Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Heeltemal te veel toevallighede in The Perfect Host


André Crous - 2011-07-29

Regisseur: Nick Tomnay

Kamerawerk: John Brawley

Rolverdeling: David Hyde Pierce, Clayne Crawford

Looptyd: 90 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 15 Julie 2011

The Perfect Host is een van daardie onafhanklike galgkomedies wat dikwels kortstondige oproer veroorsaak voordat ons agterkom watter gate die storie eintlik het. Hierdie keer speel die grootste deel van die film in ’n baie elegante huis in ’n woonbuurt van Los Angeles af, waar ’n krimineel opdaag nadat hy ’n bank beroof het, en aanbly vir ete – teen sy wil.

Die storie ruik al van die begin af ’n bietjie verdag en hoewel ons kan sit en wag om meer uit te vind, is daar bitter min onder die oppervlak. Die jong John Taylor, wat op een of ander manier in die voet gewond is, kry ’n poskaart van ene Julia in die posbus, met die Sydney Operahuis op die voorkant, en doen hom voor as ’n vriend van hierdie meisie. Die eienaar van die huis, Warwick, laat John binnekom, maar noem dat hy binnekort gaste vir aandete verwag. John kom binne en dan begin die poppe dans, op ’n vreeslik onkreatiewe manier, want sien, die poppe is almal denkbeeldig.

Die grootste probleem lê egter by daardie eerste verskyning van John op die drumpel van Warwick se woning. Sover ek kon agterkom, is daar absoluut geen rede waarom hy so ’n dom besluit sou maak om enigsins na ’n vreemdeling se huis te gaan nie. En hierdie is ’n beswaar wat ek heeltyd gehad het. Hoewel ons vinnig agterkom dat daar niks ernstigs gaan gebeur nie (ons kan dit taamlik maklik aflei uit die toneel waar Warwick homself op film met ’n mes sny terwyl Grieg se Peer Gynt-musiek vreeslik lekker op die klankbaan speel), bied die film geen element van ’n riller aan ons nie. Daar is nooit juis enige gevaar nie en selfs al is daar hier en daar ’n stukkie dialoog wat nogal oulik is, kan selfs David Hyde Pierce – ja, dis Niles van Frasier – ook net soveel keer soos ’n kranksinnige optree en ronddans voordat ons begin gaap.

The Perfect Host se voorprent het die film laat lyk soos ’n uitstekende, subtiele komedie, maar dit is eintlik net ’n spotprent met heeltemal te veel toevallighede.