Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: ’n Interpretasie van Leipoldt se Die heks – Marisa Keuris lewer kommentaar


Marisa Keuris - 2011-07-18

Marisa Keuris reageer op die artikel “‘My sonde is steeds voor my’: Die rol van belydenis in C Louis Leipoldt se Die heks (1923)” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Thys Human.

Thys Human se artikel waarin hy ’n aantal “problematiese” aspekte van Leipoldt se Die heks beskou vanuit ’n interpretasie waarin die rol van belydenis voorop gestel word, is ’n interessante herlees van ’n baie ou drama (Die heks is in 1923 gepubliseer). Die mees resente kommentaar van ’n Afrikaanse literator op hierdie drama volgens sy bronnelys is prof Louise Viljoen se kort bydrae in Perspektief & Profiel (1998). Dus: na ’n stilte van 13 jaar ’n nuwe bydrae!

Verskeie bekende literatore het natuurlik in die verlede kommentaar gelewer op Leipoldt se drama (onder andere Brink, Cloete, Conradie, Kannemeyer en Smuts) en Human erken ook in ’n kort oorsig die meeste van hulle bydraes.

Thys Human se uitspraak voordat hy die “probleemstelling” begin argumenteer, naamlik dat die vorige literatore nie werklik die historiese konteks in gedagte gehou het in hulle besprekings/interpretasies van die drama nie (“terselfdertyd skep die literatore se verklarings die indruk dat die heks … slegs toevallig teen die agtergrond van bepaalde historiese gebeure (die heksevervolgings in Wes-Duitsland vroeg in die 15de eeu) afspeel”), is dalk te sterk gestel. Ná my eie herlees van die bronne is daar wel duidelik tog verskeie van die literatore wat heel duidelik die historiese konteks betrek in hulle besprekings van die drama, onder andere Kannemeyer in sy Blokboek, asook Brink in sy Voorwoord tot Die Hamer van die hekse; ’n drama in ses episodes gebaseer op Die heks van C Louis Leipoldt (1976). In sy Voorwoord verwys Brink pertinent na ’n aantal historiese gegewens (onder andere dat die Kardinaal se titel – die “Hamer van die hekse” – ontleen is aan die “beroemde/berugte handleiding vir Inkwisiteurs, die Malleus maleficarum wat tussen 1480 en 1490 voorberei en gepubliseer is “, ens). In ’n bespreking wat oor drie bladsye strek, gee Brink vervolgens redelik inligting oor die rol en praktyke van die inkwisiteur en verskaf selfs inligting oor drie bronne wat hy as “sleutelwerke” oor die inkwisisie en heksevervolging van daardie tydperk beskou. Nie een van hierdie drie bronne is in Thys Human se bibliografie opgeneem nie.

Brink se drama waarin hy “so min as moontlik aan Leipoldt se teks in die sentrum” verander het, “hersienings” wat “hoofsaaklik stilisties van aard” is, aangebring het en “aanvullings vóór en ná Leipoldt se stuk” gemaak het, spreek ook die meeste van die kwessies aan wat Human as “problematies” uitwys. Dit is dus vreemd dat Human glad nie na hierdie drama van Brink verwys in sy bespreking en hierdie belangrike bron in sy bibliografie opgeneem het nie.   

Vervolgens kort opmerkings oor die vier aspekte wat Thys Human onderskei ten opsigte van Leipoldt se drama as aspekte wat die meeste van bogenoemde literatore as “problematies” sou uitgelig het.

Die heks as eenbedryf

Die meeste van die genoemde literatore (behalwe Cloete in Vyfling) verwys nie regtig direk na hierdie aspek nie, maar verwys in hulle besprekings dikwels net na die “drama” en die drie onderskeie “tonele”. Cloete (1967:1) noem dat ’n eenbedryf volgens hom “maar min of meer dieselfde eienskappe as die meerbedryf het, behalwe dat dit kompakter is, gouer afloop en net een bedryf het, waarin die handelingsverloop na tyd en plek liefs nie onderbreek word nie”. Alhoewel Cloete wel bietjie ongemaklik is oor Die heks se plasing in ’n “bundel eenbedrywe”, besluit hy tog heel pragmaties dat die bundel andersins nie van veel waarde sal wees as Leipoldt se werk uitgelaat word nie! Die meeste literatore bespreek egter gewoon die drie tonele asook hulle samehang sonder om te veel te pieker oor wat ’n definisie van ’n eenbedryf nou wel sou inhou. Thys Human se eie bespreking van die drie tonele (gerig deur sy spesifieke invalshoek van die belydenis) is ’n interessante en heel oortuigende lees van hierdie tonele.

“Die heks” as titel

Oor hierdie aspek is daar wel heelwat kommentaar gelewer en Human is korrek om dit as ’n problematiese gegewe uit te lig. Dit is egter vreemd dat hy nie daarna verwys dat Leipoldt sy drama aanvanklik betitel het as Die hamer van die hekse (1920) nie en eers ná die stuk hersien is, dit in 1923 as Die heks gepubliseer het (Kannemeyer, 1977:3; Brink, 1976: Voorwoord). Dalk moes Leipoldt eerder gebly het by die ou titel of sy drama eerder Die kardinaal genoem het, soos wat Cloete in sy bespreking suggereer. Dit is egter so dat ’n titel soos “Die heks” ’n sekere dramatiese impak maak op die leser/toeskouer en dat Elsa (die “heks”) in hierdie drama wel die Kardinaal se lewe ingrypend en dramaties verander. Hier oortuig Thys Human se voorstel dat ons die “Kardinaal” moet beskou as “’die heks van die dramatitel” my nie. Alhoewel die onskuldige Elsa duidelik nie ’n werklike heks is nie, word sy wel so betitel in die karakterlys, asook deur haar eie ironiese selfbeskrywing. Alhoewel die Kardinaal skuldig is aan sekere misdrywe, maak dit hom steeds nie ’n “heks” nie. Myns insiens is die vroulike persoonsvorm van die woord ook te sterk aanwesig om op die manlike Kardinaal van toepassing gemaak te word. 

Flouwording van die Kardinaal en verslapping van die spanningslyn

Die feit dat die Kardinaal op ’n kritieke tydstip flou word (naamlik tydens sy besoek aan die “heks”, Elsa en haar/sy eie dogter), is deur die meeste van die genoemde literature bespreek en deur sommiges gekritiseer (onder andere Brink, 1974:119). Ander beklemtoon weer dat die leser/toeskouer daarop voorberei word deur die swakheid en voorafgaande floutes van die Kardinaal (onder andere Conradie, 1974:32). Dit is so dat reeds by die eerste toneel verskeie kere verwys word na die Kardinaal se fisiese swakheid en dat die emosionele uitbarsting van Elsa in die tweede toneel (die sg “dodekomedie”) hom in ’n fisiese beswyming kon laat verval het wat gekeer het dat hy betyds ontwaak om die twee vroue die volgende oggend van die brandstapel te red. Myns insiens is hierdie gegewe nie die werklike probleem in hierdie drama nie. Ná die emosionele konfrontasie en dramatiese klimaks van die tweede toneel is dit eerder die stadige gang van die derde toneel wat pla (ook uitgewys deur Kannemeyer, 1977:16). Al speel dramatiese ironie natuurlik ’n groot rol in die slottoneel, is dit nie genoeg om te verhoed dat die drama te stadig afeindig nie. Thys Human probeer om met sy invalshoek (’n fokus op die Kardinaal se “skuldbelydenis”) hierdie kritiek te verswak, maar oortuig my nie heeltemal nie.

Dus: al is ek nie heeltemal oortuig dat Thys Human se “nuwe” lees van Leipoldt se Die heks al die vrae rondom hierdie drama beantwoord nie, vind ek sy bydrae wel insiggewend en hierdie interpretasie van die drama waardevol.


<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<