Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Kennisgewings | Notices

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse BSV-Slypskool vanjaar met Irma Joubert!


2011-07-26

Untitled Document

BSV-Slypskool met Irma Joubert
Noorderbloem Aftree-oordsaal, Bayswater, Bloemfontein
Saterdag 20 Augustus: 08h00 – 15h00
Koste:  R200

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging bied vanjaar op Saterdag, 20 Augustus 2011 om 8:00 – 15h00 te Noorderbloem Aftree-oordsaal, Bayswater, Bloemfontein die jaarlikse Slypskool vir ontluikende skrywers aan onder leiding van die uiters produktiewe skrywer, Irma Joubert, wat gaan fokus op die skryf van ’n roman, die slaggate en die fabrieksgeheime daaraan verbonde. Na haar aftrede na 35 jaar uit die onderwys in 2004 het die skryfgogga haar behoorlik gebyt en het sy sedertdien as vryskut-joernalis verskeie artikels en kortverhale in tydskrifte gepubliseer, is in 2005 aangewys as Media 24 se “Spesialis Joernalis van die Jaar” en was ’n Mondi-finalis. Dit is daarom ook nie verrassend dat sy in haar slypskoolaanbieding ook van koerante, wat goedgunstlik geskenk word deur Volksblad, gebruik gaan maak nie. Tans konsentreer sy meer op historiese romans. Haar bekendste boeke is “Ver wink die Suiderkruis”, “Tussen stasies”, “Anderkant Pontenilo” en “Pérsomi, kind van die brakrant”. “Ver wink die Suiderkruis” en “Tussen stasies” is in 2008 en 2009 op RSG voorgelees en drie van haar boeke is reeds in Nederlands vertaal. In 2008 is sy een van drie finaliste vir die ATKV-Prosaprys vir “Tussen stasies” en in 2010 wen “Anderkant Pontenilo” die ATKV-veertjie vir Liefdesromans. Intussen het “Tuiskoms”, ’n bundel kortverhale, ook reeds verskyn.

Die koste vir die slypskool, middagete en verversings ingesluit, is R200 en slegs ’n beperkte aantal slypskoolgangers kan geakkommodeer word. Die wenners van die landswye skryfwedstryd en ’n BSV-Beurshouer gaan ook die slypskool gratis bywoon en die prysoorhandiging van die wenners van die landswye BSV Skryfwedstryd, Skrywers 2011, geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die UV, vind tydens dié geleentheid plaas. Uittreksels uit die weninskrywings word dan ook voorgelees en die publikasie, Inkvars 2011, met die weninskrywings en beoordelaarsverslae, word tydens dié geleentheid bekendgestel. Exclusive Books sal ook tydens die slypskool boeke uitstal.

Die BSV borg jaarlikse ’n belowende skrywer wat nie die slypskool kan bekostig nie, om die betrokke jaar se Slypskool gratis by te woon. Indien u enige kandidaat wil nomineer, voorsien ons asb. van die naam, omstandighede en volle besonderhede, tesame met ’n voorbeeld van sy / haar skryfwerk vir beoordeling.

Om iemand te nomineer vir die skryfbeurs of om die laaste beskikbare slypskoolplekke op te raap, kontak asb. so spoedig moontlik vir me. Lelani Fourie (sekretaresse) by 0733883377, of stuur ’n e-pos na bloemsv@gmail.com.

Vir navrae i.v.m. die skyfbeurs kan u ook die voorsitter, Corlietha Swart, by 0825356822 kontak.