Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Colour(ed) TV behoort verwelkom te word as 'n begin tot erkenning


Jason Lloyd - 2011-07-26

Untitled Document

Konsensus onder bruines oor die verskyning van Colour(ed) TV op SABC3 bestaan nie. Sommiges sê dit is ’n klomp gemors, terwyl andere dit as ’n geleentheid sien – om bruines se seldsame verskyning op TV stop te sit.

Die eerste episode van Colour(ed) TV het Vrouedag in 2006 vir my in herinnering geroep. ’n Destydse (bruin) fabriekswerker, Sophie Williams-De Bruyn, praat oor haar ervaringe in 1956 toe 20 000 vroue na die Uniegebou gemarsjeer het teen die dra van passe. Sophie, wat toe 18, was. het saam met Helen Joseph, Lilian Ngoyi en Rahima Moosa dié protesoptog gelei.

In 2006 het sy weer by die Uniegebou aan die simboliese herdenkingsoptog deelgeneem. Na dié TV-nuusbulletin het dit my bygeval: die naam Williams-De Bruyn het ek nog nie gehoor nie; nie in dieselfde asem as Joseph en Ngoyi nie.

As ek dit reg het, word haar statuur glad nie so hoog geag soos dié van Joseph en Ngoyi nie. Dit is nog een van baie sentimente wat die veronderstelde marginalisering van bruines na ’n werklikheid laat klink.

Benewens Williams-De Bruyn was daar die nou bejaarde Lillian Diedericks, wat die Oos-Kaapse vroue gemobiliseer het. Die verhaal van ouma Annie Petersen van Bloemfontein sou ook vir die eerste keer deur TV-nuus tot binne die woonkamers van Suid-Afrikaners gebring word. Ook sy was in 1956 in Pretoria (en weer in 2006).

Dit is ’n seldsame verskynsel dat bruines op TV verskyn. Dit is juis om dié redes dat die name van Williams-De Bruyn-hulle as helde van die 1956-vroueprotesoptog vir die jonger geslag bruines, en ander groeperinge, onbekend is. Daarteenoor is die name van Joseph en Ngoyi vir die meeste Suid-Afrikaners sinoniem met dié optog en die stryd teen apartheid.

Die enigste oplossing sou wees as bruines self die verhale van bruin helde op TV en oor die radio vertel, en in koerante en tydskrifte sou neerpen. Ek het in die boek Permanent Removal – who killed the Cradock four? gelees dat (die bruin) Michael Coetzee die aand voordat die Cradock-vier deur die veiligheidspolisie vermoor is, sy huis in die Baai vir ’n vergadering vir Matthew Goniwe en andere beskikbaar gestel het.

Coetzee het, net soos die (wit) Molly Blackburn van die destydse Black Sash, ’n belangrike rol gespeel in die mobilisering van aktiwiteite van die Cradock-vier (en van die destydse UDF) om die apartheidsregering te beveg.

Maar Coetzee se naam word nooit in dieselfde asem as dié van die Cradock-vier of die struggle genoem nie; net dié van Blackburn.

’n Begin sou gemaak kon word om bogenoemde teen te werk deur erkenning te gee aan alle bruines wat op eie manier ’n bydrae gelewer het teen apartheid. Daar is diegene wat by uitstek bruin “helde” genoem kan word, asook diegene wat in die apartheidstryd “gesondig” het.

Wyle Allan Hendrickse word veroordeel vir sy deelname aan die Driekamer-parlement, maar het tog (volgens FW de Klerk in sy outobiografie Die laaste trek’n nuwe begin) deur sy deelname gehelp om blanke LP’s se vrese teenoor gekleurdes te help besweer.

Daar is Conrad Sidego, wat as NP-ambassadeur voor 1994 gedien het. Allan Boesak en Abe Williams sou onderskeidelik tronkstraf uitdien omdat hulle glo geld van die armes gesteel het. En Jakes Gerwel het deur sy transformasie van die UWK ongelukkig (so word daar gesê) die bruin en Afrikaanse karakter van dié universiteit prysgegee.

Feit is, ons moet ons bruin helde – insluitend diegene wat “gesondig” het – se “sondes” vergewe en hul arms omhoog hou, anders gaan hulle altyd randfigure van ons struggle-geskiedenis bly. En Colour(ed) TV behoort as ’n begin verwelkom te word. Bruines se verskyning op TV hoef dus nie vir altyd ’n seldsame gebeurtenis te wees nie.