Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: ’n Interpretasie van Leipoldt se Die heks – Jacomien van Niekerk lewer kommentaar


Jacomien van Niekerk - 2011-07-18

Jacomien van Niekerk reageer op die artikel “‘My sonde is steeds voor my’: Die rol van belydenis in C Louis Leipoldt se Die heks (1923)” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Thys Human.

Die Afrikaanse drama het nog altyd aan die agterspeen gesuig in die akademie. In vergelyking met die rakke en rakke gepubliseerde romans, kortverhale en gedigte wat ’n mens in die Afrikaans-afdeling van jou gemiddelde universiteitsbiblioteek aantref, vul die gepubliseerde dramas ’n baie klein area. Eweneens is die klompie verhandelings en proefskrifte wat in die Afrikaanse drama onderneem is, waarskynlik minder as dit wat net oor die digter Breyten Breytenbach deur nagraadse studente alleen nagevors is. Ten opsigte van amptelike publikasies was Brink se Aspekte van die Nuwe Drama (1974) natuurlik ’n hoogtepunt, maar min ander akademici het hulle so volledig en grondig in die drama ingewerk. Daar was in die sewentiger- en tagtigerjare ’n klein bloeitydperk waartydens ’n aantal versamelings literêre opstelle oor die drama gepubliseer is (vreemd genoeg, feitlik almal met dieselfde soort dubbeltitel): Spanning en ewewig (Conradie, 1972) – ’n bron waarna Human in sy artikel verwys; Beeld en bedryf (Senekal, 1978); Spel en spieël (Malan, 1984); Oog en spel (Pretorius, 1987); Tema en tegniek (Du Toit en Kloppers, 1989); en ander. Hierdie stroompie het in die negentigerjare egter byna volledig opgedroog, afgesien van Keuris (1996) se handleiding oor die drama, wat uitstekende ontledings van bekroonde Afrikaanse dramas bevat. Daarbenewens is dit eers in die afgelope paar jaar dat daar weer enkele tekens van lewe in die bestudering van die Afrikaanse drama is.

Eerstens verskyn daar in elk van die bande van die nuwe Perspektief en Profiel (redakteur: Hennie van Coller) ’n oorsig oor die Afrikaanse drama, mees onlangs dié van Coetser (2006). Verder blyk Departemente Afrikaans bewus te geword het van die feit dat die drama vir te lank afgeskeep is en van die belangrikheid van die bestudering daarvan naas die prosa en poësie, wat ’n onbetwiste sentrale rol in onderrig en navorsing beklee. Een uitvloeisel van hierdie bewustheid is ’n nommer van Stilet (2010, nr 1), met Thys Human as redakteur, wat gedeeltelik aan artikels oor die Afrikaanse drama gewy is en waarin dramas soos Germanicus (Van Wyk Louw), Kaburu (Deon Opperman) en die musiekblyspel Ghoema bespreek word (die aantal drama-bydraes was uiteindelik egter teleurstellend laag). Nou het Human in sy persoonlike hoedanigheid nog ’n bydrae gelewer met ’n herwaardering van Leipoldt se klassieke drama.

Die heks was nog altyd een van my gunsteling- Afrikaanse dramas. As ek mooi dink, was dit moontlik selfs die eerste drama wat ek gelees het (ons het dit op skool in die destydse standerd 8 behandel). Hoewel ek deeglik bewus was van die problematiese aspekte van die drama wat Human aan die begin van sy artikel uiteensit, het dit my nogtans al die jare gepla wanneer literatuurhistorici ietwat minagtend oor Die Heks skryf en effektief die aangrypendheid en meesleurendheid van die toneelstuk ignoreer. Human slaag oortuigend daarin om die einste problematiese kwessies bevredigend op te los deur ’n nuwe lees van die drama aan te pak.

Dit is opvallend dat Human ’n vollediger interpretasie nastreef waarin konteks ’n belangrike rol speel teenoor die beperkte teksgerigte literêre kritiek van die verlede. Hoewel Leipoldt self belangrike verklarende notas by Die heks gepubliseer het, het vroeëre ontledings van die drama gekonsentreer op tegniese aspekte soos die bou van die drama, met die gegewe van die tyd en plek waar die drama afspeel bloot toevallig (Human 2011:261). Wat Human gedoen het, was om te gaan vra waarom Leipoldt juis Duitsland gekies het vir die setel van gebeure wat tussen ’n Italiaanse kardinaal en twee Italiaanse “hekse” afspeel. Hy toon (in reaksie op kritiek dat die toneelstuk onbevredig eindig) aan dat Duitsland die land is waar die meeste heksejagte in Europa uitgevoer is en voer boonop aan dat die feit dat die heksejagte nog tot in die 18de eeu in Duitsland plaasgevind het, verhoed dat die kardinaal in Die Heks in 1425 in opstand kon kom teen die praktyk. Ander belangrike kontekstuele inligting is die wyse waarop daar gepoog is om deur middel van foltering ’n belydenis van skuld van die aangeklaagde “hekse” te verkry (Human 2011:266-7).

Human verwys ook na die intertekstuele verband tussen Die Heks en “Das Hexenlied” deur Ernst von Wildenbruch (wat vroeër deur ‘n ene MPO Burgers uitgewys is). Dit is vir my jammer dat Human uit die Engelse vertaling aanhaal sonder om die oorspronklike Duitse weergawe van die gedig vir die leser beskikbaar te stel, maar dit is ’n kleinigheid. Human gaan verder as Burgers deurdat hy die belangrike rol van belydenis in “Das Hexenlied” raaksien en dit skakel met die kern van sy betoog, naamlik die sentrale rol van belydenis in Die Heks. Volgens Human is die hoof strukturerende elemente van die drama die verhoor van Elsa en Janetta en die “gewetensverhoor” van die kardinaal. Uiteindelik kontrasteer die gebrek aan skuldbelydenis by die vroue (ten spyte van foltering) met die stelselmatige selffoltering en klimaktiese belydenis van die kardinaal.

Ek vind Human se gevolgtrekking uiters interessant: dat die kardinaal uiteindelik “Die heks” van die toneelstuk is, omdat hy hom aan bose dade skuldig gemaak het in sy genadelose vervolging van onskuldige vroue. Deur die teks oor ’n heel ander boeg te gooi as ander kritici, kry Human dit reg om by ’n samehangende ontleding en interpretasie van die drama uit te kom wat die gebreke van Leipoldt se teks opnuut laat vervaag in die lig van wat hy wél met Die heks vermag het.

Human se artikel is ’n klein maar belangrike bydrae tot die “body of work” oor die Afrikaanse drama, en dit is beslis nodig dat méér ouer dramas op hierdie wyse herwaardeer word om die gapings in die bestaande kritiek en teorie oor die Afrikaanse drama te help vul. Natuurlik is toonaangewende navorsing oor onlangse dramas óók broodnodig – maar gesien hoe min dramatekste deur uitgewershuise gepubliseer word, sal ouer tekste nog lank stof vir navorsers moet verskaf.

Bronne

Brink, AP. 1974. Aspekte van die nuwe drama. Pretoria: Academica.

Coetser, J. 2006. Van millenium tot millenium: Afrikaanse drama en teater circa 1990 tot circa 2003. In Van Coller (red), Perspektief en Profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis III. Pretoria: JL van Schaik.

Conradie, PJ. 1972. Spanning en ewewig. Pretoria en Kaapstad: Academica.

Du Toit, PJ en A Kloppers. 1989. Teks en tegniek .’n Inleiding tot fasette van die drama. Pretoria: Academica.

Keuris, M. 1996. Die dramateks: ’n Inleiding. Pretoria: JL van Schaik Akademies.

Malan, C (red). 1984. Spel en spieël. Besprekings van die moderne Afrikaanse drama en teater. Johannesburg: Perskor.

Pretorius, R. 1987. Oog en spel. Opstelle oor die drama. Pretoria: JL van Schaik.

Senekal, JH (samesteller). 1978. Beeld en bedryf. Inleidende opstelle oor fasette van die Afrikaanse drama. Pretoria: JL van Schaik.


<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<