Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Michael le Cordeur: Die punt is

Die pad na versoening is lank ...


Michael le Cordeur - 2011-07-27

Untitled Document

Dit het die afgelope tyd weer eens duidelik geword dat die pad na versoening besonder lank is en daar sal nog baie water (en trane) in die see loop voordat ons na onsself kan verwys as die reënboognasie waarvan Desmond Tutu gedroom het en wat Madiba ons gevra het om te bou.

Dié van u wat onlangs my lesing by die SA Akademie se simposium op Potchefstroom bygewoon het, sal onthou dat ek gepraat het oor:

’n Postapartheid-onderwysstelsel vir die nuwe Suid-Afrikaanse samelewing
(23-24 Junie 2011).

Laat my toe om slegs na die eerste twee skyfies van dié lesing te verwys:

(1) Inleiding

  1. South Africa is an intensely anxious society, living with many unresolved fears and collective fantasies, mush repressed anger, guilt, and shame. Many black-white relationships are unstable and ambivalent. The necessary collective healing will have to go far beyond the superficial political processes of reconciliation, reparation, and truth-seeking about the past … (Bloom 1998).


(2) Ons gekontamineerde verlede

  1. Dis ’n illusie dat al Suid-Afrika se vrese en vooroordele by die WVK opgelos is (Jansen 2009).
  2. Haat en onvergenoegdheid heers steeds aan beide kante van die politieke spektrum.
  3. Baie Afrikaners voel steeds dat hulle by die onderhandelingstafel verneuk is.
  4. Baie mense (swart en wit) het reuse-opofferings gemaak, en baie van hulle is steeds vasgevang in die tronk van armoede en werkloosheid.
  5. Suid-Afrikaners moet gehelp word om die intellektuele Rubikon oor te steek.

In my lesing het ek ook die punt gemaak dat dit nou vir almal duidelik behoort te wees dat dit ’n mite is dat die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) alle vrese en probleme van die ou-Suid-Afrika ter ruste gelê het. Mampele Ramphela verwys hierna as “laying ghosts to rest” in haar boek met dieselfde titel (2008).

Juis in hierdie tyd wanneer ons die 93ste verjaarsdag van ons land se grooste seun vier, behoort ons te onthou dat hy ons juis vra om ons tyd so aan te wend dat ons ’n verskil moet maak aan ander se lewens. Daarom was dit met groot trots en blydskap dat ek vanoggend na prof Wannie Carstens geluister het toe hy as nuwe voorsitter van die Akademie gevra is wat sy doelwit vir hierdie organisasie is. Sonder om te skroom het hy geantwoord: Heel eerste moet ons versoening nastreef.

In ’n tyd waar die kookpot van debat dikwels (maar nie altyd nie) gekenmerk word deur oorheersing van die emosie pleks van denke, begin die grense tussen reg en verkeerd, aanvaarbaar en onaanvaarbaar, en selfs tussen Christen en nie-Christen algaande vervaag. Dit is dus gebiedend noodsaaklik dat diegene wat hulself in leiersposisies bevind, daardie rolle móét speel, al beteken dit dat jy soms vyande maak. Doen ons dit nie, sal ons vind dat die oorkook van emosies soos ons dit die afgelope tyd beleef het, toenemend die reël eerder as die uitsondering sal word.

As verantwoordelike nugterdenkende burgers kan ons dit nie toelaat nie, en beslis ook nie bekostig nie. Organisasies soos die ATR en die Akademie sal hulself opnuut moet herdefinieer en die vraag moet vra: Watter stappe is nodig om Suid-Afrika, ons taal, en ons algemene menswees op te hef op ’n wyse dat dit in diens is van demokrasie, nasiebou en naasteliefde?

Dapper stappe en onverskrokke leiding gaan nodig wees. Die troos is dat ons binne die genoemde organisasies oor genoeg leierspotensiaal beskik om juis hierdie doelwit te bereik.

Hef aan lê voor, die werk is baie, en die arbeid min.

Groete vanuit ’n pragtige sonskyn-wintersoggend in Wellington.

Michael

 

  • Michael  le Cordeur is ondervoorsitter van die ATR en so pas verkies tot raadslid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.