Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Poësie | Poetry > Afrikaans > Gepubliseerde digters

Somnambulêre ballade


Heidi Papadopoulos-Pienaar - 2011-07-14

Untitled Document

Somnambulêre ballade

Groen, groen, ek is lief vir groen. Groen wind, groen takke. Die skip op die horison en die perd op die berg. Met die skaduwee op haar middel, droom sy op die balkon, groen vlees, groen hare en oë koue silwer. Groen, groen, ek is dol oor jou. Onder die sigeunermaan bekyk goeters haar, goeters wat sy nie kan sien nie. – Romance sonambulo, Lorca

Groen, groen ek is ook dol oor jou.
Maar die aarde is ’n slaapwandelaar wat luister
hoe ander harte na mekaar skree
soos nat krieke in die reën.

Groen, groen ek is dol oor jou.
My groen trui hang oor die draad
soos ’n meisie aan ’n balkon.
Haar gelaat natgesweet soos herfsblare
wieg sy in die groen droom van die wind
wat uit haar herfsmoue geel blare
ou gedigte skud.
Die aarde weet daar is geen terugdraai
meer nie; sy is besig om dood te gaan.

Al worstel silwer olyfbome biddend
soos monnike met winde en wag ewig
op die drie engele van die reën
sodat hulle in die oggend afgeskud lê,
swart bedekrale van bitter woorde.
Al reent dit elke dag om die swart skaduwee
van Golgota uit die sipresse te was.
Al sing die voëls die mooiste liedere,
hulle liedere droog op,
want die bome gaan al meer dood
aan petisies van papier.

Al skeur die reën
die swart sluiers van warrelwinde
wat die glorie van die son wil bedek.
Al probeer kortasem winde keer
dat al meer duine soos leë tente
blou getatoeëer deur die maan
oor die aarde uitbreek.

Al neem ons foto’s van erosie
en noem dit landskapkuns.
Al hang ons van brugstele
aan groen naelstringe van ’n ekstra myl
om ons solidariteit met die aarde te bewys.
Al is die aarde se siek hart al hoeveel keer
deur ’n vreemde komeet vervang
sodat dit sukkel onder ’n neonpasaangeër
met ’n gebroke oorgang van seisoene
en buurstate wat die nuwe hart van vrede
een vir een verwerp.

Al skryf ons op ’n banier
“Een koeël vir een papier.”

Al rig ons teleskope op om raad te vra
by die antieke parlement van die sterre.

Al sing die tortels na ’n tsoenami met die blinde
ekstase van die Eerste Reënboog in hulle oë.
Al vertrek die swaels elke seisoen al later
en fluister die wind vertroostend in die herfsbome
“Ek is, Ek is” voor elke kouer wordende winter.

Al hang ons die bontste voëls van ons woorde
in die kaal bome
en al soek ons na die helderste serums van die
waarheid in stikvuil riviere en damme.
Al duik ons al dieper in die haaihokke
van ons drome om ons vrese te konfronteer
en te soek na oersimbole.

Al vryf ons na elke verduistering
met ou vulkaan-as weer ’n nuwe silwer maan op ...
Die aarde weet sy is besig om dood te gaan.
Met haar natkriek hart en haar hare
die lou melk van die maan
hang sy oor ’n balkon
en kyk na alles om haar
met koue visoë.

  • Die drie engele van die reën dui op die Heilige Drie-eenheid wat as engele Abraham besoek het.
    Hulle het al drie saam uit een mond gepraat. – Genesis 18:1.