Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Spookpsalms vol opgewekte akoestiese melankolie


Leon-Ben Lamprecht - 2011-08-10

Spookpsalms 
Piet Botha

 

Een van die “elder statesmen” van die Suid-Afrikaanse musiektoneel, Piet Botha, het (uiteindelik!) na agt jaar weer ’n Afrikaanse album die lig laat sien. Na 2003 se Die Mamba en 1997 se ’n Suitcase vol winter (albei puik albums, as jy my vra) is Spookpsalms nou beskikbaar.

En hou dit kers vas by die ander twee? Kom ons vind uit (en ek belowe ek sal probeer om nie woordspelings met “spook” en so aan te pleeg nie).

Spookpsalms as album, het Botha in ’n onlangse onderhoud gesê, is eintlik gebore uit die eerste snit, “Sysie September”, ’n tradisionele Griekwa-liedjie.

“Ek het dit die eerste keer op Boggomsbaai gehoor. Daai song het my bygebly, maar op die internet kon ek niks kry nie. Met navorsing kom ek toe agter dit is ’n baie ou tradisionele liedjie,” vertel hy aan Beeld.

En vandaar het dit gegroei tot dié 11-snit album.

Nou ja, “Sysie” is ’n heerlike liedjie. Die ligte melodie (eintlik klink die hele album deurgaans lig – as jy AC/DC-tipe rifs soek, moet jy maar elders heen gaan) versteek ’n universele lewenswaarheid: “Dis swaar om ’n mens se kind te wees.”

Ja Piet – en die oorspronklike Griekwa-liedjieskrywer(s) – dit is soms swaar om ’n mens te wees.

Benewens die feit dat dit is waar dié album vir Botha begin het, is “Sysie September” ook die perfekte afskoppunt vir Spookpsalms, want dit vang die gevoel van die album goed vas: een van amperse opgewekte akoestiese melankolie.

As jy ooit ’n braai op ’n effens reënerige dag hou om die verjaardag van ’n afgestorwe vriend te herdenk, is dié album die regte klankbaan.

In “Richmondstraat” sing Botha: “Jou liefde, nes hierdie somer/ was maar ’n oomblik in die wind/ en nou het jou hart/ ’n ander seisoen gevind/ en haar naam is winter/ en koud is haar hart.”

“Bitterfontein” is ’n heerlike moordstorie-liedjie wat vertel van onder meer Lang Hendrik wat “verkeerde vrou gevat” het – want “toe hy weer sy hand vir haar lig/ het sy hom doodgemaak.”

“Stad sonder naam” is veral goed vervaardig. As jy fyn luister, hoor jy jy eggo’s in die agtergrond as Botha sing: “Op ’n donker pad het ek jou verloor/ in ’n vreemde stad/ terwyl die deuntjie oor en oor bly draai.”

Met “Begrafnislied” beloer Botha, wel, die begrafnis van ’n belangrike persoon: “die kameras flits aanhoudend/ selfs die predikant moet wag.”. Maar dan kom “die testament/ die groot baklei”. En later, as dit als verby is, staan die grafsteen in die reën: “waar gaan dit alles tog heen?”

Botha het ook Eugène Marais se “Winternag” vir dié album getoonset. ’n Effense Indiese klank is bespeurbaar. Ek is nie John Edward wat beweer hy kan met die dooies praat nie, so ek weet nie wat heer Marais oor dié toonsetting voel nie, maar ek hou sommer baie daarvan.

Deurgaans op Spookpsalms is Ollie Viljoen se trekklavier en orrel en Loandi Boersma se agtergrondsang in die omtes om daai genoemde melankolie te onderskraag.

Gedoriewaar, hier’s ons by die laaste paragraaf (en, soos belowe, het ek geen woordspelings soos “dié album gaan by jou spook” of “koop dié as die gees jou roer” gemaak nie). Hierdie album kan, hoewel hy vir die uwe brons kry langs Mamba en Suitcase, gemaklik voel in hulle geselskap.