Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: Phil van Schalkwyk gesels oor die plek van middelmoot-literatuur in die literêre sisteem


Phil van Schalkwyk - 2011-08-10

Phil van Schalkwyk reageer op die artikel “Literatuur in die marge: Die plek van die middelmoot-literatuur” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Hennie van Coller.

In die debat oor “hoë” en “lae” verskyningsvorme van die literatuur is ek ’n voorstander van ’n pluralistiese perspektief. ’n Literêre sisteem vol variasie is dinamies en leen hom tot allerlei (onvoorsiene) ontwikkelinge. Smaak speel uiteraard ’n rol, maar daar kan met reg gevra word of dit gesond is om net een soort werk en niks anders te lees nie. Dit sal tog lei tot afstomping, indien nie tot verveling nie. Die terugkeer na voorkeurwerke is heerlik nadat mens ’n tydjie weg was, en kan vars insigte in die hand werk. Wie luister net na Bach en nie af en toe ook na die Pet Shop Boys nie? Die onderskeid tussen “hoë” en “lae” kultuur is trouens baie relatief, soos iedereen nou al weet. Dít het ek onlangs weer besef nadat ek, teen my beterwete, ’n EMI-CD, Essential Adagios: Over two hours of serene melodies, aangeskaf het. Wat kan meer “sentimenteel” wees as om ’n hele namiddag in ’n staat van perpetueel-geïnduseerde adagio te verkeer?

As ’n mens sou beweer dat middelmoot-literatuur hom in die marge bevind, moet daar duidelik gestel word ten opsigte waarvan. Middelmoot-literatuur beklee wel ’n periferale posisie teenoor die (Afrikaanse) literêre kanon, maar kan wat verkoopsyfers en populêre aanhang betref, weer reg in die sentrum staan.

Dit blyk dat middelmoot nie net hier te lande (in Afrikaans) posgevat het nie, maar ook byvoorbeeld in Nederland, waar dit deur sommige as die dood in die pot ervaar word. Herkenbaarheid en verstaanbaarheid is waaroor dit deesdae gaan, selfs ook in die tradisioneel meer elitistiese genre poësie, soos Hugo Brems (2006) in sy boek Altijd weer vogels die nesten beginnen aantoon. Hy wys daarop dat daar wel protes aangeteken word teen hierdie ontwikkeling en dat daar groeiende skeptisisme bestaan oor die vreedsame veelstemmigheid van die postmoderne tydgees wat alles – “groot”, middelmoot én “laag” – sou gedoog. Waarnemers “zien in de afwesigheid van strijd geen openheid, maar een vorm van repressieve tolerantie. Het is een verdraagzaamheid die een dieper liggende consensus maskeert omtrent de grenzen van wat in poëzie ‘natuurlijk’, legitiem en acceptabel is” (Brems 2006:653). Hierdie konsensusmodel is gerig téén nietransparante, “moeilike” poësie. Tog is daar steeds digters wat nie toegee aan toeganklikheidsdwang en goedkoop “realistiese” effekbejag nie: “De weg naar interpretatie via identificatie met de wereld buiten de tekst wordt er afgesneden” (Brems 2006:653–4).

Nie te lank gelede nie het ek self weer iets van die opmars van die meer populêre beleef in ’n voorgraadse Afrikaanse-letterkunde-klas. Oorgehaal om Etienne Leroux aan die groep bekend te stel, het ek hulle uitgevra oor hul gunsteling Afrikaanse skrywers. Die grootste deel van die klas kon hierop helaas geen antwoord verskaf nie, en dié wat wel daartoe in staat was, het met verbluffende eenstemmigheid ’n sekere liefdesverhaalskryfster, wat nie eers middelmoot-pretensies het nie, aangewys. Leroux het/had duidelik geen kans nie! ’n Kollega by Engels het anderdag raadop gekla dat die meeste studente deesdae koud gelaat word deur literêre diskoers.

Hoe kan letterkunde sinvol gedoseer word as begeestering ontbreek vir die tradisie en vernuwing (dankie TS Eliot), die idee, die vorm, die kunsgreep?

Verdomming en verglyding word trouens wêreldwyd met kommer geregistreer. John Wieners, ’n sonderling in die geledere van die sogenaamde beat poets, het al in die laat vyftigerjare iets hiervan verwoord in sy gedig “A poem for painters”. Dit begin so:

Our age bereft of nobility
How can our faces show it?
I look for love.
My lips stand out
dry and cracked with want
of it.

’n Mens wil by die lees hiervan uitroep: Ek weet hoe jy voel!

Ons eie NP Van Wyk Louw het die “aristokratiese ideaal” in ere probeer herstel, meer as ’n halfeeu vóór Rob Riemen (2009), wat in sy boek Adel van de geest (in Engels vertaal as Nobility of spirit) ’n verheffende verkenningstog van die Westerse intellektuele tradisie onderneem op die spoor van ’n kennis- en lewensideaal, soos benoem deur die (aan Goethe ontleende) titel van sy boek, wat in ons tyd byna vergete geraak het. Die kern van hierdie adel is vryheid van gees, wat by uitstek ook in die kunste tot uitdrukking kan kom.

Dit lyk my in ons tyd strategies gerade om juis eerder die sogenaamde “elitistiese” standpunt te verdedig. In hierdie verband is die dissonante estetiese tradisie, soos beskryf deur Theodor Adorno, van belang. Dit gaan hier oor progressiewe kuns wat nie “mooi” wil wees en die skone skyn wil voorhou of (help) bewaar nie, maar moedig oop staan ten opsigte van die gebeurlike, en outentiek daarop wil reageer. Dis hierdie soort kuns wat probeer ontsnap aan die standaardiserende kragte van die kultuurbedryf en die politiek.

Frank Kermode wys in sy “Secrets and narrative sequence”, wat in 1980 in Critical Inquiry gepubliseer is, daarop dat die meeste lesers selfgerusstellend agter storie, boodskap en karakter aanlees ter wille van betekenis, interpretatiewe konsensus en ’n fasade van deugsaamheid. Literêre tekste bevat egter leidrade wat wys in die rigting van alternatiewe lesings of, soos Kermode (1980) dit noem, “geheime”. Lesers behoort daarom bewus te wees van die waarde van falsifikasie, van onvoorsiene wendings en die niebevestiging van verwagte uitkomste. Werke van letterkundige waarde wek by lesers die gewaarwording, aldus Kermode (1980:18), “that the fiction under consideration is ... finding something out for us, something real”.

My standpunt wat betref “hoë”, middelmoot- en “lae” literatuur is dat die volle spektrum bestaansreg het, maar dat die “ernstiger” letterkunde kragtens die onontbeerlike rol wat dit in die samelewing te speel het, en gegewe die alomteenwoordige tekens van verglyding, aktief bevorder behoort te word. Delan Kiberd (2009) wys in sy boek Ulysses and us: The art of everyday living daarop dat James Joyce in sy beroemde maar misverstaande roman die volgende doel voor oë gehad het: “to democratise intelligence and to produce a more active, creative reader” (Kiberd 2009:12). Dis ’n projek waarin ek my sterk kan vind. Dit dien geen doel om hoë en lae kultuur teen mekaar af te speel nie. Die publiek behoort eerder opgevoed te word sodat hulle óók die vermoë kan ontwikkel om deel te neem aan die gesprek rondom progressiewe kuns, kuns wat uitdaag in terme van inhoud én vorm.

Ricoeur (1991:121) beweer in sy essay “The function of fiction in shaping reality” dat literêre verhalende tekste nie op 'n reproduktiewe wyse na die werklikheid, as bestaande gegewe, verwys nie, maar eerder op 'n produktiewe wyse. Hy gaan dus uit van “produktiewe referensie” en verstaan daaronder die vermoë van fiksie om die werklikheid te verander, "in the sense that it both 'invents' and 'discovers' it" (Ricoeur 1991:121). Die letterkunde staan dus in ’n besonder noue relasie met die moontlike, dit wat voorhande is en bly. Paul Klee het iets vergelykbaar verwoord in sy bekende uitspraak: “Art does not render the visible, it renders visible.”

Alfred Stieglitz, wat Georgia O’Keeffe en haar werk ekstensief gefotografeer het, het die skilderes vir ’n bepaalde foto in 1919 só laat poseer dat dit lyk asof sy ’n ronde objek van een van haar tekeninge, No 17, probeer pluk. Hieroor merk Susan Danly (2008:10) in haar boek Georgia O’Keeffe and the camera op:

The photograph can be seen as a modern-day reference to the ancient Greek story about a contest between two famous artists, Zeuxis and Parrhasius, to produce the most realistic painting. Zeuxis depicted a still life of grapes so real that birds pecked at the fruit. But Parrhasius painted a curtain that was even more convincing, fooling his rival, who attempted to pull the drapery aside to see what lay behind.



<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<