Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Terugflits: Die Harry Potter-reeks – Deel II


André Crous - 2011-07-20

Untitled Document


Met die aanvang van die tweede helfte van die Harry Potter-reeks – dit wil sê die laaste vier films – is daar orde geskep in die huis van hierdie superproduksie. Terwyl die eerste vier films onder leiding van drie verskillende regisseurs was, almal met dieselfde ou John Williams-musiek, is hierdie twee aspekte hersien vir die laaste paar films: John Williams is eers vervang deur Nicholas Hooper, wat ’n ongelooflike energie na die klankbaan gebring het, en daarna deur Alexandre Desplat, wat ’n ewe sterk aanvoeling vir die reeks se musiek gehad het. Die laaste films het almal David Yates in die regisseurstoel gehad en sy visie was konsekwent van pas.

Hieronder verskyn kort opsommings van die laaste films, insluitende die laaste film in die reeks, wat op 15 Julie in Suid-Afrika vrygestel is.

  1. Harry Potter and the Order of the Phoenix (2007): Nicholas Hooper se besondere musiek was die groot teken dat dinge verander het in die produksie van hierdie reeks. Cho, ’n jong meisie wat in Harry Potter and the Goblet of Fire verskyn het, knoop ’n kortstondige romanse met Harry aan voordat sy onverwags uit die verhaal weggeruk word. Imelda Staunton, wat die rol van my gunstelingskurk in die reeks vertolk, Dolores Umbridge, maak ook haar verskyning.



  2. Harry Potter and the Half-Blood Prince (2009): Dumbledore speel hier ’n belangriker rol as ooit vantevore terwyl Draco daarop uit is, op aandrang van sy pa en van Valdemort, om hom uit die weg te ruim. Die film is duidelik die begin van die einde van die verhaal en dinge tel vinnig spoed op namate die film afstuur op sy skokkende klimaks.



  3. Harry Potter and the Deathly Hallows, Part I (2010): Die film is glad nie so stadig soos ’n mens sou verwag nie. Ja, dit berei ons voor op die onvermydelike adrenalien van die groot finaal in Deel II, maar daar gebeur heelwat om die aandag te hou en die brein te laat werk. Die animasie waardeur die verhaal van die "Deathly Hallows" aangebied word, is baie effektief en ek dink nie ek sal sommer hierdie nuutgeskape mite vergeet nie.



  4. Harry Potter and the Deathly Hallows, Part II (2011): ’n Waardige einde vir die reeks, waarin Harry en Valdemort mekaar die stryd aansê, die karakters ’n veel meer komplekse sy openbaar en die jongmense in die algemeen nie meer soos kinders uitgebeeld word nie. Wat my veral beïndruk het, was die fokus op die karakters te midde van die epiese verhaal en hoewel daar soms spronge is wat slegs deur lesers van die boeke ingevul kan word, is die indruk by die kyker een van totale belangstelling.  

 

Klik op die skakels om nog resensies van hierdie reeks films te lees: