Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Kennisgewings | Notices

Silwerskerm Afrikaanse Filmfees tref Nu Metro-teaters in Augustus


2011-07-27

Untitled Document

Nasionale Afrikaanse Filmfees
Nu Metro-teaters regoor Suid-Afrika
5 – 11 Augustus
Kaartjies: R20
Besprekings: www.computicket.com

Die Suid-Afrikaanse filmbedryf is een van die oudstes in die wêreld, en veral die Afrikaanse rolprent het ’n ryk en interessante geskiedenis. Daar was tydperke van geweldige groei en ongelooflike films. Ons beleef nou weer so ’n bloeitydperk en daarom het kykNET, saam met Nu Metro, besluit om die eerste Nasionale Afrikaanse Filmfees aan te bied. Ons begin met ’n terugblik en gaan haal en herleef wat ons as die beste onthou van ons ou filmmeesters. Die Silwerskerm Afrikaanse Filmfees het uiteindelik ten doel om die volhoubaarheid van ’n gesonde Afrikaanse filmbedryf te stimuleer, sodat nog groter hoogtepunte bereik kan word.

Die fees vind plaas van 5 tot 11 Augustus by 11 Nu Metro-teaters regoor Suid-Afrika, en gee soveel as moontlik mense die geleentheid om van die ou films te sien. Daar is ook die splinternuwe Saak van Geloof wat die nuwe element verteenwoordig. Van die ou meesters wat gehuldig word, is Jamie Uys (Dirkie), Dirk De Villiers (My Broer se Bril), Manie van Rensburg (Die Bank Rower), Koos Roets (Babbelkous en Bruidegom), Jan Scholtz (Môre, Môre) en Jans Rautenbach (Katrina). Jans Rautenbach het ook ingestem om as beskermheer vir die fees op te tree.

Vir die volledige skedule, besoek www.numetro.co.za of www.kykNET.co.za. Kaartjies kos R20 en is beskikbaar by Computicket. Die Silwerskerm Filmfees word met trots angebied deur kykNET en Nu Metro, met die trotse ondersteuning van Toyota.

Teaters
Nu Metro Mountain Mill        Worcester
Nu Metro Loch Logan           Bloemfontein
Nu Metro Riverside              Nelspruit
Nu Metro Menlyn                Pretoria
Nu Metro Klerksdorp           Klerksdorp
Nu Metro Canal Walk           Kaapstad
Nu Metro Northpark Mall      Pretoria
Nu Metro Galleria                Durban
Nu Metro Walmer Park        Port Elizabeth
Nu Metro Clearwater           Johannesburg
Nu Metro Emperor’s Palace  Boksburg

Films wat gesien kan word, is die volgende:

Dirkie          
Regisseur: Jamie Uys
Rolverdeling: Wynand Uys, Jamie Uys, Heinrich Marnitz   

Jamie Uys, gebore in 1921 in Boksburg, was ’n internasionaal bekende filmregisseur wat 24 films voltooi het. Pryse vir sy werk sluit in die 1981 Grand Prix by die Festival International du Film, die Comedy Vevey vir The Gods must be Crazy,en die Hollywood Foreign Press Association-toekenning vir die beste dokumentêr in 1974 vir Beautiful People. The Gods must be Crazy het vir drie jaar ononderbroke in die Verenigde State gewys.

Dirkie, wat in een van die gevaarlikste woestyne, die Kalahari, verfilm is, is ’n verhaal van spanning, konflik en ongelooflike menslike moed. ’n Agtjarige seun en sy hond is agtergelaat in hierdie groot woestyn na ’n vliegtuigongeluk, terwyl ’n leër van manne hulle soek. Dirkie is gebaseer op ware gebeure. Min het ooit die dodelike, geheimsinnige Kalahari betree ... en oorleef om sy geheime te openbaar!

My Broer se bril 
Regisseur: Dirk de Villiers
Rolverdeling: Cobus Rossouw, Marié du Toit, Pieter Fourie

Dirk de Villiers kan maklik aanspraak maak op die titel vir die Suid-Afrikaanse filmmaker met die langste professionele loopbaan. Sy loopbaan begin as ’n akteur in produksies soos Ivan Hall se Kruger Miljoene, waar hy ’n lid van die Kavalier se selfmoordkommando was. Sy eerste vollengte-rolprent as regisseur was in die ligte komedie Jy Is My Liefling met Franz Marx en Min Shaw. Hy het dit opgevolg met een van sy beste films, Die Geheim Van Nantes, ’n aanpassing van die beroemde Springbok Radio-reeks. Dirk de Villiers is by die 2008 Klein Karoo Nasionale Kunstefees vereer vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse filmbedryf.

My broer se bril word as die eerste Afrikaanse riller bestempel. Die film begin met ’n begrafnis en eindig met ’n skokkende ontknoping tydens die lees van ’n testament. Twintig jaar tevore het tweelingbroers, Adriaan en Paul van der Bijl, hul afsonderlike weë gegaan na ’n argument wat Adriaan blind gelaat het. Die verbitterde Adriaan het in sy pa se huis gebly en trou uiteindelik met sy siek pa se mooi verpleegster, Marie. Op die dag van sy pa se begrafnis, wat Adriaan nie bywoon nie, keer Paul terug. Die broers se ontmoeting is nie vriendelik nie: ’n skoot word gehoor, en een lê dood.

Môre, môre
Regisseur: Elmo de Witt
Draaiboek: Jan Scholtz

Rolverdeling: Hans Strydom, Sybel Coetzee, Johannes Slabbert, Anna Neethling-Pohl, Jan Bruyns, David van der Walt, Tobie Cronjé en Iris Coertze  

Vir die afgelope 30 jaar was Jan Scholtz aktief in die filmbedryf. Sy eerste toetrede tot die bedryf was as ’n skrywer. Sedert die vroeë 1970's het hy verskeie toekennings ontvang vir sy werk, insluitend ’n Star Award, ’n Artes vir Jopie Fourie, twee Rapport-Oscars, twee Star Tonight-toekennings, vier Suid-Afrikaanse Akademie-toekennings en twee ATKV-toekennings. Hy is ses keer benoem vir ’n Artes.

Rand Films se liefdesdrama Môre, môre is gebaseer op die baie gewilde radiovervolgverhaal van Jan Scholtz. Die verhaal speel af in ’n klein plattelandse dorpie en gaan oor Lana, ’n matriekmeisie wat verlief is op haar onderwyser, en daarmee saam die kleinlike en genadelose optrede van die mense in die dorp. Een van die skoolseuns se jaloesie oor dié verhouding bereik ’n hoogtepunt wanneer hy tydens ’n sportbyeenkoms probeer om die onderwyser met ’n spies dood te gooi. Lana word gespeel deur Sybel Coetzee, Hans Strydom is die onderwyser en Johannes Slabbert speel die rol van die skoolseun. Ander bekende spelers is Anna Neethling-Pohl, Jan Bruyns, Dawid van der Walt, Tobie Cronjé en Iris Coertze. Môre, môre is in 1973 vervaardig. Elmo de Witt was die regisseur en Jan Scholtz het die draaiboek geskryf.

Babbelkous en bruidegom     
Regisseur: Koos Roets
Rolverdeling: Katinka Heyns, Tobie Cronjé

Koos Roets is in 1943 gebore en het sy loopbaan in die filmbedryf in 1962 begin, toe hy as ’n assistentkameraman vir die legendariese Suid-Afrikaanse filmmaker Jamie Uys gewerk het. Koos word erken as een van Suid-Afrika se voorste regisseurs van fotografie en verdien die hoog-aangeskrewe Australiese ACS-akkreditasie. Sy krediete as ’n regisseur van fotografie sluit in Na die reën, Paljas, Storie van Klara Viljee, Begrafnis vir ’n Moordenaar, Wie Laaste Lag en The Yellow Bus (Australië).

In later jare het Koos in beide Suid-Afrika en Australië gewerk. Hy het sowat 26 speelfilms voltooi, insluitende Sersant en die Tiger Moth, Erfgenaam, Vlug van die Seemeeu, Daar Kom Tant Alie, Kootjie Emmer, Nag van die Negentiende, Die Groen Faktor, Kaalgat Tussen die Daisies, The Angel, The Bicycle and the Chinaman’s finger, Geheim van Nantes, Brutal Glory en Sandgrass People.

Hy het ’n aantal van die toptoekennings waarvoor hy benoem is, ontvang, waaronder vier Artes-toekennings, een SA Akademie vir Kuns en Wetenskap-toekenning, twee Rapport-Oscars, drie ATKV-toekennings, vier Star Tonight-toekennings en verskeie fotografiese toekennings, waaronder die Stephen Farrell Lifetime Achievement-toekenning vir Uitstaande Kinematografie.

Rand Films se Babbelkous en bruidegom is ’n komedie en gaan oor ’n prokureur se telefoniste wat versot is op speurverhale en misdaadrolprente. Sy glo vas haar baas is vermoor en meld die saak by die polisie aan. ’n Speurder ondersoek die saak en word totaal verwar deur die telefoniste, wat al die antwoorde op haar baas se verdwyning het. Tobie Cronjé vertolk die rol van die speurder en Katinka Heyns is die telefoniste. Die rolprent is in 1974 deur Tommie Meyer vervaardig en die regisseur was Koos Roets.

Katrina      
Regisseur: Jans Rautenbach
Rolverdeling: Katinka Heyns, Joe Stewardson, Cobus Rossouw, Don Leonard, Jill Kirkland

Jans Rautenbach is in 1936 in Boksburg gebore en is waarskynlik Suid-Afrika se mees gevierde en mees omstrede filmmaker. Hy begin sy loopbaan in die filmbedryf deur vir Jamie Uys Film Produksies te werk en kan gesien word as ’n ekstra in Emil Nofal se Kimberley Jim.

Wanneer Emil Nofal en Jamie Uys hul maatskappy verdeel, begin Nofal sy eie produksiemaatskappy saam met Rautenbach, en so begin Suid-Afrika se goue era van film. Met hierdie vennootskap kom die vrystellings van Koning Hendrik (1965), Wild Season (1967), Die Kandidaat (1968), en die mees omstrede film, Katrina (1969). Laasgenoemde word nog steeds beskou as ’n mylpaal in die Suid-Afrikaanse filmbedryf.

Die film ondersoek Suid-Afrika se onregverdige rassebeleid onder apartheid. Katrina woon saam met Alex, ’n gerehabiliteerde alkoholis wat as ’n priester dien. Katherine se seun Paul keer terug ná voltooiing van sy studies in Engeland en ontmoet ’n plaaslike meisie. Op die vooraand van hul verlowing vertel Paul se oom hom van sy moeder se herkoms en dat Paul se pa nooit dood is, soos wat sy ma hom laat glo het nie. ’n Geskokte Paul beëindig sy verhouding met sy vriendin en ignoreer sy moeder se pleidooie om te bly in die wêreld waarin sy grootgemaak is. Hy ontmoet sy pa en kom meer van sy herkoms te wete.                        

Die bank rower  
Regisseur: Manie van Rensburg
Rolverdeling: Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Cobus Rossouw en Siegfried Mynhardt

Manie Van Rensburg het begin as kameraman in Hoor My Lied (1967). Sy eerste film, Freddy's in Love, op die ouderdom van 22 het hy self gefinansier. Hy het begin met R140 in die bank en ’n groot deel van die film is gemaak in swart-en-wit omdat hy nie kleurfilm-voorraad kon bekostig nie. Die film was uiteindelik ’n karakterstudie van eensaamheid in ’n koue, somber Hillbrow. Van Rensburg vorm sy eie onafhanklike filmmaatskappy, Visio-rolprente, in 1969. In die 1980's het hy ’n Internasionale Filmfees-toekenning in New York ontvang vir sy historiese TV-drama-reeks Heroes, en ’n meriete-toekenning van die Londen Filmfees is aan hom gegee vir sy spel in The native who caused all the trouble. Sy reuse-produksie The Fourth Reich is gekeur vir Cannes.

Die ondernemende en avontuurlustige seun van die hoof van die "veiligste bank in Suid-Afrika" steel ’n groot som geld uit sy pa se bank om hom te oortuig van die kwesbaarheid van die bank se veiligheidstelsel. Met die hulp van sy vriendin verdubbel die seun die gesteelde bedrag en saam sit hulle die geld terug op dieselfde manier as wat hulle dit gesteel het. ’n Professionele dief spioeneer op hulle en gebruik die gewaagde diefstal en die bank se veiligheidswakheid om pa en seun af te pers.

Saak van geloof 
Regisseur: Diony Kempen
Rolverdeling: Robbie Wessels, Riana Nel, Lelia Etsebeth, Niekie van den Berg

Toe Marietjie Naudé, ’n plaasmeisie van die Karoo, haar ouers vertel dat sy swanger is, was dit vir hulle nogals ’n skok. Maar natuurlik glad nie so ’n groot skok as toe sy vir hulle verder vertel dat sy nog ’n maagd is en dat dit die Heilige Gees is wat haar moes bevrug het nie. Veral haar pa, Kallie, wil graag sy dogter glo, maar soos Sanna wat in die Naudés se kombuis werk, dit stel: Geloof kom nie altyd so maklik nie.

Ten spyte van die sewejaar-droogte wat gebreek word tydens Krisjan se geboorte en die feit dat Sanna se man Abel wonderbaarlik van siekte genees word, bly die kerk en die dorp se mense skepties oor Marietjie se storie. Sy besoek van daar af elke Sondag ’n ander kerk, op soek na ’n gemeente wat bereid is om nog in wonderwerke te glo.

Saak van geloof is op ’n manier ’n hedendaagse hervertelling van die Christus-verhaal, en ’n versugting na ’n tyd toe wonderwerke nog aan die orde van die dag was. Dis ’n deernisvolle verhaal oor ’n plattelandse gemeenskap wat gekonfronteer word met alles waarin hulle glo.