Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Harry Potter and the Deathly Hallows, Part II: Die einde van ’n era


André Crous - 2011-07-20

Regisseur: David Yates
Kamerawerk: Eduardo Serra
Rolverdeling: Daniel Radcliffe, Ralph Fiennes, Emma Watson, Rupert Grint, Alan Rickman, Helena Bonham Carter
Looptyd: 130 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 15 Julie 2011

Die einde van die reeks en die einde van ’n era. Dié aflewering, die tweede helfte van die laaste boek se verhaal, beantwoord baie vrae en skets ’n hele paar karakters as meer kompleks as wat ooit vantevore gedoen is. Veral Snape sorg vir ’n paar oomblikke van totale menslikheid wat ook, vir my, vir die mees aangrypende toneel in die hele film gesorg het.

David Yates, wat vir die regie van vier van die agt films gesorg het, dis hier ’n uitstekende voorstelling van die eindtye aan, wat nooit oorboord gaan nie en nie uitgerek word vir effek nie. Hy het dit ook uiteindelik reggekry om heeltemal weg te doen met die verwronge "oulikheid" wat in die verlede so dikwels op die karakters en hul situasies afgedwing is.

’n Hele aantal tonele uit vorige aflewerings word hier bygewerk en skep selfs vir die leek ’n heel bevredigende prentjie van gebeure tot op hede, hoewel ’n kyker wat glad nie met die reeks vertroud is nie, waarskynlik nog baie vrae sal hê oor die werkinge van die Harry Potter-wêreld. Selfs iemand wat die reeks films al almal gesien het, kan dalk nog vrae hê en hoewel dit moontlik noodwendig die geval is by verwerkings van boeke na film, is dit ook ’n bewys dat die draaiboekskrywer, Steve Kloves, wat ses van die sewe boeke tot draaiboekvorm verwerk het, op een of ander stadium nog hulp moes ingekry het.


Dit is lekker om soveel karakters weer vir oulaas te sien en almal tree op soos volwaardige, geloofwaardige karakters, met die uitsondering van arme Draco Malfoy se pa, Lucius, wat hier in ’n patetiese papsak verander het. Draco, daarenteen, se karakter is oneindig meer ingewikkeld as vantevore en dit is verblydend om te sien dat die vervaardigers nie volhard met hul aanvanklik simplistiese uitbeelding van die karakters nie.

Die film pas goed by die res van die reeks, en is een van die beste aflewerings. Dit sal die liefhebbers van die boeke gelukkig maak en ’n werklik vermaaklike einde wees van ’n andersins ewe opwindende reeks.


Klik op die skakels om nog resensies van die Harry Potter-films te lees: