Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Bloedoffers vir spraakvryheid


Jason Lloyd - 2011-08-02

Untitled Document

Wat is die ergste wat met ’n skrywer of digter kan gebeur?

Natuurlik sal menige mense die maklike en ook baie hartseer antwoord – die dood – as antwoord gee. In baie gevalle is die dood egter die beste uitweg. Dit spaar die menslike siel aanhoudende pyn en vernedering. Ook marteling, wat soms in die afwesigheid van die dood onuitwisbare merke en skade laat.

Met die moontlike gevolge van die konsep-wetsontwerp op die beskerming van inligting en die dreigende  mediatribunaal in die agterkop het die uitsny van die tong van ’n Jemense digter in Mei skrywers veral in Suid-Afrika met skok gelaat.

Skokfoto’s van ’n erg bebloede Walid Mohamed Ahmed al-Ramisi, ’n digter van Jemen, is opgeteken as ’n “Bloedoffer vir vryheid van spraak”. Sy tong is uitgesny omdat sy digterlike pen gedurf het om te kritiseer. Twee derdes van Al-Ramisi se tong is deur aanvallers – wat hom daarvan beskuldig het dat hy gedigte geskryf het wat krities jeens die regime in Jemen is – afgesny.

Veral die foto’s op Google het my erg geskok en ek moet toegee: ek het gewens die dood sou liewer gepas gewees het, om sodoende ’n einde aan die onnodige pyn en lyding van die vreeslose digter te bring.

Maar Al-Ramisi het bly leef. Die erge pyn het erger geword. Sy spraak het begin kwyn.  Dit met net een derde van sy oorspronklike tong.

Op eie bodem het die debat rondom die wetsontwerp op die beskerming van inligting en die komende(?) mediatribunaal reeds fel gewoed. Ek hoop dat Al-Ramisi se pyn en lyding tot herbesinning oor die instelling van die wet en die mediatribunaal sal lei. Die eerste vryheid van enige grondwetlike demokrasie is immers mediavryheid, en spraakvryheid in die algemeen. Sonder dié burgerlike vryhede kan daar nie demokrasie wees nie.

Sensuur, gedeeltelike sensuur, tronkstraf of moontlike gewelddadige aanvalle teen skrywers is nie alleen erge gevare vir skrywers nie.

Wat as ’n skrywer se rekenaar die gees gee of gesteel word? Of sy of haar handgeskrywe gedigte, kortverhale of manuskrip verlore raak of gesteel word? Ek onthou hoe Jakes Gerwel in ’n onderhoud vertel het hoe sy handgeskrewe kortverhale op die trein tussen Uitenhage en Somerset-Oos – toe hy nog n kosskoolleerling was – voete gekry het. Hy het nooit weer kreatief geskryf nie.

Skrywers soos Max du Preez weet hoe dit voel as jou rekenaar gesteel word. Die “gryp-steel” van Du Preez se Apple Mac-skootrekenaar was in April so pynlik dat hy geskreeu het: “Hou die rekenaar, gee net asseblief net die inligting daarop terug!”

In 2005 het ek op pad KKNK toe op Steytlerville gestop om ’n koffietjie te drink. Toe ek uit die winkel kom, het ’n man met ’n bottel wyn wat in ’n gedeelte van Die Burger toegedraai was, voor my gestaan. Ek kon my foto duidelik by die “Van Alle Kante”-rubriek sien. Daarna sou die man ’n zol – met die gedeelte waarop my foto was – draai. Eina.