Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Kyk my in die oë: ’n Openhartige en dapper weergawe van bipolêre stoornis


Deon Knobel - 2011-07-13

Kyk my in die oë
Elsabé Brits
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624048916
Prys: R180.00

Klik hier en koop Kyk my in die oë nou van Kalahari.net!



Hierdie boek oor bipolêre gemoedstoornis, Kyk my in die oë deur Elsabé Brits, vul ’n groot leemte in die Afrikaanse literatuur. Dis die aangrypende verhaal van ’n talentvolle en sensitiewe persoon wat ook hoogs bekwaam is in haar werk en reeds talle toekennings ontvang het vir haar navorsing en artikels oor misdaad en die wetenskap.

Anders as wat dalk verwag kon word, is dit nie ’n wetenskaplike relaas oor bipolêre gemoedstoornis nie, maar ’n openhartige en dapper weergawe van haar eie ervaring met die siekte. Dit is aangrypend vertel en sal hopelik ook die algemene leserspubliek aanspoor om meer oor hierdie uitmergelende siekte te leer en dit met aanvaarding en begrip te beskou as net nog ’n siekte met fisies-biochemiese onderliggende oorsaak.

Dit is ironies dat ek, in die lig van die wilde polemiek wat enkele jare gelede op LitNet se briewerubriek gewoed het, gevra is om die boek te resenseer. Selfs na herhaalde pogings deur deskundiges om die biochemiese versteuring te verduidelik was daar steeds die ongelowiges wat die siekte, en die beëindiging daarvan, as ’n keuse deur die individu bestempel het. Hierdie verhaal van Elsabé Brits behoort egter selfs die hardnekkigste ongelowiges te oortuig van die ware biologiese aard van die siekte.

Elsabé se beskrywing van die poging om tot ’n hospitaal toegelaat te word, en herhaaldelik van een na die ander fasiliteit weggewys te word, is aangrypend en hoogs ontstellend. Dit word opreg vertrou dat met beter begrip en wetenskaplike bevestiging van die onderliggende biochemiese versteuring wat tot die toestand lei, hierdie siekte sowel deur die algemene publiek as in die mediese en hospitaalgemeenskappe meer menslik hanteer sal word. Ook dat mediesehulpskemas ruim daarvoor sal begroot en as net nog ’n siekte sal hanteer

Elsabé se beskrywing van die hofsaak oor Marike de Klerk se moord is ook vir my van persoonlike belang en waarde. Sy het skynbaar nie lank tevore nie deur die vreeslike ervaring van haar eerste maniese aanval en daaropvolgende episodes van onstabiliteit gegaan en was steeds broos en verwondbaar.

Dit word herinner dat sy met absolute professionaliteit haar taak as misdaadverslaggewer verrig het, nooit enige teken van versteuring of siektesimptome gewys het nie, en inteendeel vir my as patoloog vir die staat op haar beurt onderskraag en aangemoedig het, tydens die dae van aanvallende en selfs beledigende kruisverhoor waaraan ek blootgestel is .

Haar onblusbare onderliggende passie vir die lewe skyn deurentyd deur, soos ook nou in haar beskrywing van die bymekaarkom saam met adv Tessa Heunis, die hoof-ondersoekbeampte, superintendent Mike Barkhuizen, en nog ’n paar rolspelers om die uitspraak van die hof en die skuldigbevinding van die aangeklaagde by ’n eetplek te vier.

In Afrikaans, anders as in Engels, is literatuur oor geestesiektes nog skaars. Enkele jare gelede het die boek Die kleipot het gebreek deur Coenie Rudolph verskyn. Sy belangrikste boodskap was dat vasklou aan geloof as genesing van die siekte van depressie hom, en ander, niks sal help nie, totdat die biochemiese wanbalans van die senu-oordragstowwe (neurotransmitters) deur mediese ingreep en medikasie herstel is. Hy gaan selfs voort om te stel dat geloof iemand met depressie nog verder die put in kan afdryf, en selfs die toestand kan vererger. Die depressielyer mag redeneer: “Ek word nie gesond nie, omdat my geloof nie sterk genoeg is nie.”

Met groot deernis beskryf Elsabé Brits die tragiese lewe van haar eie bloedtante, Tanna, die jongste suster van haar moeder. Hierdeur word ook die genetiese aspek geïllustreer, aangesien die siekte dikwels in meer as een lid van ’n gesin en familie voorkom.

Sy beskryf haar ervaring van ’n dominee wat ná die begrafnis van Tanna – wat haar lewe lank geteister is deur bipolêre gemoedstoornis – sou gesê het dat “Liewe Jesus niemand ’n kruis sal gee wat hy of sy nie sal kan dra nie”. Tereg bestempel Brits hierdie houding as verspot en onaanvaarbaar en beskryf ook hoe die pastoor by die graf ’n ander familielid se versoek aan hom om Psalm 23 voor te lees, geïgnoreer en kortaf en humeurig van die hand gewys het.

Een van die snaaksste, maar met herlees selfs ontstellendste, episodes is hoe sy en ’n maat, Hester, die huis op horings geneem het juis toe die volwassenes Tanna by die geleentheid vir mediese behandeling moes neem. Alhoewel skreeusnaaks, slaag die skrywer daarin om die histeriese en byna ongekontroleerde aard van die spel te skilder. In moderne psigiatrie sou dit dalk as voortekens van bipolêre gedrag beskou kon word, aangesien die toestand al meer dikwels in kinders en tienerjariges herken en gediagnoseer word. Veral vir ouers uit ’n familie waarin bipolêre gemoedstoornis dalk voorkom, mag hierdie hoofstuk dalk help om waarskuwingstekens te herken.

’n Belangrike vermaning in die boek handel oor alternatiewe en homeopatiese middels wat alte dikwels deur waarskynlik goed-bedoelende vriende en kennisse aanbeveel word. As wetenskapjoernalis is sy ten volle bewus daarvan dat hierdie middels nie ingevolge die Wet op Medisynes getoets of geregistreer word nie: sy gebruik net “regte medisyne en nie homeopatiese kruie of speserye” nie.

Net so seker besef sy uit eie ervaring dat die gebruik van alkohol saam met die voorgeskrewe medikasie taboe is en sy keur dit ten sterkste af.

Iets wat dalk belangrik is, is om ter aanvulling van Brits se verhaal die mite die nek in te slaan dat dokters en psigiaters hierdie diagnose as ’n soort “afvalhoop” gebruik vir gevalle waar die diagnose nie ooglopend is nie. Navrae deur my het bewyse gelewer dat daar streng internasionale riglyne bestaan waarvolgens die diagnose gemaak of uitgeskakel moet word.

Bipolariteit en kreatiwiteit, wat dikwels, en selfs in die meerderheid van gevalle, hand aan hand gaan, word deur Elsabé Brits se boek bevestig deurdat sy op besonder kreatiewe en vaardige wyse die aanvang, verloop en behandeling van haar siekte beskryf sonder om ooit melodramaties te word of simpatie-soekend te wees.

As pasiënt van ’n kliniese sielkundige vind sy geweldig baat by hulle weeklikse gesprek en leer sy om “afstand van haarself” te kry, haarself te aanvaar, en sodoende te leer onderskei tussen “gevaartekens” wat dalk op hipomanie kan dui en “gewone reaksies wat elke mens” ervaar.

Veral positief is haar beskrywing van hoe sy geleer het om met haar siekte, wat sy as “die monster in [haar]” beskryf, saam te leef en dit te hanteer op so ’n wyse dat sy self kan agterkom as daar fout kom in haar gemoedstoestand. Sodoende kan sy onmiddellik hulp soek by haar psigiater of haar eie persoonlike optredes dienooreenkomstig verander. Selfs in die beskrywing van haar simptome, hoe desperaat ook al, gebruik sy verfrissende en sprankelende idiomatiese taal soos: “Die bubble is uit my Coke” – watter beter woorde om die lusteloosheid en gebrek aan motivering van depressie te beskryf!

Haar beskrywing van elektrokonvulsiewe behandeling en die voordelige effek wat dit in haar geval gehad het, is interessant. Dit het egter bygedra tot ontstellende maar tog dikwels kortstondige verlies van korttermyn-geheue. Die omstandighede waaronder elektrokonvulsiewe behandeling op ’n buitepasiënte-basis gegee is, was egter onaanvaarbaar en glad nie baie menslik nie.

Die biochemiese en mediese feite van die siektetoestand van Elsabé Brits, en die 2 tot 4 persent van die Suid-Afrikaanse bevolking wat na raming moontlik daarmee moet saamleef – sommige bronne noem selfs 5 persent - word nie in ’n aparte hoofstuk verduidelik nie, maar word deurentyd in die teks ingeweef. Die intelligente leser en diegene wat spesifiek in bipolêre stoornis belangstel, behoort dit uit die teks te onttrek.

Vir my, met my ervaring en kennis van die toestand, sou dit egter tog van groot waarde gewees het om net kortliks opsommend te verduidelik dat daar ’n wanbalans bestaan tussen die drie vernaamste senu-oordragstowwe in die brein − serotonien, noradrenalien en dopamien ­− wat senuweeprikkels van een senuweesel na ’n ander sel oordra. Wanneer dit moeilik is om te verstaan help dit selfs om dit te vergelyk met die biochemiese balans tussen bloedsuiker en insulien wat vir normale bloedsuikervlakke moet bestaan.

Daar is egter heelwat webtuistes op die internet waar hierdie inligting volledig bekombaar is.

Daar word ook vir die algemene leser ’n blik gegee in die opwindende maar uiters veeleisende lewe van ’n joernalis, eers as misdaadverslaggewer en later as wetenskapjoernalis, wat haar op interessante toere neem, onder andere as genooide gas van die Amerikaanse regering (tydens haar vrye tyd kry sy kans om op haar eie die beroemde Guggenheim en Metropolitan Kunsmuseums te besoek); na Mali, waar sy die skokkende ritueel van vrouebesnydenis leer ken en die aard en afgryslike na-effekte daarvan beskryf; saam met prof Jurie van der Heever op soek na fossiele in die Karoo, en ook haar voortydige besoek aan die SALT – die reuse-teleskoop wat toe nog net in finale stadium van oprigting was. Vir haar artikel hieroor wen sy die Mondi-Shanduka-prys. Vir ’n ander artikel oor ’n sogenaamde “horlosie” om malaria te ontdek ontvang sy die Vodacom Joernalis van die Jaar-toekenning. Inderdaad ’n lewe van ontdekking, opwinding en prestasie.

Uit die verhaal van Elsabé Brits kan ook afgelei word dat daar geen oorsaaklike keuse bestaan nie en dat daar wel belangrike keuses bestaan:

  1. Die eerste is om te beklemtoon dat niemand kies om bipolêr te wees nie. Dit is ’n geneties-verwante biochemiese afwyking.

  2. Daarna volg die keuse om mediese opinie in te win en om die diagnose sonder gevoel van skuld of skaamte te aanvaar. Hier word dit ook duidelik uit haar verhaal dat nie elke pasiënt met elke psigiater gaan klaarkom nie. Sy vertel op dramatiese wyse hoe sy so ’n onverenigbare pasiënt-dokter-verhouding verbreek het – haar reg as pasiënt – en uiteindelik ’n empatiese en professionele verhouding opgebou het met haar huidige psigiater van baie jare.

  3. ’n Volgende keuse is om die medikasie wat voorgeskryf word, getrou en sonder oorslaan te neem.

  4. Die laaste keuse, en seker een van die belangrikstes, is deur Elsabé se boek en haar openhartige verhaal van haar eie ervaring met bipolêr duidelik geïllustreer, naamlik die keuse om met bipolêr saam te leef en veral om daarmee, en selfs as gevolg daarvan, te presteer en haar passie vir die lewe te behou en uit te leef.

Hierdie boek word sterk aanbeveel, nie alleen vir persone of naastes en familielede wat met die siekte leef en saamleef nie, maar vir enige belangstellende leser wat meer oor ’n siektetoestand wil leer.

 As suiwer biografiese vertelling is dit deurspek met interessante gegewens wat in sprankelende taal vertel word en wat (afgesien van die bipolêre aspekte) enige ernstige leser van Afrikaanse letterkunde sal interesseer.

  • Ns. As onlangse selfuitgewer van ’n boek wat maande lange versorging geverg het, is die oog so spesifiek ingestel dat daar selfs in ’n publikasie van Tafelberg Uitgewers klein en opvallende spel- en drukfoute opgelet is, wat egter geensins afbreuk doen aan die gehalte van die boek en selfs die genot wat ek ervaar het met die bestudering van die boek nie – hopelik vind die algemene leser dat dit ook vir hulle die geval is.