Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Skyn bly ’n ongeslypte diamant


Emma Kotze - 2011-07-14

Untitled Document

Skyn
Regisseur: Nico Scheepers
Skrywers: Ruan Britz and Nico Scheepers
Looptyd: 50 minute
Akteurs: Ruan Britz

Die enigste suiwer Afrikaanse drama op die feesprogram was in ’n groot mate ’n teleurstelling. Skyn se regie sowel as die toneelspel het veel te wense oorgelaat.

Die produksie bespreek die bekende temas geloof, liefdesverhoudings, die soeke na identiteit en kind-ouer-verhoudinge. Dit is ’n goed-geskrewe stuk, met die gebruik van pragtige poëtiese taal. Dit voel egter asof Ruan Britz ’n enkele emosie en uitdrukking ten opsigte van stemtoon, gesiguitdrukking, ens kies en daarby hou vir die verloop van die vyftig minuut lange produksie.

Die produksie is gevolglik emosioneel eentonig, en laat min ruimte vir die gehoor om die karakter se emosies te deel. Soos genoem, bespreek Skyn bekende temas en dus ook temas waarmee die gehoor kan identifiseer. ’n Teks van dié aard behoort ’n inkerende moment vir die gehoor te wees, waarin hulle hulself moet kan identifiseer, maar Britz se lewering van die teks laat ons ongelukkig nie toe om met oorgawe aan die emosionele reis deel te neem nie.

Vir my as ’n Afrikaanse feesganger was dit in ’n groot mate teleurstellend. Mens hoop om ’n juweel by dié fees raak te loop, maar Skyn bly ’n ongeslypte diamant wat wag op genuanseerde hantering.