Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Die Taalwet se haalbaarheid


Jason Lloyd - 2011-07-20

Untitled Document

Hoe prakties haalbaar is die volle implementering van die voorgestelde Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale? In beginsel is dit ’n wonderlike idee wat moet toesien dat al 11 amptelike tale soos verskans in die Grondwet (Wet 108 van 1996) ten volle gelyke status moet geniet. Die reg van alle persone om sy of haar taal sonder vrees te kan praat of te skryf behoort ’n ononderhandelbare burgerlike vryheid van elke grondwetlike demokrasie te wees. Vanweë die staat se grondwetlike verantwoordelikheid – soos vervat in artikel 6(2) van die Grondwet – moet die staat die voorloper wees om dié  grondwetlike reg ’n werklikheid te maak.

Vroeër vandeesmand het dit bekend geword dat dié wetsontwerp uiteindelik gereed is om aan die parlement voorgelê te word. Dit bevat belangrike bepalings wat alle staatsdepartemente en staatsbeheerde instellings sal dwing om ’n taalbeleid te aanvaar. Voorsiening word ook gemaak vir die totstandkoming van ’n nasionale taaleenheid en vir taaleenhede binne elke staatsdepartement.

Ingevolge artikel 6(4) van die Grondwet moet die regering ’n taalwet in werking stel. Artikel 6(5)(a)(ii) gaan verder en bepaal dat die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad gunstige toestande moet skep om die Khoi-, Nama – en San-tale te ontwikkel en ook  te bevorder.

Te maklik gesê as gedoen.

Teen die agtergrond van die toenemende verengelsing van die staatsdiens en die privaatsektor sedert 1994 en die chroniese afskeep en onderdrukking van inheemse tale gedurende apartheid gaan dit geen maklike taak wees nie. Trouens, ’n deeglike bestekopname van die globale oorheersing van Engels dwing my amper om te sê dit is ’n onmoontlike taak. Maar, wil ek ook byvoeg – waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. En dit gee hoop.

Onwillekeurig kom die vraag egter by my op: Hoekom gaan die voorgestelde wetsontwerp net van toepassing wees op staatsdepartemente en ander staatsinstellings? Wat van die privaatsektor? 

Engels is nie bykans die alleentaal van kommunikasie in net die staatsdiens nie, maar ook in die privaatsektor. Daarteenoor bied die privaatsektor die meeste werksgeleenthede in vergelyking met die staatsdiens en moet reeds daarom ook aan die wetsontwerp – indien dit ooit wet gaan word – onderwerp word. Die minister van kuns en kultuur behoort leiding in dié verband te gee om seker te maak die privaatsektor beweeg nie buite die perke van die wet nie.

Wat ook in gedagte gehou moet word, is dat ’n wet ook maar net ’n stuk papier is en dat mense nodig is om dit te implementeer. En belangriker: daar moet mense wees wat bereid is om al die ander tale – behalwe Engels – aan te leer, te praat en ook te skryf.

Die wil  onder sommige swart mense om hul eie tale se hoër en wetenskaplike funksies ten volle te bemeester ontbreek tans. Dit veroorsaak ’n tekort aan ’n stewige fondament van hul onderskeie moedertale – wat hul andersins sou kon gebruik het as basis om veral Engels goed onder die knie te kry. Een van die redes vir die jaarlikse swak matriekuitslae is die gevolg van veral sommige swart matrikulante (in die breë generiese sin van swart, want veral sommige sogenaamde Afrikaanse bruines is geneig om hul kinders swak Engels te leer) wat ’n gebrekkige kennis het van hul eie moedertaal en dus ook van Engels.

Studies wêreldwyd het alreeds bewys dat moedertaalonderrig van kardinale belang is in die ontwikkelingsfase van enige kind. Dit stel die kind in staat om belangrike konsepte in sy of haar moedertaal onder die knie te kry. Die gevolg is dan ’n stewige fondament in die kind se moedertaal waarop ander tale later suksesvol aangeleer kan word.

Die ander kwessie wat die volle implementering van die wetsontwerp kan kniehalter, is die gebrek aan geld of die gebrek aan die wil om meer geld vir dié doel beskikbaar te stel. Om jaarverslae of die notules van vergaderings, hetsy van die staat of van die privaatsektor, in al 11 amptelike tale – of in die tale wat in ’n spesifieke streek/provinsie gebruik word – te skryf of te vertaal en nog boonop te druk kan baie duur wees. Nie lank gelede nie het Rapport berig dat die meeste historiese “Afrikaanse” maatskappye nie meer hul jaarverslae in beide Engels en Afrikaans druk nie. Die maklike uitweg (of is dit?) is natuurlik om dit in Engels te druk. Om die jaarverslae in beide tale te druk gaan te duur wees, so word daar gesê. Dit bevorder ongelukkig nie veeltaligheid nie, want veral belangrike dokumente soos jaarverslae is dan verlore vir die meerderheid wat nie Engels magtig is nie.

Ten spyte van al die struikelblokke op ons pad om ons 11 amptelike tale gelyke status te gee is die voorgestelde Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale die eerte stap in die rigting van ’n veeltalige samelewing in Suid-Afrika. Dit gee hoop. Alles kan mos nie net Engels wees nie. Veral gegewe die feit dat slegs 9 persent van ons bevolking Engels as huistaal beoefen.