Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Innibos-fees: Daai V-Ding is voortreflik in ’n soort comedia dell'arte-styl


Paul Boekkooi - 2011-07-15

Met Esther von Waltsleben en Jan-Hendrik Opperman.
Regie: Francois Toerien
Gradering: Volwassenes Geen 0/16

Kyk, teater moet die fantasie prikkel, anders het dit nouliks ’n bestaansreg. Daardie fantasie moet ook in ’n vrydenkende, innoverende styl en binne die universele ambiance en waardes van die produksie na vore kom.

Daai V-Ding deur Esther von Waltsleben en Jan-Hendrik Opperman het die kwaliteite van ’n magiese kinderteaterproduksie, maar jy moet 16 wees om dit te kan sien. Dit praat met almal wat die lewe veels te ernstig opneem, wat moet stoom afblaas en dan kan begin lag oor alles wat in die proses kan verkeerd loop. En dit dóén.

Reeds met die intrapslag besef die kyker die twee akteurs is nou nie juis lus vir hulle kinderteater-show wat moet gereed kom nie. Die vorige ouens wat die verhoog gebruik het, het niks opgeruim nie. Dit lyk vieslik en wie is nou lus om ander se gemors op te ruim?

Met dié warrelwindagtige struktuur en tempo wat die regisseur Francois Toerien vestig en handhaaf, is dit amper of jy deur ’n strokies-verhaal in boekvorm blaai en op dele daarvan zoem. Bowendien, met twee akteurs soos dié paartjie, vloei alles hoogs natuurlik voort uit en bewys hulle hoe voortreflik hulle ’n soort comedia dell'arte-styl met beweging, mimiek en ’n sirkusagtige lafheid onder die knie (en baie daarbó) kry wat hulle met die gehoor deel.

’n Mens het ook ’n spesmaas dat heelwat improvisasie en ’n slypproses dit alles voorafgegaan het wat uiteindelik die basiese spontaneïteit van die produksie aansienlik verhoog het.

Vir wie is Daai V-Ding dan uiteindelik bedoel? Myns insiens vir almal wat wil uitrafel en daarvan oortuig wil word dat dit help om selfs die grootste katastrofes in die lewe deur ’n gekleurde bril te bekyk om sodoende ’n kaleidoskopiese visie daarop te kry en daarvoor te lag.

Binne Von Waltsleben en Opperman se spel word ook die soort kameraadskap ontdek wat in elke goeie verhouding kán floreer. Daar word heeltyd daarmee gespot dat sy 10 jaar ouer is as hy, terwyl sy in talle tonele hom heeltemal wil verpulp - dalk omdat die meeste vroue eers gelukkig is as hulle kan domineer (sê ek as man). Maar hier ontwikkel dit nooit in ’n War of the Roses-tipe trauma nie.

Dié aanbieding doen vanjaar se Innibos-tema, "Dans in Afrikaans" al te lekker en heelhuids gestand.

 

 

  • Hierdie resensie het verskyn in die Innibos-feeskoerant: Muskiet/Laevelder