Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Terugflits: Terrence Malick


André Crous - 2011-08-03

Untitled Document

Terrence Malick is my generasie se Greta Garbo: die amptelike kluisenaar van die filmwêreld. In sy loopbaan, wat strek vanaf 1973, het hy tot op hede nog net vyf films geregisseer. Hy fokus op verhale wat afspeel in die platteland, of op ’n plek soos die Solomon-eilande in die Stille Oseaan. Natuur is ’n baie belangrike eienskap van sy films, nes die pragbeelde wat sy kameramanne optower. Sedert sy tweede film, Days of Heaven (1978), het hy verstom met eenvoudige stories wat aangebied word op ’n manier wat onmiddellik herkenbaar is as ’n Malick-film, danksy daardie beelde.

Malick verskyn bykans nooit in die openbaar nie en het nie eens vanjaar die Cannes-filmfees bygewoon nie – waar sy nuutste film, Tree of Life, met die groot toekenning van die fees, die Goue Palm, vereer is. Maar hy was nie altyd so nie.

Hy het grootgeword as die seun van ’n oliemagnaat in Texas en het filosofie gaan studeer. Daarna is hy Oxford toe as ’n Rhodes-skolier, waar sy studies op die filosofie van Heidegger gefokus het. Daarna het hy teruggekom na die VSA en by die gesaghebbende Massachusetts Institute of Technology (MIT) begin klasgee. Hy het geïnteresseerd geraak in die filmbedryf nadat ’n medekollega hom gekry het om ’n draaiboekslypskool by te woon en in 1973, op die ouderdom van 30, is sy debuutfilm, Badlands, met ’n jong Martin Sheen en Sissy Spacek in die hoofrolle, uitgereik. Die film is byna onmiddellik as ’n meesterstuk bestempel en met die uitreiking van sy tweede film, Days of Heaven, het hy die toekenning vir beste regisseur gekry by die Cannes-filmfees.

Ná sewe jaar in die filmbedryf het hy gerus: twintig jaar lank het hy in Parys gebly voordat hy teruggekom het met The Thin Red Line, ’n oorlogprent, in 1998, en The New World, ’n uitbeelding van John Smith en Pocahontas se romanse in die nuut ontdekte Amerika, in 2005.

Op 12 Augustus word sy Tree of Life in Suid-Afrika uitgereik. Dit sal kort daarna op LitNet geresenseer word.

Hieronder verskyn kort opsommings van sy eerste vier films, in chronologiese volgorde.

  1. Badlands (1973): ’n Ander weergawe van die verhaal van Bonnie en Clyde. Hier is dit ’n onskuldige tienermeisie, vertolk deur ’n bloedjong Sissy Spacek, wat ’n jong man vreeslik aantreklik vind, selfs nadat hy haar streng pa vermoor, en hulle slaan op die vlug op die agterpaaie van die Amerikaanse platteland. Carl Orff se "Gassenhauer" het hier onlosmaaklik deel geword van Malick se film, nes Strauss se "Also Sprach Zarathustra" vandag ’n onafskeidelike deel uitmaak van Stanley Kubrick se 2001: A Space Odyssey.



  2. Days of Heaven (1978): My gunsteling Malick-film bevat ’n groot plaashuis in Texas, welige koringlande en karakters wat altyd gebaai is in verstommende kleure. Richard Gere en Brooke Adams is ’n jong paartjie wat voorgee hulle is net broer en suster, tot die ryk plaasboer, uitstekend vertolk deur Sam Shepard, op haar verlief raak. Byna die hele film speel op die plaas af, en daar is min wat gebeur, maar ons word vinnig oorweldig deur die kleure, die klanke en die boeiende ritme van dié werk.



  3. The Thin Red Line (1998): Op ’n eiland in die Stille Oseaan, tydens die Tweede Wêreldoorlog, veg die Amerikaners teen die Japannese, in ’n film wat fokus op die ontnugterende emosionele ervaring van die soldate en hul intellektuele groei in die proses eerder as gewoon die bloed en derms van soveel ander oorlogfilms. Jim Caviezel, wat deesdae meer bekend is as Jesus in The Passion of the Christ, lewer ’n bewonderenswaardige vertolking as iemand wat die kalmte van die beeldskone natuur absorbeer. Nie almal se koppie tee nie, en die storie is baie dun, maar die klanke van die Melanesiese koor sal jou vir ewig bybly.



  4. The New World (2005): Dié film, wat net 150 minute lank is, maar by tye voel of dit nooit gaan eindig nie, het alleenlik ’n bestaansreg danksy die ontsagwekkende beelde van kameraman Emmanuel Lubezki. Nes Mel Gibson twee jaar later sou doen met Apocalypto, het Malick ’n uitgestorwe taal in sy film laat herleef deur sy inheemse karakters in Algonkiaans te laat praat. Die film fokus op die Engelse ontdekkingsreisiger John Smith en sy romanse met Pocahontas, maar wys ook die koloniale brutaliteit uit.