Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Nie swart nie wit nie – wenresep in Culemborg


Carina van der Walt - 2011-07-21

Untitled Document

Dit is selde dat ’n hoërskool-toneelstuk soveel belangstelling in de pers kry as Nie Swart nie wit nie gedurende Juniemaand in Culemborg. Kombineer egter die regte elemente en jy’t ’n wenresep. Hierdie resep is die innoverende denke van leerlinge van De Fransche School vir ’n eindeksamen-projek; hulle onderwyser se ontvanklikheid vir hulle idee; sy bereidheid om die toneelteks te skryf; Jan van Riebeeck as geskiedkundige figuur tussen sy geboorteplek en sy verversingspos; ’n stedeband tussen Culemborg en Manenberg; internasionale samewerking met leerlinge uit Manenberg; en die belangstelling en teenwoordigheid van Pieter van Vollenhoven uit die koningsgesin. Die première was op 16 Junie. Amanda Strydom was ook daar.

Margareth (Aziza Davids) speel die sterre van die hemel af in Culemborg
Foto:  Sjaak Verboom

Uit Manenberg stap Aziza Davids, Tasmeen Simons en Jacqueline Knight op die verhoog. Davids speel die rol van die edele Margareth, en haar motto is: “I have my shop.” Knight speel die verleidelike Gigi (“I have my body”) en Simons is Tanda, die opstandige en musikale bendelid van die Cape Flats.

Uit Culemborg stap Rosa van der Kamp, Bregje Thijssen en Daniëlle Hartman op de verhoog. Van der Kamp vertolk die rol van Kim. Sy glo nie meer in drome nie. Thijssen speel die bleek en siek Rasha en Hartman is die goedhartige Puck wat graag ander mense wil help.

Lotte Calmeijer Meijburg is die sleutelfiguur in die stuk. Sy is die ooievaar (ciconia in Latyn) wat al ses meisies se drome verteenwoordig. Maar sy is ook die bedreigende rug van ’n bendeleier in ’n swart leerjas as die drie Suid-Afrikaanse meisies speel. En die supermarkbaas wat die drie Nederlandse meisies met ’n truuk probeer motiveer om harder te werk. Die sogenaamde prys is ’n vliegkaartjie vir twee na ’n bestemming buite Europa.

Dit laat die drie Nederlandse meisies droom oor waarheen hulle wil reis en saam met wie. Kim is agterdogtig oor die aanbod. Hulle skinder oor mekaar en oor mekaar se kêrels en probeer ’n voorstelling maak van hoe, wat en waar hulle op veertig sal wees. Almal hang bietjie futloos oor hulle winkelkarretjies, Rasha die meeste. Die mees dramatiese wat met hierdie drie gebeur, is dat Rasha haar nie verbeel nie. Sy ís ernstig siek. Die drie se verhaallyne is oppervlakkig.

Teenoor hulle is elke verhaallyn van die drie Suid-Afrikaanse meisies ’n drama op sigself. Hulle praat Engels, maar sing in Afrikaans. Margareth beman blymoedig haar vrugtestalletjie tussen al die gevare van aanranding en diefstal deur. Sy filosofeer oor die posisie van die “coloureds” in die hedendaagse Suid-Afrika:

Apartheid may be over.
But the judgement is not.
I’m here because I’m coloured.
You are still your colour.
White was good.
Black bad.
Now it’s the other way around.
Black good, white bad.

Gigi rook haar waterpyp. Dis Gigi se gloeiende velhonger, haar behoefte aan aanraking en liefde, wat die gehoor op hulle stoele laat rondskuif.

And coloured?
At best a mix of slavery and love.
Mostly a mix of slavery and violence.
But always betrayal in the eyes of black and white.

Margareth probeer Gigi motiveer om iets van haar lewe te maak, maar sy’s te besig om Gigi bietjie vas te hou. Sy sing:

O ek wil huis toe gaan na Mamma toe.
Die rivier is vol my trane rol.
'n Bokkie wat vanaand by my wil lê
sy kan maar lê, ek is 'n loslappie.

Margareth probeer ook om die hardegat Tanda op de regte pad hou, maar sy het in die kloue van ’n bende beland en sy verkoop tik. Tanda probeer beide Margareth en Gigi oortuig dat die oplossing vir al hulle probleme in aansluiting by ’n bende lê, net soos sy self gedoen het. Uiteindelik verkoop sy Gigi aan haar mede-bendelede, maar sy hou haar trompet.

That’s me.
Nie swart nie wit nie.
Always half.
But I’m 100% human.
And the only one who judges me is me.

Die daaglikse lewe van hierdie drie meisies plaas ’n demper op hulle toekomsvisie. Dit gaan by hulle om dag-tot-dag-oorlewing. Dit is dikwels ’n stryd. Daar’s geen plek vir drome nie, laat staan nog ’n vooruitskatting van hoe, wat en waar elkeen sal wees as hulle veertig jaar oud is. Die lewens van die drie Nederlandse meisies lyk soos verlepte aspersies teenoor die intense soetsuur van die drie Suid-Afrikaners. Daarmee val die samebindende rol van die ooievaar plat. Die lewensomstandighede van die twee groepe meisies is so verskillend, dit skrei ten hemele.

Miskien was dit presies die effek wat die onderwyser en teksskrywer Kees van der Zwaard by die gehoor wou hê. Aand na aand beïndruk die stuk ’n volgepakte saal. Die vier Nederlandse meisies het goeie punte gekry. Die drie Suid-Afrikaanse meisies het internasionale ervaring opgedoen. Hulle gaan met nuwe entoesiasme terug. Jacqueline Knight (Gigi) praat namens die ander: “If Culemborg believes in us, then I know for sure that Manenberg will also believe in us. I will take it further when we are back in South Africa.”