Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Benchmarks weer ’n groot sukses op die planke


Emma Kotze - 2011-07-14

Untitled Document

Regisseur: Rob Murray
Maskerontwerp en -konstruksie: Cristina Salvoldi
Akteurs: Liezl de Kock, Daniel Robinson en Thumeka Mzayiya
Musiek: Gideon Lombard
Stel en rekwisiete: Craig Leo
Klank: Brydon Bolton and Jacques Toile
Kostuums: Jayne Batzofin
Beligting: Rob Murray

FTH:K bring weer eens ’n ongelooflike produksie na die Nasionale Kunstefees. Dié geselskap is bekend vir hul werk, wat eksperimenteer met die moontlikhede van nieverbale en visuele teater wat spesifiek daarop gerig is om dowe gehore in te sluit. Hulle werk hoofsaaklik met maskers en lê klem op lyftaal, wat gevolglik aan die produksies ’n universele taal gee.

Hierdie storie oor drie individue wat mekaar in die Moederstad ontmoet, bespreek temas soos geweld, vrees, fantasie, xenofobie en menslike mededeelsaamheid en empatie. Die akteurs is perfek gesinkroniseer. Die eenheid wat hulle vorm deur hul fisieke bewustheid van mekaar is indrukwekkend. Die fisiese ritme, dus ook die ritme van die produksie, dra grootliks by tot die betekenis, humor en hartseer van die produksie.

Liezl de Kock was egter nie te alle tye oortuigend in die rol van die ouer weduwee nie. Dit was nie konsekwent moontlik om haar bejaardheid van haar fisikaliteit af te lei nie. Akkuraatheid van dié aard is van selfsprekend besonder belangrik as teaterwerk op  nieverbale kommunikasie staat maak.

Dit is oplettend hoedat FTH:K se werk dikwels die kwaad in mense en ’n gemeenskap ondersoek. Benchmarks doen ook juis dit. Die verhaal neem dan ’n interessante kontras aan as die empatie en embarming van een karakter die lewens van twee ander volkome verander.

Benchmarks, geskep deur die groep wat vir produksies soos Pictures of You, Womb Tide, QUACK! en Gumbo bekroon is, bring weer eens ’n groot sukses op die planke. Dit beloof ’n merkwaardige verbeeldings- en emosionele reis. Hou hulle dop vir ’n volgende meesterstuk.