoot en prulliteratuur uitwys en motiveer waarom die tekste so gekategoriseer word. Dan word die gesprek konkreet.

Ek kon nog nooit oortuig word dat die term letterkunde enigiets anders is as ’n konstruksie wat deur hekwagters in stand gehou word nie. Hierdie konstruksie berus op die uitsluiting van sekere lesers. Van Coller sê self: “[S]onder sy afstand en sy ‘maskers’ is letterkunde gedoem.” Eksklusiwiteit is inherent deel van die konstruksie letterkunde en is histories gebaseer.

Van Coller se teoretiese gesprek weerspieël ongelukkig nie die werklikheid van die Afrikaanse boek nie. Die Afrikaanse literêre tradisie kan nie sito sito vergelyk word met dié van Nederlands of Engels nie – onder andere weens die duur daarvan. Is artikels soos dié tot voordeel van die Afrikaanse boek? En daarmee suggereer ek nie dat gehalte nie aangeprys en nagestreef moet word nie. ’n Goeie boek is ’n goeie boek en bevat meer of minder van die intrinsieke eienskappe wat Van Coller aan letterkunde toedig. Die vraag is of ’n werkswyse waarin letterkundiges op pejoratiewe wyse boeke aanprys wat nie deur lesers waardeer word nie, tot voordeel van die (voortbestaan van die) Afrikaanse boek is. En laat ek herhaal: ek sê nie hiermee “everything goes” nie.

Ons nader vinnig in Afrikaans die situasie (ons is eintlik al daar) waar daar doodeenvoudig nie genoeg lesers van letterkunde is om die publikasie daarvan moontlik te maak nie. En ek weet ek raak nou die onnoembare kwessie van geld in ’n akademiese  gesprek aan, maar as ons nie boeke aan Afrikaanssprekende mense verkoop nie (en ongelukkig is letterkunde nie die groot verkopers nie), sal daar gouer as wat ons dink, géén Afrikaanse boeke wees om te kategoriseer nie.

Ons moet terug na basiese beginsels.

Die skryf van ’n boek veronderstel die aanvang van ’n kommunikasiegeleentheid. In die boek word ’n kode gebruik om ’n boodskap aan ’n onbekende ontvanger te stuur. Volgens Verdeber se kommunikasiemodel word die kommunikeerder se eie waardes, agtergrond, ervaring, kennis, ensovoorts onbewustelik in die boodskap geënkodeer. Nog voordat die boodskap by die ontvanger uitkom, is daar verskeie geleenthede waar geraas die betekenis van die boodskap kan versteur. Die ontvanger dekodeer die boodskap deur onbewustelik  gebruik te maak van sy eie waardes, agtergrond, ervaring, kennis, ensovoorts, terwyl nog heelwat geleenthede van geraas moontlik is.
Dit spreek vanself dat dit volgens hierdie model uiters onwaarskynlik is dat ’n teks dieselfde betekenis vir twee of meer lesers sal hê. Daar is altyd interpretasie in die proses betrokke. Daarom is elke leser se lesing geldig: die professor s’n én die “gewone” lesers s’n.

Wanneer ons boeke bestudeer uit die perspektief van ’n kommunikasieproses, kom ander vrae na vore: Wat het die kommunikeerder bedoel? Wat het die ontvanger verwag? Is hierdie boodskap vir die ontvanger relevant/interessant/onverstaanbaar/vervelig/goed? Waarom ervaar die ontvanger dit so? Hoekom het die ontvanger in die kommunikasieproses betrokke geraak? En die kommunikeerder?

In so ’n ondersoek lê die evaluering/ontvangs  nie slegs in die hande van geleerde hekwagters nie. ’n Resepsie-ondersoek gee insig in die hoe verskillende die lesers oor die teks voel en dink. So ’n benadering relativeer die uitsprake van literêre kritici. Eintlik gebeur dit alreeds in die sosiale media. En dit is ’n gesonde situasie, want so beïnvloed die literator en die “gewone” leser mekaar.

Want soos geld ’n onontbeerlike faktor in die publikasieproses is, kan boeke ook nie bestaan sonder maatskaplike betrokkenheid nie – en ek gee nie om as ek weer as ’n gevaarlike populis bestempel word nie. Die “gewone” leser is net soos die “ingeligte” leser onlosmaaklik deel van die literêre sisteem. Dis die gewone leser wat vir die lekker lees wat boeke koop en die publikasie van alle Afrikaanse boeke verseker. Snedige resensies waarin menings nie gemotiveer of gerelativeer word nie, doen nie die literêre sisteem goed nie.  

Mag ek pleit vir ’n evalueringstelsel (en behoorlike resensies) soos in die geval van films, waar elke teks volgens sy intensie beoordeel word? Mag ek daarop wys dat Shakespeare se dramas as massavermaak ontstaan het? En mag ons nederig bly in die meganismes wat ons gebruik om ander in- of uit te sluit, aan te prys of af te maak, aangesien ons soms gruwelike foute maak.

Ten slotte sou dit dalk positief wees as letterkundiges en leserkundiges kan saamspan en navorsing doen waarin letterkundige oordele van uitgesoekte tekste met ’n leserstudie kombineer word. Dit kan uiters insiggewend wees.  

 


<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<