Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans

Sonja se nighty


Izak de Vries - 2011-08-02

Untitled Document Hy draf nou al vier jaar hier deur townships van Venda. Drie van daardie jare se alternerende weeksdae behoort om 05h30 aan Sonja.

Hy onthou nog die eerste keer. Dit was ’n koue dag en die mis het oor die vallei gelê. Daar, voor die son nog op is, staan sy in haar uitgewaste nighty. In haar linkerhand hou sy ’n 25 liter drom waarin die water stroom uit ’n gemeenskaplike kraan se bek. Die regterhand keer onwillekeurig oor die borste, haar bene knak en vou saam om enige ander deel van die lyf mooi weg te hou van sy oë.

Hy hou haar in sy blik. Die mooi lyf is een rede, die feit dat hy geen onderklere opmerk nie, ’n tweede, maar dis die beweging, die hand voor die borste, die vou van die bene wat maak dat sy hom fassineer. Daar is iets onsterflik, iets Kunderiaans daaraan, maar hy stop nie, glimlag net vir haar en draf aan.

Later daardie aand kruip hy stewig teen sy vrou se kaal boudjies in, sluit sy hand om haar bors en vertel haar van die meisie.

 “Hoekom het sy jou opgeval?”

 “Ek weet nie.”

“Jy het al heelwat kaalborsvroue gesien. Selfs daardie tienertjies in die leivoor, onthou jy?”

“Ja.”

“Ek is nou nuuskierig oor die girl.”

Hy sou sy vrou ’n antwoord skuld, maar het twee dae later opsetlik weer daar verbygedraf. Sy was nie daar nie.

Die Maandag was hy vroeg. Sy was nog in die deur toe hy verbykom.

Die Woensdag was sy nie daar nie, ook nie die Vrydag nie.

Die Maandag was sy op haar pos, die water aan die stroom.

Hierdie keer lyk dit of sy hom verwag. Weer vou sy haar hande voor haar borste, en weer knak sy haar knieë. Dié keer is dit egter ’n bewuste daad.
Woensdag is hy vroeër, sy kom uitgedraf, die arms eers los, die borste huppelend. Dan onthou sy, vou weer ’n arm voor die tweeling en druk die leë drom voor haar geslag.

Vrydag is sy voor die kraan, die geel houer is vol. Sy wag vir hom. Hy waai al van ver, maar sy kyk net. Wanneer hy nader kom, buig haar knieë weer en daardie een hand beskerm die twee bultjies.

So ontstaan ’n roetine. Meestal wag sy by die kraan, die drom vol, of die drom aan die vol word.

Hy begin sy roetine rondom haar bou, vind die meisie se getrouheid fassinerend. Nooit maak sy oogkontak nie, nooit groet sy terug nie, maar baie oggende staan sy daar en bibber. Haar hele lyf is immers kaal, behalwe vir die verspotte klein naghemp.

Die weke word maande en steeds hou die ritueel aan. Hy draf verby, sy staan daar by haar kraan. As die houer reeds vol is wanneer hy opdaag kan hy maar omkyk, sy tel dit onmiddellik op en dra dit na die hut – sodra hy verby is.

Sy vrou bly op hoogte, vra feitlik elke oggend. Later vra sy nie meer met haar stem nie, maar wel met haar oë. Hy antwoord haar later voor sy hoef te vra.

Die meisie word deel van hulle lewe.

Die oggende word warmer, die son kom vroeër op en die styfheid in die kind se houding verdwyn. Sy steek nie meer haar lyf weg nie, staan net na hom en kyk as hy verbykom. Wanneer hy te naby kom slaan sy haar oë neer, soos Vendameisies nog geleer word, maar loer wel van onder haar wenkbroue.

Hy ken later haar lyf, beskryf dit deeglik aan sy wederhelf.

“Dis absurd,” sê hy een oggend vir sy vrou.

“Wat.”

“Die feit dat ek my lewe inrig rondom haar.”

“Hoekom?”

En daar het sy hom. Hy weet dis absurd, maar iets dwing hom om daardie afspraak na te kom.

“Hoekom?” vra sy nugter vrou weer.

“Wel. Hoekom moet ek my roetine aanpas by haar?”

“Hoekom moet jy agtuur in die oggend by die werk wees?” “O … Ja.”

“Hoekom gaan draf jy elke tweede oggend en nie meer nie?”

“Tyd.”

“Hoekom bring jy elke oggend vir my koffie in die bed?” Sulke tye verstaan hy weer hoekom hy hierdie mens getrou het. “Omdat jy my nou en dan beloon, dis al.”

Sy loer na hom, trek skewe bek en sê: “Skimp jy?”

“Ja.”

“Nou maar kom dan.”

Sy is sag en warm. Terwyl hy stadig en saggies aan haar stoot, sê hy: “Dis egter my punt. Ek en jy het iets aan. By die werk het ek ’n kontrak. Mind you, ek en jy het ook een. Ek en sy het, wel niks.”

“Nee, jy lieg nou. Vandat jy haar die eerste keer gesien het, is daar iets tussen julle. Aanvanklik is ek seker daarvan dat haar nighty jou gelok het, nou is dit die feit dat iemand wat jy nie ken nie, genoeg omgee vir jou om selfs op die koudste oggend amper kaal vir jou te wag. Dis iets. Dis baie.”

“Presies. Maar dis dalk die punt. Wat is daarin vir haar?”

“Die feit dat jy bereid is om drie maal ’n week jou roetine by haar aan te pas.”

“O.”

Toe word sy Sonja.

Een oggend in die vroeë somer bars ’n tropiese storm uit. Sulke oggende gaan draf hy gewoonlik nie, maar sy vrou het wakkergeword. Sy hoor hoe hy die wekker dooddruk.

“Gaan jy?” “Ek weet nie.”

“Sy gaan vir jou wag.”

“Jeepers.” “Jeepers wat?” “Jy lees my gedagtes.”

“Nee, ek is al ’n paar jaar met jou getroud.”

Hy trek ou tekkies aan, ’n ligte frokkie en geen onderbroek nie. Hierdie weer kan maak dat jy skaaf.

“Ek is trots op jou,” sê sy.

Die oomblik toe hy uitstap, is hy deurdrenk. Dis nie druppels wat jou tref nie, dis strome water. Die ou tekkies is oombliklik pap. Stadiger as gewoonlik draf hy, doen ook ’n ander roete, maar maak seker dat hy ’n minuut of so voor 05h30 in die paadjie afdraai.

Sy Polly Shorts broekie is totaal en al deurskynend van die water. Sy penis is ’n simpel klein garnaaltjie wat opsigtelik ligter is as die donker skaamhaar daarom heen. O well.

Sy is daar, hurk vandag met albei arms voor haar borste, steek haar onderlyf weg agter die geel drom.

Dan staan sy op en laat sak haar arms. Net soos sy klere, is haar nighty deurskynend nat. Vir die eerste keer lag sy, kyk sy hom ’n paar oomblikke in die oë.
Twee mense, vasgevang in ’n roetine waarvan hulle die begin ken, die einde nie, ontbloot hulself momentaal aan mekaar danksy hemelse seëninge.

Hy vertel vir sy vrou.

“Wat is haar naam?”

“Ek weet nie.” 

Twee dae later stop hy en vra. Sy slaan gewoon weer haar oë neer, maar steek nie meer iets weg nie, beduie ’n oomblik met haar hand na die pondok en gryp en die groot kan water.

Hy begin weer draf, kyk net een keer om en sien hoe sy effens benoud hardloop na die pondok, die smal lyfie stuwend teen die groot, geel drom.
“Sy wil nie sê wat haar naam is nie,” sê hy later vir sy vrou.

“Wat dink jy behoort haar naam te wees?” “Hoe bedoel jy?” “Jy weet hoe sy lyk. Mense gee dikwels byname, of name, na aanleiding van omstandighede. Jy kan seker aan haar ook ’n naam gee? Dan kan ons na haar verwys. Dan weet ons wie sy is, al is dit ook ons eie, privaat naam vir haar.”

Hy dink lank, sy vrou sê dat hy sy pap moet eet, dit word koud.

“Sonja. Ek wil haar Sonja noem.”

“Hoekom Sonja? Dis nie ’n Vendanaam nie?” “Ja, maar die son kom op wanneer ek haar sien.”

“Nee, jy sien haar as die son opkom. In die winter was dit nog donker, in hoogsomer sal die son al lank op wees as jy by haar verbydraf.”

“Almiskie. Die son kom elke keer op, en sy is elke keer daar.”

Sonja doen hom goed. In die ou dae sou hy dalk nog ingelê het na ’n laatnag voor die rekenaar, maar nou is daar ’n meisie in ’n nighty wat vir hom wag.

Hy word fiks en besluit om net na nuwejaar, gedurende sy vakansie, ’n marathon te gaan hardloop in Gauteng.

Hulle sou wel en of ander tyd met vakansie moes gaan. Hy en sy vrou werk albei te hard, en die naweke wat hulle wegglip is nie genoeg om ’n ou se batterye weer heeltemal vol te laai nie.

Hoe gaan hy dit aan Sonja verduidelik? Hoe goed haar Engels is, weet hy nie, en sy Venda is swak.

Hy stop die laaste oggend voor sy vertrek, sy skrik half, hy fluister: “Ndi holidene.”

Opnuut is hy skaam vir sy ongrammatikale manier van praat. Woorde volg hy al, maar die taal is nog vreemd. Dit lyk of sy verstaan. 

“I shall not be here next week.”

Sy skud haar kop.

“I shall not come. Three weeks.”

Weer skud sy haar kop.

“Ndi holidene. Ndi not tangana. I not come. Three weeks.”

Sy frons, glimlag dan en sê: “I wait.”

Hy knik, en draf verder.

Na die vakansie kan hy werklik nie wag om te sien of Sonja daar sal wees nie. 

Die Maandagoggend is hy voor die wekker wakker en beplan sy roete mooi, stop later ’n minuut of so, draf dan weer. Halfses wil hy daar wees.

Van ver af sien hy haar sit op die geel drom. Sy kyk ander pad, maar ruk om toe sy voetslae in die pad afkom. Haar lyf vlieg op, haar mond val oop in ’n reuse glimlag, haar hande lig albei op in ’n groet.

Hy waai ook. Verbeel hy hom of raak die rokkie te klein?

Drie weke se nie sien nie, maak dat jy anders kyk en dit wil al lyk asof sy ’n magie kry?

“Hallo,” fluister hy.

“Hallo,” fluister sy en glimlag weer.

“Ek dink Sonja verwag,” sê hy vir sy vrou. “Daardie rokkie begin baie knap sit.”

Dit blyk inderdaad dat hy korrek is. Die rokkie span stywer en stywer en daardie magie raak al groter. Sonja is nog blote kind en die klein lyfie lyk komieklik agter die groterwordende boep.

Aanvanklik rem sy die rokkie af oor haar geslag, later knoop sy ’n ou handdoek om haar onderlyf.

Dit word weer winter en die temperatuur val, maar hulle ontmoet nog elke oggend.

Hy kry kwaai griep en toe die wekker die oggend afgaan, sê sy vrou kwaai dat hy nêrens heen gaan nie.

“Maar wat van Sonja?” “Sy sal wag.”

“Ek het nie vir haar gesê nie.”

“Jy kán nie gaan hardloop nie.”

“Wat van …”

“Sy sal daar wees en verstaan. Sit af die lig.”

Daardie Maandag gaan draf hy weer. Sonja lyk bly om hom te sien.

“I sick. Ndi vhulwadze,” fluister hy. Sy lag geluidloos, fluister: “I wait.”

Een oggend in die laat winter is sy nie daar nie. Hy raai wat aangaan en inderdaad, twee dae later is sy terug met ’n plat magie en geen handdoek om die onderlyf nie.

Hy stop ’n oomblik: “I baby,” sê sy en wys na die hut.

Hy knik, glimlag vir haar en hardloop aan.

Sy wys die kind nooit vir hom nie, en hulle praat selde.

In September gaan hy weer ’n week lank weg, fluister weer vir haar van sy vakansie. Sy fluister, voorspelbaar, terug: “I wait.”

Na die baba het sy beslis gewig opgetel. Die rokkie raak eintlik onvoldoende, maar met die reënseisoen wat weer begin, sien hulle genoeg van mekaar se lywe dat sy nie meer rem of wegsteek nie. 

Teen Desember vra hy sy vrou. “Wat daarvan as ek vir haar ’n nuwe nighty gee vir Kersfees?” “Blink gedagte,” sê sy en bied aan om dit namens hom te gaan koop. Hulle begin skat hoe groot dit moet wees. Sy vrou is lank, amper so lank so hy, maar Sonja is ’n klein mensie.

Sy kom terug met ’n nagrokkie, feitlik identies aan die een wat Sonja dra, maar wit, nuut en sag.

Hulle draai dit toe en hy is amper meer opgewonde oor dié pakkie as oor die klein verrassinkie wat hy vir sy vrou gekoop het.

Vroegoggend is hy uit op Kersdag. Hy draf stadig, doen ’n korter roete om nie die pakkie té nat te sweet nie, en om 05h30 is hy daar. Sy glimlag, hy stop. “Merry Christmas,” fluister hy en hou die geskenk na haar uit. Haar oë rek, loer daarna, skud dan net moeg haar kop en wys na die pondok. Sy tel die drom op en begin aansukkel na die karige woning.

Verslae draf hy terug, die pakkie nou ongemaklik in sy hand.

Sy vrou ken hom al, hoor aan sy voetstappe dat alles nie pluis is nie. “Wat’s dit?” roep sy. “Wat het gebeur?”

Hy sit die pakkie op die voetenent van die bed neer, vertel vir haar.

“My arme man! Jy het so uitgesien daarna!”

Sy klim slaapwarm uit die bed, druk haar sagte, kaal lyf teen sy natgeswete liggaam. 

Hy glimlag, soen haar, kniel langs die bed en vat die klein pakkie raak wat gisteraand daar geplant is.

Sy is verruk toe die silwer koptiese kruisies aan hulle hakies sigbaar word en druk hom weer vas, gaan klim saam met hom onder die stort, speel ’n bietjie met sy lyf, maar besef dat sy gedagtes by die ongeopende pakkie op die bed is – of liewer by die persoon wat dit toekom.

Dit word ’n warm dag en hulle besluit om eers teen die aand hulle ete te eet. Sy het belowe om iets spesiaal te kook.

Hulle lê saam en lees, kyk na die voëls in die enorme tuin, vang selfs ’n middagslapie, maar hy is rusteloos.

Teen laatmiddag stuur sy hom na vriende in Levubu. Sy het ’n rukkie met hulle oor die foon gepraat om geseënde Kersfees te sê, en vra hom toe om soheentoe te gaan vir ’n mandjie groente wat hulle beloof het. Vir die vriende gee sy ’n bottel wyn saam.

Levubu is ver van Shayandima waar hulle bly, ’n goeie vyf en twintig kilometer. Sy laat hom beloof om teen ’n sekere tyd terug te wees.

Teen die afgesproke uur is hy terug. Sy wag hom in, omring deur die heerlikste kosgeure, maar sy dra net Sonja se nighthy en die paar koptiese kruisies in haar ore.

Hy lag, want sy lyk soos ’n stout dogtertjie. Wanneer hy haar vashou, is daar die moontlikheid van parfuum.

Die nighty is hopeloos te kort en vreeslik styf.

Hy reageer op haar tong wat in sy kies beland, tel haar later op die kombuistafel en stoot sy eie tong onder in haar in.

Dringend ry hy haar daar, haar bene later oor sy skouers en wanneer sy begin skree, tel hy die pas op en stort die oggend se spanning rukkend in haar lyf.

Na ’n lang skuimbad, haal sy ’n gebakte hoender en goue aartappels uit die oond. Kaal-kaal eet hulle op die sitkamervloer – een van die koelste plekke in die huis en gaan vroeg slaap.

Die Maandag is Sonja weer op haar pos, die glimlag groot, die nighty te klein en stukkend.

Sonja is nou onherroeplik ’n deel van hulle lewe. Nie net reël sy die oggenddrafsessies nie, maar sy vrou haal elke nou en dan daardie nighty uit. Partykeer trek sy dit aan, ander oggende lê dit net aan die voetenent van die bed as hy by die huis kom. Dan klim hy natgesweet onder die lakens in en trek later saam met haar die beddegoed af voor hulle onder die stort klim.

Party aande as hy laat werk, lê die wit nigthy aan sy kant sodat hy haar moet wakker maak en homself ledig in haar.

Een maal is sy weg op ’n kongres en toe hy die aand in die bed klim, lê die sagte nighty aan haar kant, sodat hy sy hand daarop kan laat rus.

Oor die volgende twee jaar swel Sonja se maag weer en verdwyn weer. Die nighty word stukkender en hopeloser as ooit te vore. Deesdae speel daar soms ’n klein, kaal seuntjie voor haar deur.

Haar glimlag verander nie, en dis wat tel.

Tot eenkeer. Van ver af kan hy sien daar’s fout en hy versnel. Nie net is sy vandag heeltemal kaal nie, maar hy kan op afstand sien hy sy lyk sleg.

Sonder om enige poging aan te wend om haarself te bedek, sit sy daar met haar kaal, flenters lyf en kyk na die grond. Haar hele gesig is een pappery geslaan. Hy stop, sy skud haar kop.

Magteloos staan hy daar.

“Dokotela,” fluister hy en beduie na die hospitaal. “Isisbed ...” maar byt die woord af. Dis Zoeloe, nie Venda nie. “Dokotela,” fluister hy dan weer, ontmag deur ’n gebrek aan taal en die hele stelsel wat hom nie toelaat om haar te omarm en weg te lei, of met die motor te kom haal nie.

Sy wikkel net haar skouers.

Twee oggende later sit sy weer daar, kaal langs die kraan op die geel drom. Hy laat ’n tienrandnoot val, dan nog een, en nog een. Hy glimlag net soos altyd en laat nog sewe val soos hy by haar verbyhardloop. Wanneer hy omkyk, sien hy hoe sy skarrel om hulle bymekaar te maak.

“Sy het dit aanvaar,” sê hy vir sy vrou. “En haar gesig lyk beter.”

Vrydagoggend dra sy ’n splinternuwe, hopeloos te groot, pienk nighty. Daar is ’n beertjie op, en die woorde: I love you.

Hy glimlag en wys met sy duim hy hou daarvan. Uit haar geswelde gesig breek ’n rooi glimlag waarin twee tande makeer.

’n Paar weke later sê hy vir sy vrou, wat weer Sonja se Kersfeesnighty aanhet: “Ek moet erken, ek is half spyt sy het so ’n grote gekoop.”

Die volgende Kersfees laat val hy weer ’n paar note, fluister “Happy Christmas” en sien hoe sy hulle optel wanneer hy verby is.

Aan alle ding kom ’n einde, so ook aan die man se ballingskap in die bosuniversiteit waar hy werk.

Hy aanvaar ’n pos in die Kaap, en almal is oorstelp van vreugde.

Sy vrou is al een wat sien hoe hy, ten spyte van sy vreugde, begin dwaal deur die tuin wat hy so hard gerestoureer het. Hy het sy bes gedoen om weer die natuurlike bos te laat teruggroei, het die tuinier geleer om nie die hele tuin te bewerk nie, om nie die blare van die kaal kolle af op te tel nie en om bome en bosse wat voëls lok, te los.

Hy het self heelwat struike aangeplant en baie mooi gesoebat by die bure om nie al die lang, inheemse grasse op die some van hulle gedeelde erwe, af te brand nie.

Hy raak aan die blare van die struike wat hy geplant het, sit ure en staar na die kolpensies en die Heuglinse janfrederike wat oor die jare mak genoeg geword het om in die voëlbadjie te kom speel, loop op en af met sy kaal voete oor die sagte mat blare wat die voorheen blote stuk grond begin herstel het.

Sy weet hy dink ook aan Sonja.

Party oggende is hy afgetrokke as hy van sy drafsessie af kom, en selfs wanneer sy hom dan begin verlei en hy haar tone laat krul van lekkerte, kan sy sien dat hy eintlik met sy kop op ’n ander plek is.

Twee dae voor hulle sou vertrek, stop hy by Sonja. “I am going away,” fluister hy.

Sy knik en sê: “I wait.”

“No, I don’t come back.”

“I wait.”

“I not come back.”

“I wait.”

Hy knik, haal geld uit sy broek uit. Die keer gee hy dit eenvoudig vir haar. Sy aanvaar dit.

Hulle sou baie vroeg die Woensdag ry, maar hy pleit by sy vrou om hom toe te laat om weer vir Sonja te gaan sien.

Sy tuinier, wat taamlik na aan Sonja bly en ook ’n Vendaspreker is, word gevra om halfses gereed te wees. Hy neem die motor, tel die tuinier op, en stop by haar hut.

Sonja is op haar pos.

Sy is duidelik verward om hom só te sien.

Selfbewus vou sy haar arms om die nighty. Saggies klim albei uit en loop na haar toe. Die tuinier sê die nodige aan Sonja.

Lank sit sy sonder om ’n woord te sê.

“She has never been away. She does not understand,” sê die tuiner na ’n rukkie. Wanneer hulle omdraai motor toe, fluister sy: “I wait.”

 

Uit die LitNet-argief.