Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Scream 4: ’n postmoderne rilfees!


Rohan Magerman - 2011-07-13

Regisseur: Wes Craven
Kamerawerk: Peter Deming
Rolverdeling: David Arquette; Neve Campbell; Courteney Cox-Arquette; Emma Roberts; Rory Culkin; Adam Brody
Looptyd: 111 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 6 Julie 2011

 

 

Vyftien jaar gelede het Wes Craven ’n briljante fliek bekendgestel: Scream, ’n selfbewuste parodie in die slasher-genre. Craven se fliek het die gesig van die genre vir ewig verander. Alhoewel sommige kritici hul mes ingehad het vir die fliek, was Scream nogtans ’n reusesukses en het dit van sy drie sterre, Neve Campbell, David Arquette en Courteney Cox-Arquette, huishoudelike name gemaak. Ná Scream het nog twee suksesvolle opvolgflieks die lig gesien. Nou, ná ’n afwesigheid van elf jaar, het die Weinstein Company besluit die tyd is ryp vir ’n nuwe aflewering in dié franchise.

Soos die fliek se taglinelui: “New decade, new rules”, en dit is presies waaroor Scream 4 gaan. Waar die vorige fliek die konvensies van die rillerflieks van die jare tagtig en negentig ondersoek en geparodieer het, fokus hiérdie fliek op ’n hele stel nuwe reëls na aanleiding van die rillers van die afgelope dekade. En ja, daar sal bloed wees!

Scream 4 herenig sy drie hoofkarakters en stel ook ’n hele klomp nuwe karakters bekend. Sydney Prescott (Campbell), die heldin van die reeks, keer terug na haar tuisdorp, Woodsboro, om haar selfhelpboek bekend te stel. Daar ontmoet sy haar mede-oorlewendes, Gale (Cox) en Dewy (Arquette), asook haar tante (Mary McDonnell) en Jill (Roberts). Saam met die boekbekendstelling val egter ook die herdenking van die eerste Woodsboro-moorde en Sydney se tuiskoms gee dan aanleiding tot ’n nuwe vlaag moorde op die dorp se jongklomp. Met die hulp van Dewey en Gale moet Sydney die moordenaar vastrek voordat dié weer toeslaan.

Scream-aanhangers behoort teen dié tyd te weet wat om van dié reeks te verwag: ’n fliek wat die draak steek met homself, ’n vermaaklike openingstoneel, en ongelooflike mooi jongmense wat een na die ander soos biltong opgekerf word.  

Dit is veral daardie immerbekende openingstoneel waarna ek die meeste uisien in ’n Scream-fliek. Ek onthou hoe ek en my vriende destyds in 1996 van plesier gejil het toe Drew Barrymore se binnegoed op die skerm uitgesteek word. En toe Jada Pinkett-Smith wreed in ’n bioskoop vol niksvermoedende fliekgangers onder Ghostface se mes omgekom het. Scream 4 se openingstoneel is baie slim gedoen en beloof om die eerste tien minute die moeite werd te maak.

Dit is die postmoderne element wat hoog uitstaan in Scream 4. Daar word telkens intertekstueel verwys na ander rillerflieks, insluitend Saw en The Ring. Selfs die fiktiewe fliek-binne-’n-fliek Stab word aangehaal en gekritiseer. In hierdie sin voel Scream 4 deurentyd soos ’n resensie van ander rillerflieks. Die eerste Scream word ook op ’n vermaaklike wyse geparodieer, veral in die openingstoneel, en van die fliek se by-karakters is ook argetipes van dié van die eerste Scream. Daar word selfs die spot gedryf met Scary Movie, ’n fliek wat op sy beurt die Scream-reeks parodieer.

Ná meer as ’n dekade doen die Scream-reeks steeds sy verwagtinge gestand. Dit het sy naelbyt-oomblikke, maar dis iets wat ons alreeds in die vorige Scream-flieks gesien het … en in die eindelose imitasies wat in Scream se voetspore gevolg het. Dis ook ’n jammerte dat die drie hoofkarakters effens uit die kollig gestoot word en nie goed ontwikkel word nie. Dewey is nog steeds die naïewe en effens dom sherif, Gale is steeds die nuushonger joernalis en Sydney is steeds “die een wat altyd wegkom”. Dit maak egter nie die fliek minder aangenaam nie – die nuwe jongklomp in Scream 4 maak op hiervoor. Kyk uit vir hoogs vermaaklike vertolkings van bekende televisiesterre soos Shenae Grimes (90210), Anna Paquin (True Blood), Hayden Panettiere (Heroes) en Kristen Bell (Veronica Mars).