Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Artikels | Articles

Daar doer in die fliek: Leon van Nierop kyk terug op die Afrikaanse rolprentbedryf


Steyn du Toit - 2011-07-14

Untitled Document

Lede van die Daar doer in die Fliek-span. Van links is Christa Lategan (vervaardiger en redigeerder), Zendre Lategan (produksie-assistent), Johan Lategan (regisseur en redigeerder) en André van den Heever (kameraman).

Daar doer in die Fliek is nie ’n formele dokumentêr nie. Dit is eerder ’n gesellige kuierprogram waarin Leon van Nierop met nostalgie terugkyk na die geskiedenis van die Afrikaanse rolprent. Hy vertel meer vir Steyn du Toit hieroor.

Hoe sou jy Daar doer in die fliek beskryf en hoekom daardie naam?

Dit is ’n gesellige maar informatiewe kuier waarin met nostalgie en deernis teruggekyk word na die geskiedenis van die Afrikaanse rolprent die afgelope 112 jaar. Die program wil nie 'n kritiese ontleding wees nie, maar eerder ’n dokumentering van feite en staaltjies. Dit bring hulde aan almal wat deel gehad het aan die Afrikaanse rolprentgeskiedenis, van akteurs en regisseurs en skrywers tot redigeerders en tegnici. Ek kyk dus na die bydrae, hoe groot of klein ook al, wat elke persoon gelewer het en waar hy/sy inpas in ons filmverlede. Dit maak nie saak of die rolprent goed of sleg was nie. Iets soos Hoor my lied het die Afrikaners byvoorbeeld in massas teruggelok fliek toe, al was dit nie ’n goeie rolprent nie, en het bewys ons kan ’n musiekprent maak en weet wat by die loket werk.

Ek kyk ook veral na wat agter die skerms van die rolprente gebeur het. Wynand Uys het byvoorbeeld wonderlike staaltjies vertel oor sekere tonele in Dirkie en wat werklik net buite die gesig van die kamera gebeur het. (Sy lewe was byvoorbeeld eendag in gevaar met ’n leeu!) Ek moes dus na elke rolprent (oor die 200 van hulle) kyk en al die rolspelers dikwels herinner aan sekere tonele of ikoniese oomblikke, en dan het ek goed gevra soos: Wat het wérklik in hierdie toneel in Die kandidaat gebeur toe Regardt van den Bergh so realisties deur snoekerballe in sy oë geklits is?

Die titel is ’n huldeblyk aan Daar doer in die bosveld en Daar doer in die stad. Die titel suggereer ook ’n sekere mate van onskuld en ’n informaliteit en wil ’n kuieratmosfeer skep, sodat mense nie dink dit gaan ’n lang, droogtegeteisterde lesing wees nie, maar ’n opwindende en energieke, maar respekvolle, kykie na waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is.

Hoe lank al werk jy al aan hierdie projek?

Dit het begin as ’n musiekprogram op RSG in 2010 met die titel Die Afrikaanse rolprent gister en vandag, wat op die radio uitgesaai is en wat met 'n ATKVeertjie bekroon is. Daarin het ek musiek en brokkies geskiedenis uit ons filmverlede met luisteraars gedeel. Die program was so gewild dat mense gevra het dat dit verder geneem moet word. Karen Meiring van kykNET het daarvan gehoor en my gevra om haar te kom sien, en in haar kantoor het ons (saam met Marida Swanepoel) toe met die idee vorendag gekom. Ek het agt maande intensiewe navorsing gedoen, met ongeveer 70 rolspelers in die bedryf gepraat, 200 rolprente gekyk en 26 episodes geskryf wat binne vier maande opgeneem is. Die redigeerproses is tans aan die gang en sal ongeveer sewe maande in beslag neem. Johan en Christa Lategan is die redigeerders. Christa is dan ook die vervaardiger.

Hoe is die TV-dokumentêr gebore?

Ek het begin besef dat een na die ander van ons rolprentlegendes en -veterane besig is om te sterf. My wakkermaak-oomblik was toe Dirk de Villiers die dag sterf en ek huldeblyke aan hom moet doen en ek besef hoeveel ander filmmakers al oorlede is met wie ek nooit gepraat het nie. Ek het toe dadelik ingespring en met almal kontak begin maak (saam met Christa Lategan). Ek het byvoorbeeld die laaste onderhoud met Elmo de Witt gedoen voor hy oorlede is, vier weke voor sy dood. Ek het ook besef: as ék nie nou hierdie reuse-werk aanpak nie, dink ek nie iemand gaan dit doen nie en dan is al daardie geskiedenis vir goed verlore en stemme finaal stil. Hulle moet van geweet wees en dit is my werk en plig om gehoor daaraan te gee.

Leon van Nierop

Wat was die terugvoer ná die eerste episode – het jy al ontvang?

Ongelooflik positief. Mense het van heinde en verre gebel, ge-sms en e-posse gestuur en geFacebook om hul waardering uit te spreek. Die reaksie uit die bedryf was ook baie positief en waarderend. Daar was selfs van oorsee af mense wat geskryf het en gevra het of die program dalk op DVD beskikbaar is, sodat dit aangekoop kan word.

Ons sien onder andere beeldmateriaal van Paul Kruger tydens die reeks. Watter ander seldsame materiaal kan ons nog na uitsien?

Onderhoude met legendes soos Jamie Uys, rare materiaal wat gedurende die Anglo-Boereoorlog geskiet is, agter-die-skerms-tonele van hoe sekere ou klassieke rolprente soos Hans die Skipper met Andre Hugeunet geskiet is, en rare argief-onderhoude met klein Wynand Uys, Pierre de Wet, Tommie Meyer, Ivan Hall, 'n jong Franz Marx en Min Shaw – meestal onderhoude wat nou vir die eerste keer in dekades weer met mense gedeel gaan word.

Hoe moeilik/maklik was dit om alles te navors en/of saam te stel?

Dit was ’n reuse-werk, maar aangesien ek saam met die Afrikaanse rolprent grootgeword het, het ek feitlik almal as kind gesien, en daarna natuurlik as resensent. Ek moes net weer na baie van die rolprente kyk, maar dié slag deur ander oë, nie as ’n kritikus nie, maar as ’n navorser en iemand wat dokumenteer. Die groot probleem was hoe elke episode daar moes uitsien. Wat los jy in en wat haal jy uit? Hoeveel inligting gee jy per episode sonder dat mense verdrink in te veel akademiese inligting? En watter uittreksels gebruik jy en watter nie? Dit het letterlik maande se daaglikse intensiewe uitsorteer, skryf en herskryf gekos, en natuurlik navorsing vir onderhoude. En dan die skietproses. Alhoewel ek soms van ’n papegaai-lens gebruik gemaak het, moes ek baie van die skakels uit my kop uit leer en daardie onthou van die feite het nogal ernstige vereistes gestel.

Mens vergeet partykeer hoe ryk die Afrikaanse filmbedryf eintlik is. Hoekom dink jy is daar so 'n wanpersepsie deesdae dat Afrikaanse films/TV-reekse swak is?

Omdat dit met Amerikaanse en Europese glansprodukte vergelyk word. En omdat daar werklik 'n paar baie swak rolprente was wat eintlik niks anders as verfilmde radio of TV vir die wye doek was nie en wat later as die norm of tipiese Afrikaanse films gesien is. Mense is geneig om die swakkes te onthou en as maatstaf te gebruik en die goeies te vergeet. Ons is dalk ook geneig om oorkrities te wees oor ons eie produkte. As ek byvoorbeeld luister hoe ernstig mense na Roepman gekyk het en dit gekritiseer het, terwyl buitelandse rolprente in dieselfde gesprekke taamlik lig daarvan afkom, wil dit lyk asof ons hoër eise aan ons plaaslike films stel as aan internasionales. As ons die dag goeie rolprente of televisie maak, staan ons langs die bestes in die wêreld.

Watter Afrikaanse films/projekte weet jy van wat jy kan aanbeveel in die volgende paar maande?

Ek weet dat Koos Roets tans in die beplanningstadium is met die rolprentweergawe van Faan se trein. Katinka Heyns beplan ook ’n nuwe projek. Dan ontpop ’n splinternuwe jong talent op die Afrikaanse rolprenthorison, Morné du Toit, wie se Hoofmeisie beloof om ’n baanbrekerstem aan jong stemme te gee. En my eie verhaal, Wolwedans in die skemer, gaan Suid-Afrika se eerste volwaardiger gruwelfilm wees (teenoor bloot ’n riller soos My broer se bril of Vlindervanger).

 

  • Daar doer in die fliek is Donderdagaande om 20h30 op kykNET te sien.