Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

The Green Latern mag maar misgeloop word


André Crous - 2011-07-20

Regisseur: Martin Campbell
Kamerawerk: Dion Beebe
Rolverdeling: Ryan Reynolds, Blake Lively, Mark Strong, Peter Sarsgaard, Tim Robbins
Looptyd: 110 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 24 Junie 2011

 

Ag nee, man. Hierdie is regtig net ’n superheldfilm wat probeer geldmaak uit die algemene gewilligheid van kykers om dieselfde soort film oor en oor te sien. En dan word dit nie eens met enige passie hoegenaamd gedoen nie. Hier is dit Ryan Reynolds wat in ’n groen pakkie geklee is en ’n ring dra, nes meer as 3 000 ander wesens uit die res van die heelal, maar hy sal natuurlik die een wees wat die wêreld red, ten spyte daarvan dat hy, soos hy self erken, "net ’n mens" is.

Reynolds vertolk die rol van Hal Jordan, ’n waaghalsige vlieënier wat gekies word om een van die verdedigers van die heelal te wees. Hy word ’n groen ring, ’n groen kostuum en ’n groen masker gegee, alles gevorm uit "energie", en hiermee kan hy nogal die meisies, en sy beste vriend, beïndruk. ’n Bose mag in geel wil beheer neem van die heelal en Reynolds neem dit op homself om die held te wees, want sy pa was vir hom ’n held.

Die film het ’n netjiese lewenslessie sonder enige komplikasies, wat ons wil onderrig in die belang daarvan om vasberade te wees en nie moed op te gee nie, net spyte van enige vrees wat in ons lê of enige hindernis in ons pad. As ons ’n uitweg kan beraam, sal ons oorwin. En dit is nogal erg wanneer so ’n banale stuk kombuisfilosofie deel is van die film se mees cheesy toneel, wat terselfdertyd een van die film se beste tonele is. Wanneer so iets gebeur, weet jy die fliek is regtig nie goed nie.

The Green Lantern se visuele effekte maak ook ’n bespotting van tegnologiese vooruitgang en ek wou wegsink in my stoel tydens ’n groot deel van die film, omdat die beelde so swak is. Gelukkig was daar darem ook ’n bietjie aksie op Moeder Aarde self, maar sodra die karakters begin rondvlieg, het ons weereens te make met die swakste van swak visuele effekte.

Die film het niks nuuts om tot die genre van superheldfilms te voeg nie en jy kan dit maar misloop.