Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Skoonheid dui op ’n nuwe rigting in die Suid-Afrikaanse filmbedryf


André Crous - 2011-07-29

Regisseur: Oliver Hermanus

Kamerawerk: Jamie Ramsay

Rolverdeling: Deon Lotz, Charlie Keegan, Michelle Scott

Looptyd: 95 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 5 Augustus 2011

Wanneer skrywers, digters, filmmakers, ensovoorts ’n groot slag slaan met hul debuut, dan is die vrees gewoonlik dat hul volgende werk, bekend as "Die Tweede", nie sal kan voldoen aan die verwagtinge wat geskep is nie. Oliver Hermanus se eerste film, Shirley Adams, vrygestel in Suid-Afrika in 2010, was ’n baie fyn uitbeelding van ’n ma op die Kaapse Vlakte wat na haar tienerseun omsien nadat hy verlam is deur ’n verdwaalde koeël. Die film was uitsonderlik en het vars lug geblaas in die land se min of meer dooie filmbedryf die vorige aantal jare.

In Hermanus se opvolgprent, Skoonheid, wat in April ’n bemarkingshupstoot gekry het toe dit die eerste vollengte Afrikaanse film geword het wat by die Cannes-filmfees wys, is sy fokus weereens op ’n karakter vir wie daar geen vreugdevolle uitweg blyk te wees nie. Die hoofkarakter, Francois van Heerden, is die bestuurder van ’n maatskappy wat handel in hout, en woon op Bloemfontein saam met sy vrou en twee dogters wat op die punt staan om die huis te verlaat. By sy een dogter se troue, die eerste toneel van die film, sien hy ’n familievriend se seun, Christiaan Roodt, raak en is duidelik bietjie versot op die jong man.

Ons word uit die staanspoor in Francois se skoene geplaas: tydens die eerste skoot van die film, wat ’n hele ruk duur, kom ons stadig agter dat dit sý perspektief is. Dit is ’n pragtige skoot waarin die regisseur sy tyd neem om Christiaan deur middel van ’n zoem (’n uitstekende keuse, aangesien die kyker en Francois nie fisies nader beweeg nie) aan ons te onthul. In teenstelling met baie ander skote in die film wat lank duur en vanuit ’n statiese posisie verfilm is, is daar vloei en rigting in hierdie geval, wat dit een van die visuele hoogtepunte van die film maak.

Verder is Hermanus ook vindingryk deur Christiaan na die kamera te laat kyk wanneer ons in Francois se posisie is en hierdie dapperheid behaal groot sukses, maar so ’n aanbieding word dikwels op ’n byna arbitrêre manier gedoen: in sommige tonele kyk Christiaan direk na die kamera en in ander tonele kyk hy eerder net-net verby die kamera. Wat hierdie toertjie uiteindelik nog meer verwarrend maak, is dat ander karakters in een van die film se laaste tonele skielik ook direk in die kamera in begin kyk. Ons kan ons afvra of hulle ’n plaasvervanger vir Christiaan word, maar sulke spekulasie beantwoord nie die kernvraag oor die sporadiese verskynsel van hierdie onkonvensionele blik nie.

In sy rol as ’n middeljarige Afrikaanse gesinsman is Deon Lotz se vertolking van Francois van Heerden nie ver van sy onlangse karakter in Roepman nie, maar hier word ’n paar dinge van die akteur verwag wat selfs die Roepman sou laat steier het. Francois van Heerden, Lotz se karakter, verskyn in elke liewe toneel en is ons gids deur sy wêreld, wat besig is om hom onder te kry, maar hy wys nie sommer emosie nie – hoewel een uitbarsting oor die telefoon sorg vir ’n wonderlike oomblik. Lotz is uitstekend in ’n rol wat van hom vereis om die hele film lank ’n geheim te dra waarvan net ons en hy bewus is, ’n geheim wat hy moontlik self nie eens werklik verstaan nie, en wat hy in Christiaan se geselskap moet onderdruk.

Charlie Keegan vertolk die rol van Christiaan, ’n regstudent wie se innemende geaardheid en gemaklikheid met ander mense hom vir Francois moeilik maak om te lees. Of dalk is Francois net eenvoudig verblind deur Christiaan se skoonheid.

Die kyker sou dink dat die titel van die film geïnterpreteer kan word as ’n beskrywing van Christiaan, soos gesien deur Francois, maar die film self maak so ’n interpretasie nie maklik nie, ten spyte van Keegan se onbetwisbare aantreklikheid. Wat meer voor die hand liggend is, is die ander betekenis van die woord "skoonheid", naamlik reinheid, wat ongelukkig by die titel se Engelse vertaling ontbreek. Daar is talle tonele waarin Francois sy hande was, asof hy ontslae wil raak van die "vuil" gevoelens wat aan hom knaag, en daar is ook sprake van ’n swembad – ’n baie goed gekose simbool – wat al hoe groener word en een of ander tyd skoongemaak sal moet word.

Wat "mooiheid" aanbetref, is hierdie betekenis eerder van toepassing op die kwaliteit van die film se kamerawerk in die algemeen. Ons kry pragbeelde van begin tot einde, dikwels gekleur in skakerings van groen, wat werklik die aandag hou en ons laat besef dat die regisseur en sy kameraman behoorlik besin het oor die visuele aspek van die produksie. Die lang skoot wat Francois in ’n nagklub rondvolg, is baie goed uitgevoer en enkele skote in die Van Heerdens se slaapkamer is ewe verruklik.

Die film bereik ongelukkig ’n laagtepunt in ’n leë eetplek in Kaapstad, laat in die nag, wanneer Francois en Christiaan uiteindelik alleen kan sit en gesels, maar dit is Francois wat aanhou praat, in sy beskonke toestand, in ’n toneel wat eenvoudig nie end wil kry nie. Ons sit die hele film lank en wag vir hierdie toneel, maar behalwe vir ’n aanduiding dat Francois uit sy omstandighede wil ontsnap (wat ons maklik kon geraai het), is daar niks nuuts wat na vore kom nie, en ons kom ook nie regtig in Christiaan se kop nie. Arme Keegan moet hier die heeltyd ongemaklik glimlag; die karakter se gebrek aan enige verdere aksie paraliseer die toneel, terwyl Francois voortbabbel oor dinge wat heeltemal irrelevant is, soos korrupte polisiemanne in die nuwe Suid-Afrika. Hierdie is nie die tyd om water te trap nie, maar dit is presies wat gebeur.

Een toneel wat ek wel wil uitsonder, is ’n toneel waarvan ek niks mag verklap nie, maar ek wil tog net noem dat dié toneel uitstekend geregisseer is, die kykers met ’n harde hou slaan en met ’n knop in ons keel op die punt van ons stoele hou. Dit vind plaas in ’n hotelkamer teen die einde van die film. Die redigering is spaarsamig en hier is die lang skote werklik effektief, want die aksie is uitmergelend. Dit is net jammer dat die toneel so onverwags eindig.

Verder sal baie resensies waarskynlik die kyker probeer waarsku teen ’n sogenaamde orgie in ’n plaashuis aan die begin van die film, maar ek kan eerlikwaar nie sien dat enigiemand daardeur ontstel sal word nie – behalwe natuurlik die sensuurraad, wat die film met ’n 18-ouderdomsbeperking gekap het. Hierdie is nie pornografie nie, want dit is byna onmoontlik om seksueel hieroor opgewonde te raak. As ons Francois se perspektief deel, is dit ’n vreeslik neerdrukkende toneel.

Die toneelspel is deurgaans baie goed (met die uitsondering van ’n huisdokter so halfpad deur die film) en Hermanus se rolverdeling bly weg van die sepierige toneelspel waarmee Suid-Afrikaanse films so dikwels opgeskeep sit. Soms voel dit egter of Hermanus nie genoeg vertroue in Keegan se spel het nie, want daar is ten minste drie tonele waar ons (in Francois se plek) hom van ver af sien skerts met ander karakters, sonder enige klank. Ek verstaan die belang van ’n perspektief van die "afloerder", maar daar is nie genoeg om hiervoor op te maak nie. Die gevolg is nie net frustrasie nie, maar ’n gebrek aan begrip vir Christiaan se karakter, wat ons baie sleg leer ken – en gevolglik sukkel ons om Francois se Taxi Driver-agtige fiksasie te verstaan.

Hermanus gebruik ’n hele aantal lang skote in sy film, en in die eerste toneel is dit ’n baie goeie besluit, omdat daar beweging in sy beelde is (die gemaal van al die gaste by die bruilof), maar ander tye gaan sy gehoor kriewelrig raak. In een toneel wat in die kombuis van Francois se huis afspeel, wag ons etlike sekondes in doodse stilte voordat Francois die kombuis binnekom – en dan doen hy nie eens iets van betekenis nie. Daar is niks fout met subtiliteit nie, maar hoewel Hermanus by tye duidelik streef na ’n meer minimale film, gestroop van dialoog en aksie, het hy steeds ’n hele aantal tonele wat swaar gelaai is met daardie elemente. Hierdie ongelykheid van ’n poëtiese en ’n dramatiese benadering kleur die film baie onduidelik in en skep die indruk dat die regisseur nie seker is van sy aanslag nie.

Deurentyd word enige hoop ondergrawe dat Francois se bestaande toestand ten beste (of hoegenaamd) kan verander. Hermanus het ’n uiters pessimistiese siening van die hoofkarakter en sy hoop op verlossing; tewens, die film kan maklik as ’n tragedie bestempel word – ’n gedagte wat gestaaf word deur die verskyning, laat in die film, van ’n skrywer, ’n tipe eenpersoonkoor, wat uit sy boek, Wildebeest, voorlees in terme wat ’n teenwig is vir die ideale van die Van Heerden-egpaar. Die film is nie ’n riller nie (hoewel dit die potensiaal gehad het om een te wees, maar wanneer Francois byvoorbeeld Christiaan se tandeborsel steel, is daar geen spanning en geen nagevolge nie); dit is eerder ’n uitbeelding van ’n droewige stand van sake.

Skoonheid, wat beeldskone komposisies bevat, ondersteun deur baie gepaste klaviermusiek, skote wat dikwels veel langer aanhou as dít waaraan die meeste kykers gewoond is, en ’n effens gewaagde onderwerp in ’n taal wat nie Engels is nie, is die beliggaming van ’n kunsfilm. Die intieme kamerawerk en die baie letterlike uitbeelding van tyd wat verbyloop, sal egter, ironies genoeg, ’n afstand skep tussen die film en ’n hele klomp kykers. Op dieselfde noot is dit ongelukkig ook nodig om te noem dat Hermanus, met een enkele uitsondering (’n skoot oor Tafelbaai), te naby bly aan die karakters, en woorde in plaas van sy kamera gebruik om hulle te plaas in ’n wyer konteks.

Die film stuur die Suid-Afrikaanse filmbedryf in ’n nuwe rigting, en dit is ’n goeie teken, maar hoewel die regisseur en sy kameraman Jamie Ramsay duidelik buitengewoon talentvol is, is die film nie samehangend genoeg om die aandag deurentyd te hou nie. Dit is egter verblydend om vir ’n verandering ’n film te sien waarvan die onderskrifte behoorlik versorg is. Gelukkig is dit Oliver Hermanus se tweede film, en saam met Shirley Adams is dit duidelik dat ons te make het met een van die interessantste stemme in die kontemporêre Suid-Afrikaanse filmbedryf.