Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Onderhoude | Interviews

Die suksesverhaal van ’n wrak: Brink Scholtz in gesprek met Emma Kotze


Emma Kotze - 2011-07-29

Brutaal eerlik is hoe ek Brink Scholtz ervaar as sy praat oor haar jongste werk, Wreckage, wat vanjaar by die Grahamstad Nasionale Kunstefees op die planke gebring is. Scholtz het met ’n besige program vanjaar met twee suksesse op die feesprogram gepronk (Wreckage en Beelzebub), maar het ten spyte hiervan graag tyd gemaak vir ’n interessante gesprek met my rondom haar werk.

Wreckage, die “idee” en die skep van die produksie

Scholtz is oorspronklik genader om dié tema, gebaseer op die wrak van ’n gestrande skip, wat veral verband hou met die geskiedenis van die Oos-Kaapse Wildekus, in ’n teaterstuk te omvorm. Wat is hierdie sogenaamde “wreckage” waarmee ons nou nog saamleef? is die vraag wat by haar ontstaan het. Scholtz noem dat dit veral handel oor die wroegende reaksie teenoor die geskiedenis. Daarmee saam sê sy dat baie van die dramatiese kunste ontstaan rondom die poging om geskiedenis oor te vertel.

Sy vertel dat die skeppingsproses baie ingewikkeld was. In ’n mate voel sy dat die werk onvoltooid is. Na repetisies het sy meestal huis toe gegaan en verder gaan skryf en werskaf aan wat ons uiteindelik op die verhoog as die finale produk sien. Die stuk is egter onder haar leiding ’n kollaboratiewe werk wat die akteurs ook by die skeppingsproses ingesluit het.

Brink en Athina Vahla, die choreograaf, wou van die begin af waagkanse neem met hierdie produksie. Sy beskryf dit self as stilisties vreemd, met metateatrale gebeure wat aan die gehoor duidelik is.  

Ubom! en First Physical Theatre Company

Scholtz beskryf die gesamentlike poging tussen Ubom! en First Physical Theatre Company in hierdie produksie as ’n wonderlike ontmoeting van twee teatergeselskappe. Sy het dit geniet om saam met die twee uiteenlopende groepe kunstenaars te werk. Dit was volgens haar ’n suksesvolle samewerking wat nuwe moontlikhede geskep het (die gehoor beleef byvoorbeeld First Physical se hoogs metaforiese werk vermeng met Ubom! se keurige Afrika-simbolisme).

Wreckage se kwaai kritiek

Brink erken dat sy nog baie sensitief is vir die kritiek wat daar op haar werk gelewer word. Sy het byvoorbeeld daagliks vóór die deure vir die publiek oopmaak, nog bietjie vir bietjie aan die stuk verander. 

Dit is verstaanbaar dat die werk, weens die aard daarvan (wat insluit dat dit waaghalsig is), tyd nodig het om te groei en “ryp” te word. Sy voel self dat die eerste vertoning nie die produksie tot sy volle reg laat kom het nie.

Brink Scholtz die theatre maker

Brink het Ubom! onlangs as inwonende regisseur verlaat om onafhanklike skeppingswerk te doen. Sy is tans in Kaapstad gebaseer, waar sy hoop om vir haarself werk te skep. Sy droom ook van die moontlikheid om verder aan Wreckage te kan werk. Dit sal hoofsaaklik van die beskikbaarheid van tyd afhang.