Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Nuwe boeke | New books > Afrikaans

Splintervlerk: Reguit en onverskrokke poësie


Ampie Coetzee - 2011-07-14

Splintervlerk
Marlise Joubert
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869194727
Prys: R140.00

Klik hier en koop Splintervlerk nou van Kalahari.net!


Na sewe digbundels – vanaf 1970 tot 2011 – kan mens Marlise Joubert as ’n ervare digter beskou. Dit word bevestig deur die nuwe bundel, Splintervlerk (Protea Boekhuis, Pretoria).

Die onvermoë tot verwoording, die regte woord wat afwesig is, wat nie ten volle betekenis kan skep nie, is ook – soos by die bekwame digter – hier die versugting. Soos in die gedig “sin” (53):

wag vir die eerste
puntige sin

om ’n gedig soos ’n boontjie
uit die skil te lig

sonder sinne is daar nie ruimte nie
sonder sinne is daar nie asem nie

sonder sinne breek
alle spieëls

ek soek na ’n woord
wat wegkruip onder vlerke

ek soek na ’n gesig
wat ek ken in die sand

die oggendlig
knaag stil

span spiespunte deur
afgeskilde blou

breek af teen die skelet
van onvermoë. (53)

In die titel van die bundel is daar alreeds die suggestie van onmag: vlerke wat nie kan vlieg nie. Die skildery op die band van die boek (deur Marlise Joubert self geskilder) van die verwonde rugkant van ’n vrou, met arms wat nie voltooi is nie, en ’n vallende voël wys na die een deurlopende tema van die bundel: die ervaring en verwoording van intense pyn.

In die eerste afdeling van die bundel (“winterklou”) sien ons die martelaar:

… bek gesper
die gifgroen spleet in die vuurpyltong
hy was maar altyd daar.

En sy, die gemartelde, wat hom probeer besweer:

jare lank koop ek teengif aan vir elke sel
versamel laaie vol bloeddrukpille
omega 3's knoffel salie boegoe
kalsium kalium visolie en Femigel.  (“die aarde weet dit”, 9)

Dan, aan die einde van die gedig, waar die medisyne miskien vir ’n oomblik help:

… verleng miskien nog die asem
plaas my lewe voorloping on hold
not for sale and not for rent

Dan is daar die laaste strofe:

dié bouval het wel nog nut
kan nog gaan bietjie langer duur
tot môre toe tot die volgende
skemer val.

Ek wonder net of die gedig nie moes geëindig het met “on hold/ not for sale and not for rent” nie. Is dit nie hier waar die eintlike wending lê nie? Wat daarna kom, is net ’n metafoor vir wat alreeds gesuggereer is?

Daarna begin die narratief van lyding, die via dolorosa: die weggaan van die huis na “steriele kamers” vir die “lumbale mikrodiskektomie” (11–12). Maar sy wil glo dat die beminde vir haar sal wag; en dit is deurgaans haar anker.

Nou het die romantiek van die huis met die rooi stoel by Bakoven, waar sy gekyk het na die see, verander tot die “brokkelrots van pyn”, “pompende buise van suurstof en bloed”. In die wending van die gedig wag die “rooi stoel” (van die operasiesaal) haar “bakhand” in. Daarna kom die oorplasing van waakeenheid na ’n enkelkamer. (“enkelkamer, Medi-Clinic”, 14). In “kamer 15, saal d”, 16)is daar die geliefde wat wag.

Besoekers kan nou kom kuier, soos verwoord in die langerige gedig “besoek”(17), oor die besoek van haar baie bejaarde ma. Hierdie gedig se lengte pla nie, miskien omdat dit meer gestruktureerd is, in dié sin dat dit deurgaans met teenstellings werk in die soeke na betekenis. Sy en haar ma word teenoor mekaar gestel. Met die refrein van “hoe is dit moontlik ma” sê sy dat sy nie kan begryp dat haar ma, op negentig, so ver gereis het met haar “rooi vintage”-kar, nog kan loop en “kierstregop daar kan sit” terwyl sy lê “so plat op al my rowe/ binneaars gebruis met morfien/ reeds die negende snit”:

hoe is dit dan
dat ons gemene delers is
uit dieselfde wortelskag
en –
dat ek so breekbaar is. (18)

’n Soortgelyke teenstelling volg in “oggendbrief vir Xander” (19) aan die kind wat alreeds sestien tande het “… en vinnig loop”:

jy is beter as ek kleinding
jy loop vinniger as ek
trefseker en meer paraat …

Hierdie teenstellings illustreer die reaksie van ’n lydende mens wat weerloos voel teenoor die gesondes – maar sonder selfbejammering. Dis emosie wat in die strukturering van die poësie beheer word.

Terwyl die spreker die subjek in die gedigte in hierdie afdeling is, is daar skielik die gedig “vrou”(23) waar afstand bereik word van die “ek”: “haar stem is sand in haar ore/ haar lippe ’n litteken in die hand …”. Meer metafore, geobjektiveer, herhaling. Miskien juis ’n bewus-gestruktureerde bewys van die wegkom van die self.

In die titel “rugkaatsing”, die tweede afdeling, in die verwoording van haar siekte is die neologisme tegelyk terugkyk én weerspieëling van die rugoperasie. Sy is nou tuis, onseker, maar een van die eerste belewenisse is die bewuswording van poësie (“tuis” ,28). Die digbundels wat sy en haar geliefde ken. Maar sy is bevrees dat sy nie meer woorde sal vind nie:

ek weet nie meer
hoe klimopwoorde draai
en waar hulle groei …

ek weet nie meer hoe gedigte rank …

Haar geliefde is daar, en met metafore soos klimopdraai en gedigte rank wil sy by hom “ingerank” wees. So word gedig en liefde saamgelees. Dit gebeur dikwels in hierdie afdeling, waar die verlede, gedig en minnaar geïntegreer word.

Die skep van poësie bly by haar, maar die weerkaatsing van die trauma van die verlede belemmer vrywording. Die metafore is betekenisvol in “kladboek” (29): 

ek klad onthoue aan mekaar
om los te kom uit papier
uit hierdie tydelike
gaasverband vir taal

elke klad vloei groter
ek kom daarvan nie los nie
ek bly vasgeheg aan bolpuntpen
en papier asof dit altyd so moet wees

al hoe digter ingepleister
weerstandig vasgegom
ek kom van hierdie steke
nooit losgeknip nie.

Hierdie gedig is ’n baie indrukwekkende ars poetica,geskryf binne die konteks van die siekte, met woord en realiteit “vasgegom”.

Die mees opvallende in hierdie afdeling is die metafore. Die kern van gedigmaak, die metafoor as skepper van betekenis hier, is sterk. Die kuns van die poësie lê in die metafoor. Die digter práát nie oor poësie nie. Dit wórd poësie, alhoewel dit soms miskien te oordadig raak, soos in “trooslied vir die lyf” (33) byvoorbeeld, en te lank, soos in “ontheemding. ’n droom” (36). In die gedig waar die kamerjas ’n soort teken is, is die wending sonder vooraf-suggestie onnodig – en weer sou die gedig gebaat het as dit by die vorige strofe te kon geëindig het.

Daar is ’n langerige gedig daarna: “reisherinneringe” (38), soos drome, met een van dié opvallende strofes:

reis ons om gewigloos te word
omring deur argeologiese tyd
kapelle met gebrandskilderde glas
loodswaar soos die taal van ’n vreemdeling.

Dis van vóór die operasie. Die herinnerings sou mens kon lees as genesing, as oorgang tot die verlede, as koestering (“fragment/ uit die slingerskrifte van geheue”), want die gedigte daarna praat nie meer van haar siekte nie. Mens sou dus kon bespiegel dat “reisherinneringe” en “fragment” vóór die operasie geskryf was; maar dit maak nie eintlik saak nie, omdat die terugskryf nóg helend is.

Maar daar is nou ’n ander pyn: dié van die verlies van ’n kind in “spoorloos” (45). Hier is die wending wéér ongemotiveerd (tensy ek elke keer verkeerd lees).

Memoir”(48) met die beginreël “ek teken verhale lank al aan …” en wat eindig met “… dan die stilte”, kan mens eintlik lees as ’n samevatting van die onvermoë om verhale te vertel omdat daar die onvermoë tot woorde is Om in die woord iets te skep, maar daar is niks om te weerspieël as die wind nie waai nie, of daar nie storms of reën is nie – dan is daar uiteindelik net stilte.

Dit lei dan tot die gedig wat dié afdeling eindig, “geboorteplek” (49). Met haar sestigste verjaardag vertel haar ma dat die hospitaal waar sy gebore is, nie bestaan het nie, en die afleiding – deur middel van ’n eenvoudig dekonstruksie – is dan dat sy nie bestaan nie: “op sestig is ek moontlik/ ’n vergissing.” Einde van die storie. Dit is dan ook ’n variasie op “Memoir” se stilte.

Die eerste gedig in afdeling 3 (“sin”) neem die stilte ernstig op. Dis die gedig waarmee ek die bespreking begin het: oor “… die skelet van onvermoë”.

Dan volg ’n aantal gedigte waar sy veral die kuns, die skilderkuns, as beelding naas die poësie betrek: sy verf, sy vorm, sy kleur ’n aantal waterverfskilderye uit die verlede, die herinnering aan ’n waterval en seksuele bewuswording (“watervalskildery”, 58–60. In verf en metafoor teken sy ’n kind (by die waterval): 

sy vorm die kind as tienermeisie                                         
wat opgewonde onder water oor haar 
borskas streel die vrugte van ’n klapperboom
binne sag en taai met goed en kwaad.

Oral in dié reeks is die poësie en die verf ver-beelding.

Na die skilderye is daar gedigte aan en van vriende, weer herinnerings, en veral die verlange na ’n seuntjie, met die hoop dat sy hom weer sal sien (“as jy weer kom”,68–69), met die refrein “as jy weer kom”. Maar dit is onbevredigde verlange, hartseer – soos die meeste gedigte in hierdie bundel.

Dan ’n beskrywende vers (“Blaauwklippen”,70). Die voorliefde vir beskryf, soos in die reisgedigte, word hier volgehou. (Ek het hier wéér die gevoel dat die laaste strofe, die wending, nie uit die voorafgaande beskrywings groei nie: dat sleutelreëls hier nie slotte is nie – soos Van Wyk Louw oor wendings gesê het.)

Ander hoofsaaklik beskrywende verse volg later, soos “Sitlbaai”. Hier is die neiging dat verse te lank raak. Voorheen het ’n resensent by “passies en passasies”genoem dat sy soms “woordryk” en duister raak. Ek dink wel dat die “duisterheid” baie minder is.

Die rariteit van die gedig waar die “ek” nie vertel of beskryf nie, maar waar sy beskryf word vanuit ‘n ander perspektief, vind mens weer in “biografie”(71). Dis ’n distansiëring van die self. ’n Biografie oor jouself kan jy tog nie skryf nie. Maar ek weet nie waarom dit spesifiek hier in dié afdeling moet wees nie. Hier word skryf en die lyflike deur metafore verbind – en dat daar nie ’n afgeronde boek sal wees nie:

blaai sy terug ontdek sy weer
die spelfoute van die lyf
die gebroke sintaksis van die liefde
die klad van ink wat smeer
deur elke ou verhaal.

Die laaste gedigte wat ek spesifiek wil noem, is “ek het genoeg gesien” (78–9), “Kerberos” (81–2) en “e-posgesprek”(85–7). Mens sou hulle ook as te lank kon kritiseer, maar hier is die lengte deur die temas gemotiveer (politiek, moord, verkragting, vernietiging in die hede van ons land). Slegs enkele reëls sal kan vertel waaroor hierdie beskrywings en interpretasies gaan:

Uit “ek het genoeg gesien”: 

… ek het gevlug tot teen die einde
van my hawelose geskiedenis,
tot by die laaste sin van ontnugterde drome …

Uit “Kerberos”:

… kyk, o kyk net weer na die opgekerfde
vrou, kyk, sy het haar kind verloor,
en die kind het haar ma en pa verloor,
die plaashuis en die sinkkaia in die modder
het ’n gesin verloor ….

Uit “e-posgesprek”:

… ons raak half vereelt, soos jy weet,
almal wat jy ken is al aangeval
gekaap,
verkrag of besteel.
intussen mislei onse liewe generaal ons
dat misdaad amper nie meer bestaan nie …

Minder metafore, minder die noodsaaklikheid van poëtiese wendings. Betrokke poësie soos dit gewoonlik is: reguit en onverskrokke.

Hierdie bundel is tot op hede Marlise Joubert se mees indrukwekkende.