Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Karin Brynard – ’n opwindende stem in Amsterdam


Carina van der Walt - 2011-08-03

Untitled Document

Op Woendagaand 6 Julie was dit die bekendstelling van die Nederlandse vertaling van Karin Brynard se riller, Plaasmoord. Die Nederlandse titel is Moord op Huilwater. Dit is vertaal deur Riet de Jong-Goossens. Die bekendstelling het plaasgevind in De Java Bookshop in Amsterdam. Brynard was in gesprek met haar uitgewer, Lidewyde Paris van Uitgeverij Ailantus.Sy het begrip gehad vir die vrae van die klein maar belese gehoor. Haar insig is onder andere gewortel in ’n persoonlike Nederlandse verbintenis.

Lidewyde Paris van Uitgewery Ailantus stel Karen Brynard bekend aan die gehoor.

Karin Brynard is al 18 jaar getroud met haar “Hollie” uit die Molukkestraat – hier om die draai van die boekwinkel af. Sonder Rien van Gils sou sy nooit Moord op Huilwater geskryf het nie. Paris noem Van Gils “een gezonde provocateur voor Karin”.

Brynard het daarin geslaag om oor ’n tydperk van sewe jaar ’n dik boek van 484 bladsye te skryf. Net haar man het daarvan geweet. Die proses was soos “die opvreet van ’n olifant: happie vir happie”, beskryf sy dit. In tye van moedeloosheid het Van Gils haar probeer troos met: “Jou attentiespan is te gering om een boek te schrijven. Daartoe ben je niet in staat.” Hierdie tipe woorde was dan die vonk vir ’n hernude skryfkoorsaanval.

Die woord plaasmoord is ’n polities swaarbelade woord, maar Nederlanders weet dit nie. Die gesprek was soms ’n wisselwerking tussen naïewe nuuskierigheid uit die gehoor en ingetoë kundigheid van skrywerskant; byvoorbeeld:

“Wat is een ‘plaas’?”

Brynard moes dan verduidelik dat plase baie groter is as die plotagtige boerderytjies in Nederland. Op elke plaas woon ’n klein gemeenskappie bestaande uit die eienaar en sy arbeiders plus hulle gesinne. Dis nie so volledig gemeganiseerd soos in Nederland nie.

“Zijn ze, de boeren, rijk?”

Volgens Brynard is dit juis die ironie. Nee, meestal nie.

“Waarom is de moord zo gewelddadig? Waarom kunnen ze niet gewoon schieten?”

Dat die gewelddadigheid dikwels voortkom uit frustrasies van die daders verras my ook. Een jaggeweer en R200 uit ’n plaasaanval is ’n groot ontnugtering vir hierdie swart jongmanne tussen 15 en 35 jaar. Dan begin die martelproses met kookwater en strykyster.

“Ja, de verloren generatie van Zuid-Afrika as gevolg van apartheid!” kom Paris tussenbeide met ’n relativerende opmerking en vervolg: “En is de stigma van apartheid nou weg?”

Dit was nogal ’n opportunistiese vraag vir almal wat die hedendaagse Suid-Afrikaanse werklikheid ken.

Karen saam met manlief Rien van Gils en Sharon Perlee van The Java Bookshop.

Die gehoor mag naïewe vrae stel, tog dra hulle kennis van die onteiening van plase in Zimbabwe. Hulle wou weet hoe verskil dit van die situasie in Suid-Afrika. Uit Brynard se stewige antwoord blyk dit dat sy haar onderwerp, plaasmoord, deur en deur ken. Haar joernalistieke agtergrond is duidelik. As joernalis het sy altyd veilig gevoel, want wat sy geskryf het, kon sy met feite ondersteun. Fiksie voel vir haar soos ’n “duimsuiery”.

Maar nie alles in Moord op Huilwater is fiksie nie, want die verhaallyn van die Griekwas is werklikheid. Brynard verduidelik dat hierdie inheemse groep (wat ontstaan het uit die Khoisan, die Namma en die Boere) in die omgewing van Huilwater in die Noord-Kaap gewoon het. Alhoewel die Griekwas die eerste groep was met hulle eie geskrewe wette, het hulle byna heeltemal verdwyn vanweë apartheid. Met die vertaling van Griekwa-Afrikaans het Riet de Jong-Goossens moeite gehad.

“Ik kan je wel vertellen wat me de meeste moeite heeft gekost: namelijk het in aanvaardbaar Nederlands overbrengen van wat jij noemt Griekwa-Afrikaans. Vanuit mijn optiek moet het ongewoon klinken in het Nederlands, maar ik wil niet voor een dialect kiezen, zoals bijvoorbeeld Surinaams. Dat vind ik oneigenlijk. Ik probeer daarom zoveel mogelijk spreektaal te gebruiken, een taal die je normaal niet in een geschreven tekst neerzet. De vrouwen op Huilwater en hun familie gebruiken zo’n taal.”

Dis nou ’n tendens dat Nederlandse vertalers aan die titels van boeke verander, maar dis nie altyd geregverdig nie. In de geval van Plaasmoord was dit egter wél nodig. Behalwe dat die konsep plaas hier in Nederland iets heeltemal anders is as in Suid-Afrika, bestaan die woord plaas ook nie in die Nederlandse woordeskat nie. Dit word ’n boerderij genoem en plaats beteken “plek”. Die vertaling van moord was nie ’n probleem nie.

Met Moord op Huilwater voeg Brynard haar stem by dié van haar gunsteling-speurverhaalskrywers wat ook in Nederlands vertaal is: die Skot Ian Rankin en die Amerikaner Michael Connoley. Sy het al die boeke van Deon Meyer gelees. En terwyl die Suid-Afrikaanse lesers haar vergelyk met die Sweedse skrywer Stieg Larsson, vergelyk die Nederlandse lesers haar met sy landgenoot Henning Mankell. Die Wallander-reeks van Mankell het uit nege boeke bestaan. Brynard se tweede speurverhaal rondom ’n moord met speurder Beeslaar is klaar, al maak die sukses van Moord op Huilwater haar baie bang. Die derde een is in die pyplyn. Is hier sprake van ’n Beeslaar-reeks?

Die jongste toevoeging tot die internasionale mark van speurromanskrywers is ’n lang, wit Afrikaanse vrou. Dis nog te vroeg om ’n vergelyking te tref met Agatha Christie, maar Karin Brynard se stem is opwindend in ’n oorwegend mannewêreld.