Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Vrye Woord stel verdoeming oor aanval op prof Anton van Niekerk


Charles Malan - 2011-07-21

Untitled Document

Terwyl die verontwaardiging oor die persoonlike aanval op prof Anton van Niekerk voortduur, wil Vrye Woord as ’n skrywersgroepering ten gunste van spraakvryheid ons verdoeming van die aanval onomwonde stel. Geweld, intimidasie en ander onbeskaafde maniere om ’n standpunt in te hamer hoort geensins tuis in ’n vrye en demokratiese meningswisseling nie.

Die openbare debat toon dat dit nie slegs regses is wat teen prof Van Niekerk se uitlatings oor die Afrikaner se voortgesette skuld gekant is nie. Dit is nietemin sy reg om sy standpunt op ’n beredeneerde manier te stel. Insgelyks is dit die aanvaller se volle reg om ’n regse standpunt daarteenoor te stel. Dit is die soort sterk onderlinge verskille wat aan ’n gesonde demokrasie stukrag gee.

Die professor se bereidheid tot voortgesette gespreksvoering met ’n regse, ook in sy eie kantoor, is lofwaardig. Wat egter daarna gebeur het, is veragtelik: misbruik van sy gasvryheid, ’n lessenaar wat op hom omgekeer word, fisieke aanranding en mediese behandeling daarna, ’n wag wat die aanvaller vir die polisie in bedwang moet kry ...

Dit is verblydend dat verskillende Afrikaanssprekendes, nie slegs "wit Afrikaners" nie, hierdie soort bullebakkery in die openbaar veroordeel. Dit is ’n jammerte dat die militante "gespreksvoering" juis in Afrikaans gevoer is. Die soms gestereotipeerde taal en Afrikaners/Afrikaanssprekendes het dit nie nodig nie.


Charles Malan
Koördineerder, Vrye Woord

 


 

 

Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index