Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Optredes | Gigs

Valiant se "Toorwoorde"


2011-08-10

Untitled Document

Valiant Swart
Rust-en-Vrede
Woensdag 24 Augustus: 19h30
Kaartjies: R130 (Sluit sop en brood in)

Die immergewilde Valiant Swart kom lê op Woensdag 24 Augustus besoek af in Durbanville vir ’n optrede by die Rust-en-Vrede Galery en Coffee Shop.

Anders as met sy gebruiklike solo-vertonings, waar hy die gehoor trakteer met sy kitaar en sy liedjies en staaltjies oor die langpad, val die klem hierdie slag op die bekendstelling van sy nuwe liriekbundel, 'Toorwoorde roep my'.

Die bundel het in Maart vanjaar verskyn en is reeds landwyd deur resensente geloof vir die manier waarop oënskynlik 'doodgewone' rock-lirieke so geslaagd as bona fide poësie aangebied word. Aanhangers en lesers stem skynbaar saam – die eerste oplaag is binne tien weke uitverkoop, sodat die bundel nou, enkele maande na die uitreik daarvan, reeds in sy tweede druk is.

Valiant se 'boekpraatjies' het intussen ook ’n gewilde deel van sy konsert-repertoire geword. Met ’n gesprekleier wat die aanvoorwerk doen, word daar in die eerste helfte van die program vertel oor die skryf- en komponeerproses, toegelig met voorlesings en die bespreking van ’n paar uitgesonderde lirieke.

Tydens die tweede helfte is dit weer Valiant soos gehore hom lank reeds ken – die blues-kitaar, die bekfluitjie en stories en liedjies wat vloei, soms hartroerend en peinsend, soms eenvoudig skreeusnaaks.

Of jy nou ’n aanhanger van sy musiek, sy rol as 'Jinx' in 'Song vir Katryn' of sy rubrieke in Rooirose is – hierdie is ’n geleentheid wat jy nie moet misloop nie. Bespreek sommer nou jou plek by Monica 021-9764691. Die vertoning begin om 19:30. Kaartjies kos R130 en sluit heerlike sop en vars brood in, en eksemplare van 'Toorwoorde roep my' sal na die tyd te koop aangebied word.