Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans

Onderbelig


Willem de Vries - 2011-07-28

“Onthou jy die eerste keer toe ons gaan fliek het?” vra sy toe hulle al sit. Die ligte is nog aan en die voorskoue het nog nie begin nie.

“O ja,” antwoord hy.

“Ek het die hele tyd net aan jou sit en dink.”

“Wat was die naam van die fliek tog?” dink hy hardop.

“Hoor jy wat ek sê?” vra sy.

“Dit was so lank gelede.” Hy sê niks verder nie.

Sy wou nog iets sê, maar die ligte is reeds verdof.

Eers is daar net geluid op die skerm. ’n Breukdeel van ’n sekonde daarna word die geruis vergesel deur ’n voorwerp wat te groot is om te herken. Chroompleine en kurwes swaai en duik vinnig asof die kamera-oog op pad is deur ’n labirint se gang en word groot letters: A Kaleidoscope Pictures Film.
’n Grommende stem vertel die storie van die voorskoue. Die vervaardigers van sus en so se nuutste is ’n ervaring sonder gelyke. Daarna volg eensin-lofgesange oor die komende vertonings.

Die wit lig op die doek is so fel dat die fliekgangers hul oë op skrefies moet trek. Hy maak sy oë toe en voel hoe hy wegdommel.

Groot swart letters verskyn teen ’n wit agtergrond en kondig aan: Die brief.

Die eerste skoot is dié van ’n hotelingang. Die technicolor-kleure is donker en grinterig. Die naam bo die deur is swak belig. Dalk iets soos The Holiday Inn. Die foyer is somber. ’n Man en vrou sit en tuur in die skemerlig na die televisie se beeld – die enigste helder lig in die vertrek. Klein lampies teen die muur belig brosjures wat op ’n lang tafel teen die een muur lê. Die man het ’n ligte snyerspak aan wat gekreukel is. Die vrou se uitrusting is vaalgroen. Hulle lyk moeg, asof hulle dae reeds voor die TV sit. Die nuuskanaal dis tot vervelens toe stories op.

Dan gooi die man van die foyer ’n jas oor die leuning van ’n stoel in ’n ruim kamer met ’n donkergroen mat. Die muurpanele van hout is die kleur van donker sjokolade en daarbo is die muur en plafon kanariegeel. Op die tafel is ’n koerant. Hy slaan dit oop en lees ’n klein rubriek van HJA Hofland: “Om iets te leren kennen moet je het verwen, tekenen of wassen.” Sy vingers volg die woorde asof dit ’n gebruiksaanwysing is.

Toe is dit ’n warm dag en hy druk ’n knoppie op die hoëtroustel. Duke Ellington – van sy ou jazz uit die jare dertig. Hy steek ’n sigaret aan. Stokkerig soos in ’n swart-en-wit-fliek. Hy staan by die venster en kyk uit op ’n breë straat.

’n Man met die grys uniform van die poskantoor aan steek sy hand rustig in sy groot leer-drasak en bring ’n brief na vore wat hy in die posbus laat val. Oorkant die pad is die huisdakke dynserig. Toe die posbus se deksel toeval, skrik die dakteëls op en word duiwe. ’n Paar kom sit in yl note op die kragdraad voor sy huis.

Dan gaan hy na buite toe om die posstuk te kry. Dit vul ’n mens se ganse gesigsveld. Hy draai die koevert om en daar is gestempel: “STRENG VERTROULIK”. Daar is geen posseël op nie. Die koevert word oopgemaak.

’n Getikte boodskap op goeie papier, en daaraan gekram is ’n faksimilee-afdruk van ’n swak-vergrote paspoortfoto en ’n handtekening. Op die foto is ’n vrou met hare waarvan die lengte nie heeltemal duidelik is nie. Die afdruk is so grinterig dat feitlik geen onderskeidende kenmerke sigbaar is nie. Net haar handtekening onderaan die foto is duidelik. In die brief word hy opdrag gegee om die vrou op te spoor en ’n vlug te haal wat reeds bespreek is vir dieselfde dag. Iemand sal hom op die lughawe ontmoet.

Toe hy deur die doeane is, tik ’n vrou hom op die skouer. Sy wys vir hom waar hulle ’n taxi sal kry. Hulle loop deur die saal vir internasionale vertrekke. Mense omhels mekaar. Onderweg na die hotel praat die taxibestuurder onophoudelik en kan niemand ’n woord inkry nie.

Hulle laat hul bagasie na hul kamers dra, neem stelling in voor die televisie en wag. Hulle sit baie, baie lank daar. Hulle het nog nie eintlik met mekaar gepraat nie, maar dit is duidelik dat hulle die televisie moet dophou vir verdere tekens, te oordeel na haar gespanne houding en konsentrasie terwyl sy die beelde dophou. In die sterk skemer van die foyer is dag en nag nie veel verskillend nie. Hulle kyk na ’n heruitsending van Murder, She Wrote. Aan die einde van die program is dit oudergewoonte Angela Lansbury wat lag, dié keer saam met die dokter van die dorp. Die sheriff skud eers verleë sy kop, maar moet dan ook saamlag.

Toe is die son aan die onder gaan en rook lê oor die stad. Hy skrik groot. ’n Oomblik lank moes dit vir hom gelyk het of die stad brand. Hy kom gou sy fout agter, maar bly nietemin ontsteld.

In die verbyloop beduie hy aan die vrou hy gaan rus. Hy val neer op die bed in sy kamer. Hy haal sorgvuldig die brief uit sy baadjie se binnesak uit en plaas dit op die bedkassie, saggies, asof dit ’n slapende kon wakker maak. Toe hy weer sy oë oopmaak, sit die son al hoog. Hy kyk na die deur. ’n Koevert is in die gleuf tussen die deur en mat na binne gestoot. Hy buk en maak dit oop.

Op ’n notavel met die hotel se naam op is ’n boodskap van die vrou van die foyer; hy kyk stip na die handtekening. Hy vergelyk dit met dié van die opdrag, maar uit die moedelose manier waarop hy sy gesig vertrek, is dit duidelik: sy vermoede oor die handtekening op die notavel is reeds bevestig – dit stem ooreen met dié by die opdrag.

Toe sy ken sy bors raak, ruk hy sy kop terug. Dit duur ’n rukkie voordat die wêreld ophou draai. Hy kyk na die meisie langs hom. Sy is vasgenael deur dit wat op die skerm gebeur. Haar oë is nat. Om haar so meegevoer te sien laat hom verleë voel. Asof hy op haar inbreuk maak terwyl sy met oop oë droom.
Toe die rolverdeling verskyn, staan hulle stadig op. Hulle stap, eers net langs mekaar, dan hand aan hand en praat oor enigiets anders as dít wat elk kort tevore gesien het, asof dit so besluit is. Die nag is koel en hulle raak aan die lag. 

  • Uit die LitNet-argief.  Eerste publikasie: 10 Januarie 2006