Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Innibos-fees: Janneman is ’n allesvereisende emosionele wipwaentjierit


Paul Boekkooi - 2011-07-15

Met Sandra Prinsloo, Franci Swanepoel en Hannah Borthwick.
Teks: Elain Murphy, vertaal deur Hennie van Greunen
Regie: Hennie van Greunen
Produksiebestuur: Pedro Kruger
Verhoogbestuur: Jeanne Steenkamp
Gradering: Volwassenes (TS)

Janneman is ’n allesvereisende emosionele wipwaentjierit. Dit raak elke teaterganger op ’n individuele manier. Baie van hulle gaan dink hulle het dit reeds lank afgesterf. Dit grens by tye ook aan die uiters melodramatiese, maar die leisels word geanker en styf vasgehou om  te verhoed dat die produksie enigsins begin  om uit te rafel.

 Dít in kort is waaroor Elain Murphy se teks handel - weer ’n uitdagende een van oorsee wat deur Hennie van Greunen gevind, onder hande geneem, vertaal en van ’n Suid-Afrikaanse konteks voorsien is. ’n Stuk soos dié laat jou, terloops, ook so ietwat bekommerd oor die gebrek aan plaaslike dramas en die feit dat daar so relatief min inheemse stukke floreer vanuit ’n bodem met ’n oormaat aan verhale - waar én fiktief.

Wonderlik aansteeklik is die ewewig wat Janneman behou tussen komedie en drama en die abrupte kontraste wat die oorspronklike Ierse dramaturg met ’n oorweldigende trefkrag manipuleer en jou na jou asem laat snak.

Basies handel dit oor drie geslagte vroue, ’n ouma Karien (Sandra Prinsloo), haar dogter Lorraine (Franci Swanepoel) en Karien se kleindogter Ané (Hannah Borthwick) wat die tipiese kenmerke van wat presies binne elke generasiegaping skuil, met hulself soos bagasie saamdra.

Elkeen is ’n redelik getroue produk van haar tyd: Karien, reeds 45 jaar getroud met Janneman, is opofferend, gelukkig, maar nie ongevoelig vir haar eie behoeftes nie. Lorraine se man het haar verlaat en tot kort tevore heeltemal verdwyn. Haar lewe is onvervuld, maar by dansklasse ontmoet sy ’n man wat haar verras en iets van ware léwe aan haar terugbesorg.

Wat nouliks verras is Ané se opstandigheid, haar neiging om saam met vriende uit te freak, haar los verhoudings wat vir haar basies betekenisloos bly. Dat sy ’n ma gaan word is byna simptomaties van die algehele koerslose bestaan waarin sy haar bevind.

Hennie van Greunen het in sy regie die grense tussen die uiterstes in menslike ervaring en reaksies so ver moontlik geskuif en gemanipuleer, maar dit op koers gehou.

Sandra Prinsloo se vertolking van Karien is helder omlyn, op so ’n aangrypende manier bykans onderspeel, dat sy ’n ware "mensch" van vlees, bloed, en behoeftes (waaroor sy nie durf swyg nie) word.  Elke sin wat sy uiter, dra die regte gewig.

Soms sal ’n (weeg)skaal dit nie eers registreer nie. ’n Ander keer, soos wanneer sy haar leed oor haar oorlede Janneman in ’n hartekreet uiter, breek die spreekwoordelike skaal byna.

Maar dis ook sy wat die grootste lagbuie ontketen - veral met haar beskrywings van die sekshulpmiddels van groen plastiek wat sy op advies by Adult World gaan aanskaf het.

Franci Swanepoel laat Lorraine knap oor tyd ontdooi. Aanvanklik voel jy aan: sy's ’n vrou wat haar ware emosies afgesterf het. Sy's op ’n oorlewingsmissie betreffende haar daaglikse bestaan, maar dan verander dit ten goede.

Hannah Borthwick klink soos elke laat tiener of vroeg twintiger en hanteer kundig haar emosioneel uiteenlopende buie. Al bestaan Janneman slegs uit afwisselende monoloë tussen die drie vroue, word hul verbintenisse kragtig deur die teks en hul spel geïntegreer.

Janneman is, op ’n gelyke vlak met Seder, my persoonlike hoogtepunt van Innibos 2011.

Rolprentverspreiders bied deesdae sogenaamde chick-fliek voorskoue wat diskriminerend is omdat mans nie daar toegelaat word nie.

Innibos is nie so nie. Janneman is die roerendste en vermaaklikste chick-fliek wat jy op die verhoog sal sien. Mans is welkom en moet dringend gaan kyk.

Trouens, dit is soveel beter as wat enige chick-fliek kan droom om te wees.

 

 

  • Hierdie resensie het verskyn in die Innibos-feeskoerant: Muskiet/Laevelder