Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Win Win: Viering van klein oorwinnings


Jacques Liebenberg - 2011-07-27

Win Win
Regisseur: Thomas McCarthy
Kamerawerk: Oliver Bokelberg
Rolverdeling: Paul Giamatti, Amy Ryan, Alex Shaffer en Bobby Cannavale
Looptyd: 106 minute



Hollywood-grootkoppe hou daarvan om die yslike begroting van die regtige duur flieks te verdedig deur te sê dié (hopelike) lokettreffers se verdienste stel hulle in staat om kleiner flieks met groter “artistieke meriete” te kan maak.

Beteken dit mens moet die groot ateljees ’n fliek soos Transformers: Dark of the Moon vergewe omdat daar in dieselfde tyd ook ’n fliek soos Win Win uitgereik word? Nie een van die twee is noodwendig ’n voorbeeld van die beste (of slegste) wat in hul onderskeie genres moontlik is nie, maar so vervelig en kouepampoen is eersgenoemde, dit maak van Win Win, wat hoogstens maar ’n bogemiddelde drama is, ’n eksponensieel genotvoller fliek.

En terwyl die klem in Transformers op rekenaareffekte en produkplasing val (dis reg, ons held Shia gaan loer sommer op die Duitse motorvervaardiger se webblad na sy meisie se nuwe tjor), is dit in Win Win uitsluitlik op die vaardighede van sy sterk rolverdeling.

’n Mens is die skrywer en regisseur Alexander Payne oneindig dankbaar vir Sideways, aangesien dié bekroonde fliek Paul Giamatti van betroubare byspeler tot oorrompelende hoofspeler omvorm het. Sedertdien is sy rolkeuse effe eklekties (van Cinderella Man en Lady in the Water tot Shoot ’Em Up en vroeër vanjaar se uitstekende Barney’s Version), maar dit weerspieël ’n avontuurlustigheid wat hom net tot krediet strek.

In Win Win bevind Giamatti hom in ’n rol wat hom soos ’n handskoen pas: dié van ’n middeljarige kêrel wat, ondanks sy foute, hard probeer om sy kop eerlik bo water te hou te midde van die lewe se aanslae. En hoewel hy nie die diepte haal wat hy in Barney’s Version vertoon het nie, kry hy die kyker nogmaals sonder moeite in sy hoek. Dis daardie algehele gebrek aan dubbelsinnigheid, die ontwapenende alledaagsheid van sy benadering wat die deurslag gee. Giamatti se sukkelende prokureur, Mike Flaherty, kan enige van ons se pa, oom of man wees.

Teenoor hom is die nuweling Alex Shaffer (hy was gepas verlede jaar die deelstaat New Jersey se o.17-stoeikampioen, berig IMDb.com) se Kyle allermins die stereotipiese, gekwelde tiener. Gooi daarby ’n wonderlike vertolking (die antitese van haar karakter in Gone Baby Gone) deur Amy Ryan as Flaherty se vuurvreter-vrou en Bobby Cannavale op sy beste as Flaherty se beste vriend, en die skrywer en regisseur Thomas McCarthy (The Station Agent) wys opnuut hy’t g’n moeite om groot emosie in ’n kleindorpse bestaan raak te boor nie.

Hy vind die ontwykende balans tussen die dramatiese in mense se bestaan en daardie oomblikke wanneer jy dit nie kan verhelp om te lag nie.

Mens kan seker kla oor die storie, wat allermins waterskeidend is, of oor die effe gemaklike ontknoping, wat nooit in gedrang is nie. Dit neem niks weg van die doeltreffendheid van McCarthy se gestroopte benadering en gepaardgaande voorliefde vir natuurlike beligting of van Giamatti en Kie se stewige spel nie.

Wat Win Win te midde van Transformers se siellose oordondering opnuut bewys, is dat dit die flieks met die “klein” oomblikke is wat mens bybly en maak dat jy weer en weer daarna kan kyk.