Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

The Perfect Host is onwaarskynlike koue pampoen


Jacques Liebenberg - 2011-08-10

The Perfect Host
Regisseur:
Nick Tomnay
Kamerawerk: John Brawley
Rolverdeling: David Hyde Pierce, Clayne Crawford en Nathaniel Parker
Looptyd: 93 minute

 

As jy ’n hele fliek op ’n onwaarskynlike sameloop van omstandighede bou, moet jy seker maak dis ’n boeiende affêre.

Anders sit mens deurgaans en wonder of dit als die moeite werd is. En dan begin die lewe effe beklemmend raak, want die feit dat die springmielies vir ’n verandering vars en smaaklik is en daar’s ys in jou koeldrank begin na die hoogtepunt-kant van jou dag neig.

In die skrywer en regisseur Nick Tomnay se The Perfect Host is die skarnier ’n yslike stukkie toeval waaraan die storiedeur maar swaar hang. Gaan staan en dink jy te diep daaroor na, neig die fliek na ’n amper niksseggende oefening, want die toeval is net te groot. Die trekkrag rus daarom vierkant op die smal skouers van almal se gunsteling-TV-sielkundige se nog neurotieser broer.

Die hoofkarakter is die voortvlugtende bankrower John Taylor (Clayne Crawford), wat hom as ’n vriend van ’n vriend voordoen om toegang te verkry tot ’n voorstedelike huis waar hy kan skuil. Die huis behoort aan die bleeksiel Warwick Wilson (David Hyde Pierce) en hy’s maar te behulpsaam, hoewel Taylor se onverwagte teenwoordigheid sy aandete-planne in die wiele ry. Daar’s ’n slang in die gras; hoe dan anders?

Tomnay se benadering is bepaald lae-begroting en daar’s geen sagte beligting of ’n buitensporige lagie glans nie. Dié kan eerder ’n werklikheidsreeks as fiksie wees. Maar hoe dan gemaak met Wilson se gaste?

Dis goeie bemarking vir ’n onbekende fliekmaker en sy finansiers om ’n bekende akteur in ’n rol te plaas wat die antitese van sy beeld is. Doen hulle dit boonop in ’n heel ander genre is jy reeds gewaarborg van ’n mate van belangstelling. Dié natuurlike sin vir nuuskierigheid – jip, dis die rede waarom die verkeer ook staan in die baan waar die ongeluk nié gebeur het nie – is iets wat Tomnay, waarskynlik onbewus, tot die uiterste misbruik.

Die probleem is dat nóg Crawford nóg Hyde Pierce die aandag hou. Crawford se skisofreniese vertolking wek geen simpatie nie en Hyde Pierce probeer sy TV-beeld so hard nekomdraai dat sy vertolking karikatuuragtig raak. En hoe later hoe kwater. Dit help allermins dat Tomnay so halfpad deur kunsmatig simpatie vir sy karakters probeer skep. Dit kom aangeplak voor en laat die fliek nog verder na bisar oorhel.

The Perfect Host is veronderstel om ’n swart komedie te wees, maar benewens ’n uitstekende godsdiensverwysing is daar nie veel galgehumor nie en die swak verskuilde kinkels is so buitensporig dit maak nie sin nie.  Dit herinner eerder aan beter pogings in dié genre – Oxygen en Memento kom ter sprake – en lyk na ’n fliek wat om ’n gedagte en een of twee sleuteltonele – die openingsekwens en die swembadtoneel – gebou is.

Dis nooit goeie nuus wanneer mens na ’n riller kyk en die gehalte van die springmielies en koeldrank lei jou aandag af nie. Koue pampoen hoort nie saam met warm eetgoed nie.