Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Onderhoude | Interviews

Thomas Mulcaire in gesprek: Sokker, surfing, kuns en álles in Afrika


Kristine Kronjé - 2011-08-03

Untitled Document

Tydens verlede jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi het Thomas Mulcaire in samewerking met Ricardo de Oliveira ’n groep Brasiliaanse surfers se reis vanaf Maputo na Elandsbaai as ’n dokumentêre film, Afrika, vervaardig. ’n Uitstalling, Light and Variable Winds With a Large Long Period Swell,wat onder andere statiese beelde uit die film insluit, het in Julie by Johannesburg se Goodman Gallery Project Space geopen. Mulcaire verduidelik hoe alles – selfs sokker, surfing, Afrika en kuns – volgens sy filosofie verwant is.

Afrika (Fanta J-Bay Gelo), 2011 Ultrachrome afdruk van hoë-definisie video 67.7 x 38.1 cm
(Foto: Met vergunning van die Goodman Gallery)
Afrika (Fanta Wipe-Out 1), 2011 Ultrachrome afdruk van hoë-definisie video 67.7 x 38.1 cm
(Foto: Met vergunning van die Goodman Gallery)
Afrika (Fanta Wipe-Out 3), 2011 Ultrachrome afdruk van hoë-definisie video 67.7 x 38.1 cm
(Foto: Met vergunning van die Goodman Gallery)
Afrika (Fanta Wipe-Out 7), 2011 Ultrachrome afdruk van hoë-definisie video 67.7 x 38.1 cm
(Foto: Met vergunning van die Goodman Gallery)

Volgens die uitstalling se persverklaring is die film Afrika op ’n stelling van Timothy Leary gebaseer wat lui dat die mensdom besig is om tot ’n suiwer estetiese toestand te ontwikkel en verder surfing as die beliggaming van hierdie proses voorhou. Hoe het hierdie projek ontstaan?

Ek woon in Itamambuca, ’n klein surf-dorpie tussen Rio en São Paulo. Ek en ’n paar vriende was besig om te kuier en ’n dinkskrum te hou oor hoe ons die volgende jaar die Wêreldbeker-sokkertoernooi kon bywoon. Een idee was om ’n bussie in die hande te kry en deur Suid-Afrika te toer. ’n Ander vriend van my wat die tydskrif Vice in São Paulo bestuur, was ook op soek na ’n idee aangaande die Wêreldbeker. Die idee van ’n groep Brasiliaanse surfers wat van Maputo tot by die Weskus toer, het dadelik aanklink gevind by hom en kort daarna het hy dié voorstel aan die Brasiliaanse MTV voorgelê.

Alhoewel surfing duidelik die hoofdoel was, kom dit voor asof julle tog ’n baie spesifieke reisplan gevolg het. Julle het onder andere ook gedenkstene besoek, die Wêreldbeker-sokkertoernooi ondersteun en betoog teen die oprigting van ’n kernkragsentrale wat dreig om van die wêreld se beste branders te verwoes. Wat was die uiteindelike oorkoepelende doel van die projek?

Alhoewel daar geen manuskrip vir die film bestaan het nie, was ek van plan om spesifieke gedenkstene as ’n huldeblyk aan kinders en hul dade in Suid-Afrika te besoek. Ek wou graag nadink oor die ’76-opstande en spesifiek die ontstaan daarvan in gedagte hou. Een van die Swartbewussynsbeweging-digters, Ingoapele Madingoane, se gedigte, “Africa my beginning”, tesame met die invloed van Frelimo tydens die onafhanklikheidswording van Mosambiek was verantwoordelik vir die aanvanklike onrus van die ’76 opstande. Van die reëls in Madingoane se gedig lees:

For a leader had emerged
From the bush to Maputo
Viva frelimo

Ek wou letterlik volgens hierdie roete spoorsny vanaf die bos tot by Maputo; dus terug vanaf Maputo tot by Soweto met die idee dat die Brasiliaanse surfers op een of ander manier vertroud sou raak met die land se geskiedenis. Namate hulle sodoende te hore sou kom van plaaslike gebeure soos die oprigting van die kernkragsentrale, kon hulle dan ook solidariteit betoon deur deelname.

Dié idee kan teruggevoer word na Leary se idee van die surfer as iemand wat die weg wys, aangesien Leary verder noem dat as jy wel ’n surfer is wat glo dat jy hierdie weg gevind het, jy as ’n voorstander moet optree deur jou lewe daaraan te wy. As surfer lewe jy dan, benewens die genot daarvan, ’n voorbeeldige lewe, aangesien surfing ’n natuurlike herontwaking en herontmoeting met die natuur veronderstel.

Soos Keats se woorde “Beauty is truth, truth beauty” bevat die film elke paar minute ’n ontploffing van skoonheid en is daar spesifieke oomblikke wat intense waarneming van die kyker verg. Die film geskiet as ʼn estetiese, amper surrealisties-estetiese reis met geopolitiese ondertone.

Die idee van julle koms na Afrika om hierdie film te skiet staar ’n teenstrydige blik op die mense van Afrika in die gesig – beide as gevaarlike derdewêreldinwoner en as hulpelose, weerlose persoon wat redding nodig het. Wat is jou siening van Afrika as ’n plek en sy mense?

Een van die goed wat ek die graagste sê is dat ek ’n Afrikaan/Afrikaner is, en in Brasilië word ek heeltemal as Afrikaan aanvaar. Hulle noem my die ou van Baiana, wat verwys na die plek waar Afrikane as slawe op plantasies gewerk het. Ek dink die grootste kompliment wat ek in Brasilië gekry het, is die feit dat ek nou as die Bahiaan gesien word in teenstelling met “o alemão”, of die Duitser, soos ek aanvanklik gesien is. Ek hou daarvan om te sê: “Ek is ’n Afrikaner”, en ek dink Afrika moet beskou word as ’n plek waar ons almal vandaan kom en wat ons almal uiteindelik met mekaar verbind. Ek sal graag die idee van die Afrikaan of “die swart man” wil problematiseer. “It’s a state of mind,” soos Steve Biko gesê het. Die keuse van die woord Afrika as titel is natuurlik ’n toespeling op “Afrika” asook Afrika soos in die Swartbewuswordingsbeweging se gebruik van die “k” in teenstelling met die Latynse taal. Verder is dit ook ʼn verwysing na slawe wat “Afrika” as ʼn naam aangeneem het. Ten spyte van die etimologiese wisselwerking gaan dit maar eintlik oor waar ons vandaan kom.

Ek dink ons ly nou onder die dade van sommige kulturele materialiste wat die Verligtingsprojek in die tagtigerjare totaal en al afgemaak het. Vandag is mense te bang om iets oor mekaar te sê. Ek wil nie voorgesê word namens wie ek mag praat, namens wie ek nie mag praat nie, en of ek slegs namens myself kan praat nie. Outonomie en outentisiteit veroorsaak groot kopsere in dié verband.

Afrika (Public Memorial, Class of ’76), 2011Ultrachrome afdruk van hoë-definisie video 67.7 x 38.1 cm
(Foto: Met vergunning van die Goodman Gallery)
Afrika (Rose Sany), 2011 Ultrachrome afdruk van hoë-definisie video 67.7 x 38.1 cm
(Foto: Met vergunning van die Goodman Gallery)
Afrika (Bright Ntuli en Mbongeni Hlengwa), 2011 
Ultrachrome afdruk van hoë-definisie video 67.7 x 38.1 cm
(Foto: Met vergunning van die Goodman Gallery)
Afrika (Khayelihle Ncgobo), 2011 

Ultrachrome afdruk van hoë-definisie video 67.7 x 38.1 cm
(Foto: Met vergunning van die Goodman Gallery)


Hoe het julle besoek aan byvoorbeeld die Hector Peterson – en Samora Machel-gedenkstene tot die algehele projek bygedra?

Ek dink die idee was bloot om Machel se seën te vra en ons hele projek op koers te stuur. Natuurlik hou die besoek ook verband met plekke in terme van Frelimo en Madingoane se invloed op die optogte, maar daar is ook ’n baie mooi gedeelte van die monument wat vertel van die persoon wat Hector Peterson dra. Die kameraadskap wat so sterk na vore kom in die foto sowel as die gedenksteen, verteenwoordig nog ’n tema van die film: die poging om ’n positiewe beeld van die mens uit te beeld. Natuurlik doen ons onmenslike dinge, en alhoewel ek glo dat almal die vermoë besit om uiterste goed en kwaad te verrig, dink ek dit is noodsaaklik dat die algehele beeld van die mens herwin word.

Die toer was uiteindelik ’n reis van mans uit verskillende generasies. Uitbeeldings van ouens op pad uit in Johannesburg na afloop van die Brasilië vs Ivoorkus-wedstryd staan teenoor figure soos Samora Machel en Hector Peterson en verteenwoordig ’n spektrum van hierdie generasies. Wat vir my interessant was, was nie die feit dat daar oor ’n taalwet opstande uitgebreek het nie, maar dat dit kinders was wat die opskudding teweeggebring het. Die tydsberekening was perfek. Dit het verwarring regoor die land gesaai en ná die aanvanklike reaksie van uitermatige beheer het die regering stadig begin toegee. Die eerste toegewings kon onder andere in sokker bespeur word, waar streng-beheerde rasse-integrasie in stadions deur die Nasionale Party toegelaat is. Dus bestaan daar ’n verwantskap tussen die Wêreldbeker en die opkoms van die professionele sokkerliga in die laat ’70’s tesame met ’n deurbraak in rasse-integrasie.

Daar word genoem dat die film verwysings bevat na die 1970 surf-film-genre. Hierdie genre het egter reeds in die 1940’s sy ontstaan gehad. Hoekom het julle gekies om spesifiek verwysings na hierdie styl en tydvak in te sluit?

Ek ag hierdie tydperk as die goue jare en met betrekking tot die styl waar niks regtig gebeur nie, was hierdie genre besonder gepas. Dit verteenwoordig die tydperk voor televisie. Op enige oomblik is die film belaai met subtiele verwysings na films soos The Morning of the Earth wat met ’n totaal belaglike drie minuut lange toneel êrens in Indonesië open. As jy egter vertroud is met die genre, sal jy onmiddellik huldeblyke aan verskillende filmmakers bespeur.

Die struktuur van die film self weerspieël The Surfer’s Journal se tydskrifformaat in die sin dat geskiedenis, tegniese aspekte, skoonheid sowel as algemene etiek gekombineer word.

Afrika (Kei 2), 2011
Ultrachrome
afdruk van hoë-definisie video 67.7 x 38.1 cm
(Foto: Met vergunning van die Goodman Gallery)
Afrika (Kei 1), 2011
Ultrachrome afdruk van hoë-definisie video 67.7 x 38.1 cm
(Foto: Met vergunning van die Goodman Gallery)
Afrika (James Ebay Sunset Move), 2011
Ultrachrome afdruk van hoë-definisie video 67.7 x 38.1 cm
Afrika (Panda Moon), 2011

Ultrachrome
afdruk van hoë-definisie video 67.7 x 38.1 cm

Die projek volg ’n uiters veelsydige, interdissiplinêre benadering. Hoe beskou jy die verwantskap tussen die toer self, die dokumentêr en die uitstalling?

Die projek funksioneer basies soos ’n moderne opera: al die verskillende dele dra by tot die geheel. Aan die een kant is die projek bloot as ’n surf-film ontwerp, om as ’n harmonieuse kombinasie van elemente te bestaan. Dit sluit alles in: van die beelde en die musiek tot die kontrakte; ook om erkenning te gee aan die regte van die surfers, asook almal wat kreatiewe insette gelewer het, maar om dit op ’n estetiese wyse te doen en letterlik die toonbeeld van alle kontrakte op te stel.

’n Ander element is om bewus te wees van wat in die tegnologie geskied. Ons het ’n drumpel bereik – enige ordentlike kamera neem in HD af en besit dus genoeg inligting om heeltemal aanvaarbare foto’s te vervaardig. ’n Mens kan eintlik nou bloot ’n film neem en later die oomblik wat jou aangegryp het, uitkies en ’n afdruk maak. Hierdie film verwesentlik hierdie idee. Van begin tot einde bestaan die film uit ongeveer 100 000 unieke beelde, waarvan elkeen slegs een keer gedruk sal word. Die ideaal sal wees dat die film êrens op een of ander tyd in verskillende dele van die wêreld of as ’n geheel sal bestaan.

Elkeen van die 100 000 beelde sal egter slegs op aanvraag gedruk word en ideaal gesproke sal elke beeld digitaal vernietig word sodra dit gedruk word. Dit dien dan weer as ’n voorbeeld van doeltreffendheid en besparing. Namate die belangstelling verhoog, sal die film vergaan.

Samewerking en betrokkenheid staan dikwels as sentrale aspekte binne jou metodologie. Watter waarde vind jy daarin om saam te werk?

Dit gebeur natuurlik en ek hou daarvan om saam te werk. Ek weet nie waarom ons anders hier is as dit nie is om te kommunikeer of net van mekaar te leer nie. Almal het iets om te bied. As dit byvoorbeeld nie vir Ricardo was nie, sou die projek in vele aspekte te kort skiet, aangesien hy benewens sy eie estetiese styl ’n ingeligte agtergrond van surf-geskiedenis tot die projek bygedra het. As ek nie sy samewerking gehad het nie, sou ek nie die projek aangepak het nie. In dié sin is dit noodsaaklik om saam te werk. Dit behels respek en vertroue. Dit is iets besonders om saam met iemand aan ’n projek te werk, en dit is presies wat so aansienlik van die erkennings in films is – almal word erkenning gegee.

Die titel van die uitstalling Light and Variable Winds with a Large Long Period Swell verwys na die ideale surf-toestande. Dien hierdie titel bloot as ’n uitdrukking van Afrika se suidkus as ’n surf-Mekka of verteenwoordig dit ’n sekere kulturele ideaal?

Deur die titel word daar subtiel respek betoon aan minimalisme en mense soos Lawrence Weiner en Liam Gillick met betrekking tot muurstukke, maar wat belangriker is, is dat dit ’n ideale toestand oordra. Die surf-voorspelling word as ’n metafoor gebruik om kommentaar te lewer op ons projek. Dit gaan oor ’n algehele bewuswording. Die titel is verkort vanaf ’n webwerf, Buoyweather.com. Ek vind hulle voorspellings die mees poëtiese – benewens die data, wat self baie interessant is, staar hierdie frase jou hoopvol in die gesig terwyl dit terselfdertyd doeltreffendheid en minimalisme nastreef.

Uit jou persoonlike ervaring, kan surfing gesien word as die beliggaming van die mensdom se ontwikkeling tot ’n suiwer estetiese toestand?

Ja, heeltemal. Al waaroor dit gaan, is om weer na die son te kyk.

 

  • Die onderhoud is op versoek van Thomas Mulcaire in Afrikaans vertaal.

 

 


Besoek: