Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Vrye Woord-nuusbrief – 24.06.2011: Inligtingswet heroorweeg, maar geensins geskrap nie


2011-07-21

Untitled Document

24.06.2011

Die groot nuus is dat die ANC hulle inligtingswet gaan heroorweeg. Dit beteken egter nog geensins dat dit herroep gaan word nie. Van hulle voorste besluitnemers weier steeds om toe te gee oor sulke kernklousules soos openbare belang. Wat maak dit immers vir ’n magsugtige party saak terwyl hulle eiebelang tot elke prys najaag? Lees onder dat instansies soos Afriforum met hulle protesplanne voortgaan.

Met die afsterwe van oudminister Kader Asmal het een van die baie min selfstandige denkers en protesteerders in ANC-geledere se stem stil geraak. Lees sy laaste weerstand teen die einste wet onder.

Die te stigte Afrikaanse Skrywersunie het ook hulle stem oorsee teen die beoogde wette verhef. Hulle verklaring word onder opgesom. Vrye Woord en die Afrikaanse Skrywersvereniging stem uiteraard heelhartig met hulle saam.

Dit is verblyend dat Verslaggewers Sonder Grense die kollig steeds tydens die Wêrelddag vir Vlugtelinge hou op die talle oorsese joernaliste wat onverskrokke vir vrye inligting veg.

Redaksielid Jeanette Ferreira se kommentaar: Kader Asmal se besware teen die wet op inligting is ten minste ’n bewys dat iemand onder die kaders gedink het, hy en Ronnie Kasrils, nogal. Wat geweldig ontstellend is, is Zuma se reaksie: “Alle bedenkinge daaroor moet hier in die parlement gedebatteer word.” Daar wórd in die parlement daaroor gedebatteer, Meneer die President, en die woord “debatteer” verwys na ’n situasie waarin daar nie reeds ’n besluit geneem is wat skynbaar ten alle koste deurgevoer gaan word nie, maak nie saak hoe daaroor gedebatteer word nie. En het u vergeet die parlement is nie ’n junta nie, maar ’n demokratiese instelling? Bowendien is daar veel meer as bedenkinge oor die wet; daar is protes en dit is op velerlei vlakke deur uiteenlopende groepe deurgegee.

Nog ’n redaksielid, Theresa Papenfus: ’n Voorste historikus sê in 'n private gesprek: "Persepsies veroorsaak oorloë." Dieselfde dag, dalk dieselfde tyd, vertel Julius Malema die ANC-jeugkonferensie: rassisme is in wittes se kultuur en om hulle (rassistiese) opvattings te verander is nie maklik nie. Voorheen het hy gesê wittes is misdadigers en boere moet geskiet word. Watter persepsie laat hy by almal wat hom aanhoor? Moet hy afgelag, doodgeswyg of aangevat word? Vir laasgenoemde sien die ANC-leiers duidelik nie kans nie.

 


Afriforum verwelkom ANC-besluit oor Inligtingswet

AfriForum het die ANC se besluit om die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting te heroorweeg, verwelkom.

Die ANC het vanoggend dié aankondiging gemaak en gesê dit is weens ernstige kommer wat deur senior ANC-lede en die burgerlike samelewing uitgespreek is. Afriforum het vroeër in ’n skrywe aan die voorsitter van die ad hoc-komitee bemoeid met die Inligtingswetsontwerp gesê dat hy regstappe sal doen indien dié wet in sy huidige vorm afgedwing word.

Die burgerregte-organisasie het reeds ’n senior advokaat aangestel om ’n regsmening op te stel waarin die redes waarom die konsepwet ongrondwetlik is, uiteengesit word. Hierdie regsmening gaan in die komende week aan die portefeuljekomitee vir justisie en aan die ad hoc-komitee gemoeid met die Inligtingswetsontwerp in die parlement oorhandig word.

Saam met die regsmening gaan AfriForum ook ’n lys van voorstelle oor hoe die wet gewysig moet word ten einde aan die Grondwet te voldoen, oorhandig.

“Die Grondwet waarborg deursigtige en verantwoordelike regering. Enige wetgewing waarvolgens inligting op ’n lukrake wyse gesensor kan word, sal nie aan hierdie vereistes voldoen nie,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Roets het bygevoeg dat toegang tot inligting die hoeksteen van ’n demokrasie vorm en dat AfriForum nou betrokke sal wees om te verseker dat die eindproduk van hierdie wet strook met die Grondwet en dat fluitjieblasers oor korrupsie behoorlik beskerm word.

Die regsmening en wysigingsvoorstelle sal Donderdag by die parlement oorhandig word.

 


Onttrek wet oor inligting – Asmal

2011-06-15  

Pieter du Toit, Beeld

Kaapstad. – Nóg ’n ANC-strydros het die voorgestelde Wet op die Beskerming van Inligting verwerp en die regering gevra om dit aan die wetgewer te onttrek.

Prof Kader Asmal, voormalige minister en ANC-intellektueel, sê in ’n ope brief mense gaan vertroue in die demokratiese proses verloor as die wet deurgevoer word.

“Die wetsontwerp is so diepliggend foutief dat ’n getorring met sy aanhef of klein veranderings hier en daar nie sy grondliggende aard sal verander nie: dit neem nie genoegsaam kennis van die aard van spraakvryheid nie,” skryf Asmal aan die versetliggaam Right2Know.

Asmal sluit hom aan by mnr Ronnie Kasrils, oudminister van intelligensie, wat die aanvanklike wetsontwerp in 2008 ná hewige teenstand onttrek het.

Pres Jacob Zuma het egter in sy repliek op eergister se parlementêre debat oor die presidensie se begroting geen tekens van versagting getoon nie. Hy het gesê die wetsontwerp het geen kwaadwillige doelstellings nie. “Alle bedenkinge daaroor moet hier in die parlement gedebatteer word.”

Asmal skryf hy het hom van openbare kommentaar weerhou omdat hy gemeen het die parlementêre ad hoc-komitee wat “die aaklige wetsontwerp” oorweeg teen dié tyd reeds deur die oorwig van openbare mening oortuig sou gewees het. En omdat die wetsontwerp wydlopende veranderinge aan bestaande wetgewing maak en swaar strawwe voorskryf, het hy verwag dat die minister sekerlik aanpassings sou maak.

“Aangesien dit nie gebeur het nie, laat my gewete my nie toe om dit net daar te laat nie. Ek vra alle Suid-Afrikaners om die wet in sy geheel te verwerp.”

Hy sê die Grondwet verskans nie net mediavryheid nie, art 16 beskerm ook die reg om inligting te ontvang, uit te deel of idees uit te ruil.

Asmal, “as ’n lojale ANC-lid wat gehelp het om aan die Grondwet te skryf en deel van interne ANC-debatte oor die kwessie was”, sê die regering moet ’n niepolitieke, onafhanklike liggaam saamstel om gepaste wetgewing voor te stel wat staatsinligting beskerm. So ’n wet se reikwydte moet nou wees en duidelik uiteensit wié wát as geheim mag klassifiseer.

Dit is vir hom duidelik die uitvoerende gesag het nie aandag gegee aan die beperkings wat die Grondwet op vryhede plaas nie en dit is onaanvaarbaar dat die konstitusionele hof – as die wet daarheen verwys word – die parlement se werk doen.

“Daar is geen skaamte daarin om die wet te onttrek en van voor af te begin nie. Die vorige regering het dit gedoen. Dis ’n bewys van selfvertroue om die regte ding op die regte manier te doen. Dít skiet tans tekort.”

 

Skrywers vra steun teen die inligtingwet

Beeld, 2011-06-19

Leopold Scholtz

Amsterdam. – Die aanvoorkomitee van die te stigte Afrikaanse Skrywersunie het ’n beroep op Nederlandse en Vlaamse skrywers gedoen om hom te steun in sy teenstand vir die beoogde Suid-Afrikaanse wetgewing om die media te muilband.

Die verklaring, wat eergister voor ’n vol saal op die Festival voor het Afrikaans in die Tropentheater deur Breyten Breytenbach voorgelees is, is met groot applous begroet.

Luidens die verklaring word Suid-Afrikaanse skrywers vir die eerste keer sedert 1994 deur sensuur bedreig.

Die wetgewing wat teen die media voorberei word, “sal verreikende gevolge hê vir skrywers wat hulle teen politieke misdrywe wil uitspreek”.

Dit “misken en ondermyn” die beginsel van vryheid van spraak. Gevolglik doen die aanvoorkomitee ’n beroep op Afrikaanse skrywers binne en buite Suid-Afrika om hulle ondubbelsinnig teen die wetgewing uit te spreek.

Dis die “ernstigste vergryp teen die demokratiese bedeling sedert Nelson Mandela en die ANC dit in 1994 tot stand gebring het”.

Voorts wil die komitee “die internasionale gemeenskap se aandag vestig op hierdie onrusbarende swaai in die rigting van ’n totalitêre bestel in Suid-Afrika”.

“Dit sal ’n geestesklimaat in Suid-Afrika skep soortgelyk aan dié van die 1980’s met die rassistiese regime van PW Botha in volle swang.

“Die steun van Nederlandse en Vlaamse skrywers sal hoog op prys gestel word,” lui die verklaring.

  • Die aanvoorkomitee van die te stigte Afrikaanse Skrywersunie bestaan uit Breytenbach, Andries Bezuidenhout, Gerrit Brand, Kerneels Breytenbach, Willie Burger, Marga Collings, Willem Fransman, Amanda Lourens, Desmond Painter en Andries Visagie.

 


Nuuskommentaar: Regering en die media stamp koppe – al weer

Herman Toerien

Dit het geen profeet behoef om te kon voorspel dat die verhoudinge tussen die regering en die media op ’n harde koppestamp sou uitloop nie. Veral na die omstrede mnr Jimmy Manyi as regeringswoordvoerder aangestel is, is voorsien dat die vonke sou spat. In die jongste sage het die nasionale redakteursforum, Sanef, ’n afspraak met Manyi se baas, minister Collins Chabne, aangevra.

’n Aspek wat behoorlik uitgeklaar moet word is wat Manyi gesê en bedoel het oor die wyse waarop regeringsadvertensies se geld toegedeel gaan word. In die media is omvattend berig dat Manyi die media blatant hiermee afgedreig het om positiewe nuusdekking vir die regering te beding – maw koerante en media wat ook die negatiewe berig, sou bakhand bly staan.

Manyi maak hierdie vertolking as fiksie af. Volgens hom kan die media maar kritiseer, maar dat die staat sy bronne sou skik om die massas regeringsinligting wat na die burgers gekommunikeer moet word, gekommunikeer te kry. Waarde vir geld, noem hy dit.

Dat dit nie heeltemal so eenvoudig is nie – Manyi en Sanef het regstreeks die saak probeer uitpluis en dit het op ’n breekspul uitgeloop.

’n Groot deel van die probleem is dat inligtingverspreiding noodwendig ’n groot deel subjektiwiteit behels.

Tot Sanef se krediet – dié instansie en veral sy voorsitter, Mondi Makhanya, het al dikwels gewys op die impak op gehalte wat allerlei mediabeperkings in Suid-Afrika plaas. Veral nuusredakteurs is geroskam om hul vlakke van algemene kennis te vergroot om ’n beter diens aan die lesers- en luisteraarspubliek te kan lewer. Veral tydens die afgelope landswye munisipale verkiesings het dit ook duidelik geword dat beleidsrigtings buite die heersende gedrukte norm, toenemend van sosiale netwerke en onafhanklike radiostasies gebruik moes maak om gehoor te word. Vroeër het Koos Bekker van Nasionale Pers selfs sy kommer oor die rol van gemeenskapsmedia uitgespreek, wat so gedagtediversifikasie bevorder en nasionale kohesie kan ondermyn.

Persvryheid kom met soet en suur – die voorstander van persvryheid moet dus ook bereid wees om boodskappe te hoor wat vir hom minder aangenaam op die oor val.  

Daar is nie wesenlike verskille tussen selfopgelegde mediasensuur soos politiek-korrekte gelaaide beriggewing, en owerheidsafgeforseerde sensuur nie.

Of Manyi ’n rehabiliteerbare woordvoerder vir die regering is, sal nog gesien moet word. ’n Hospitaal sal nie sommer ’n herontplooide munisipale bestuurder as hoofchirurg gaan aanstel nie. Tog, kom dit by die media, is geskikte kwalifikasies en agtergrond skynbaar geen vereiste nie vir die owerheid nie, en word sonder meer verwag dat ’n uiters komplekse vakgebied moet vlot ongeag die aanstellings. Die wiel word deurlopend herontwerp gewoon omdat die vakvreemde nie weet dit bestaan reeds nie. Boonop is die media een van die snels-ontwikkelende velde, en raak die staat al verder agter.

Om dit dan die media se probleem te maak is darem dik vir ’n daalder.   

 

WORLD REFUGEE DAY - Forced to flee but not silenced – Exile media fight on

To mark World Refugee Day on 20 June, Reporters Without Borders is paying tribute to those journalists who manage to continue working as journalists after being forced to flee their country. By so doing, they defy those who tried to silence them.

Journalists from many different countries were interviewed for the report, entitled Forced to flee but not silenced – Exile media fight on. Whether from Burma, Sri Lanka, Rwanda or Cuba, their accounts describe the plight of their fellow journalists and the violation of rights and freedom in their country. Their personal stories are often secondary.

These journalists feel compelled to keep reporting, in order to prevent a veil of silence from being drawn over their country, in order to thwart the press freedom predators who took pleasure in forcing them to flee abroad.

Reporters Without Borders is proud of the fact that it has been able to support some of the initiatives of these exile journalists, whether by providing funding or by helping to make others aware of what they are saying.

 


Vir ’n daaglikse grappie

 

 

Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index