Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

'night, Mother bevat stof vir kritiese bespreking


Emma Kotze - 2011-07-14

Untitled Document

’night, Mother
Regisseur: Lara Bye
Skrywer: Marsha Norman
Akteurs: Sandra Prinsloo en Antoinette Louw
Musiek: Gideon Lombard
Looptyd: 90 minute

By hierdie samekoms van ’n bekende regisseur en bekroonde teks en aktrise is verwagtings ongelukkig meestal nie oortref nie. Daarmee saam het die jong opkomende aktrise Antoinette Louw ook teleurgestel met ’n onnatuurlike vertolking van die dogter.

Dié bekroonde teks, deur Marsha Norman, neig na ’n Griekse tragedie in die sin dat die uitkoms van die toneelstuk reeds in die eerste tien minute van die stuk bespreek word. Alhoewel ’n moderne gehoor hoop dat die protagonis hierdie omstandighede kan verander, is haar pogings onsuksesvol. Die teks is gevolglik sonder wending en met min opwinding.

“You are my child”; “I am what became of your child.” Hierdie uittreksel uit ’night, Mother kan as die essensie van die toneelstuk beskryf word. Die brutale eerlikheid van die karakters, die blootlê van ou leuens en onwaarhede, is die hoogtepunt van die toneelstuk.

Prinsloo se vaardighede beïndruk weer eens. Haar vertolking van die ma is oortuigend sowel as hartverskeurend. Soos reeds genoem, het Louw nie hierdie selfde reaksie ontlok nie. Ek voel egter nie dat dit voor die deur van haar onervarendheid teenoor dié van Prinsloo gelê kan word nie. So ’n situasie moet juis ’n aktrise inspireer om bo haar vermoëns te speel. Wat nie duidelik genoeg uit die aktrises se samespel aangevoel kon word nie, was die spanning in die verhouding tussen die ma en haar dogter en die diepte van die wrewel wat die dogter teenoor haar ma voel om haar aan die martelende voorkennis bloot te stel soos wat sy doen.

Dit het ook gereeld gevoel asof beide hierdie aktrises ten tye vir die gehoor speel in plaas daarvan dat die gehoor voel asof ons slegs ingelaat word op die karakters se lewens. Dit is ongewoon met ’n teks met ’n realistiese styl wat dus gewoonlik die “vierde muur” in ag moet neem. Of dit ’n regisseurskeuse of aktrises-keuse was, sal ’n mens nie weet nie, maar dit het ’n onnatuurlike gevoel aan die lewering gegee.

’night, Mother kan egter nie in die geheel as ’n onbevredigende ervaring afgemaak word nie. Dit bevat baie stof vir kritiese bespreking. Miskien gaan dit in hierdie geval oor die eerlikheid wat vroeër genoem is, en die feit dat dit dikwels te laat arriveer. Dit is hartroerend, ontstellend en eerlik en laat jou ongemaklik.