Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Poësie | Poetry > Afrikaans > Ongepubliseerde digters

die skip in die bottel is ’n seebrief


Izak van Rensburg - 2011-08-02

Untitled Document die skip in die bottel is ’n seebrief

ek het vir jou
’n gedig gemaak
met balsahoutwoorde
en vasgegomde metafore
in sagte linne toegedraai,
die sinne uit ongetemde
bokseil gesny

’n skouspelagtige bootjie
sonder swaar kettings
of doelbewuste
ankers

ek het die skaalmodel
(want ’n brief sou veel lywiger wees)
in ’n glasbottel teen middernag te water gelaat
op ’n wit strand in Afrika net vir ingeval
die dobberende skippie sou sink

nou wag ek gedwee dat die verse,
slierte wapperende lakens in die nat wind,
soos slange teen die rotshange
van my wange sal kom
skuiling soek,

of!

dat jy my seilskip sal kan lees
as hy uitspoel daar by jou en jy die bottel
teen jou hart gebreek kan kry

&
jy die getroue replika
van my liefde veilig sal bewaar,
tot ons eendag weer onafskeidbaar
bymekaar mag wees.