Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Innibos-fees: My pa dink hy's Elvis is hartverskeurend eg


Paul Boekkooi - 2011-07-15

Met Ben Kruger en Viljé Maritz.
Teks: Reinet en Jan-Jan Nagtegaal
Vervaardiger: Genugtig! Produksiehuis
Produksiebestuur: Bev Maritz
Verhoogbestuur: Gaerin Hauptfleisch
Regie: Albert Maritz
Gradering: Gesin

Dit begin lyk asof Innibos 2011 spesifiek blom met tweepersoon-skeppers en tweepersoon-stukke. Daar's ook intertekstuele tweegesprekke, soos in hierdie teks deur die skryfpaar Reinet en Jan-Jan Nagtegaal.

Dié stuk handel oor soveel meer as ’n man wat die (platte)land met sy Elvis-nabootsing platry en, soos hier, die goedgelowigheid van sy gehore annekseer met sy sjarme. In my lewe het daar al ’n hele paar aspirant-Elvisse op die verhoog en daarbuite my professionele pad gekruis, maar Ben Kruger s’n ruil ek nie vir één van hulle nie.

Dis juis omdat Kruger die broosheid van sy karakter - vokaal, maar veral ook as mens met ’n verlede wat in sekere opsigte onherroeplik tragies is - met ’n oortuigende innerlike dimensie aanvat. Maar voorts is dit ook ’n stuk oor een van die mees verwikkelde tipe verhoudings wat bestaan: dié tussen pa en seun - en dan in besonder as die seun juis die laaste jaar van sy tienerbestaan binnegaan.

Hy is Hennie van Zyl en hy word met ’n sielsmeevoerende egtheid gespeel deur Viljé Maritz. Sy opstandigheid is nie van die gewone tienersoort nie, maar het ’n veel dieperliggende oorsaak. Sy pa en ma se verhouding is koud en afstandelik, lei ons al vroeg in die stuk af. Ons sien haar nooit, maar haar stem dring as derde persoon dié stuk met ’n verbasende vlak van volrondheid binne.

In die aanloop tot die vertoning in Philippolis in die Karoo kom ’n menigte konflikte tussen pa en seun na vore - vererger deur eersgenoemde se liefde vir chardonnay, die wyn, sy haat vir elektroniese sigarette en sy bekommernis oor die feit dat  ’n klein gehoor hul opwagting gaan maak.

Maar soos die aand vorder, kruis heelparty ander '’verledes’' die pa en seun se pad en word hulle met uiterste sake in hul lewens gekonfronteer - in besonder waar dit die vrou en moeder betref. Die inhoud van ’n brief geskryf aan Van Zyl sr wou hy nie aan Hennie oordra nie, maar hy word daartoe gedwing.

Gehore wat deur die titel van die stuk getrek word, kry ook hulle volle pond ten opsigte van waarde. Elvis se grootste treffers, soos "Love me tender", "Heartbreak hotel" en talle ander maak hul verskyning en Ben Kruger se stem is eksieperfeksie, terwyl hy die tipiese Elvis-bewegings oordoen om sy gehore, wat nie van beter weet nie, te oortuig.

My pa dink hy's Elvis het baie meer emosionele opstoppers as wat enigiemand sou kon verwag. Sommige grens byna aan melodrama, maar dit werk met die derms. Met die uitstap, sê ’n vrou vir ’n man wat voor my stap dat "dit nie juis baie komies was nie". Dis reg. Dit was eerder hartverskeurend eg.

 

 

  • Hierdie resensie het verskyn in die Innibos-feeskoerant: Muskiet/Laevelder