Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Die man en die wolf


Pienkes du Plessis - 2011-07-12

Untitled Document

Dit het alles op ’n besonderse aand gebeur, dieselfde aand dat doktor Markus die erepenning kry. Die Staatspresident gee dit vir hom.

Die man wie se naam Barend is en wat ’n beleefde bediende is en wat vir doktor Markus werk, wat, soos almal weet, ’n baie geleerde en vername man is, sê op die besonderse aand vir doktor Markus ’n wolf het uit die dieretuin weggeraak, en dat dit ’n wit wolf is en nie ’n gewone grys wolf nie. Dis maar dieselfde as ’n woudwolf, maar hierdie een is eintlik ’n wit woudwolf, sê hy.

Doktor Markus, wat al oud is, seker amper sewentig al, luister aandagtig en sê dat dit dan ’n mooi dier moet wees, al het hy nog nooit self ’n wolf gesien nie.

Barend, wat in verre lande en ook in boeke geleer het hoe om ’n beleefde bediende en ’n lyfkneg te wees, sien dat alhoewel doktor Markus ’n baie geleerde man is, daar tog dinge is waarvan hy min weet, en hy sê dus vir doktor Markus dis ’n vieslike en gevaarlike dier. Die man van die dieretuin waarsku ook op die televisie hierdie een is meer as twee meter van sy neus se punt tot by sy stert en die kwyl drup gedurig uit sy bek. Barend sê dit alles met respek.

Omdat doktor Markus altyd weetgierig is, wil hy weet na watter kant toe die wolf gevlug het, en gelukkig weet Barend dat dit blykbaar ooswaarts is en nie na hulle kant toe nie. Dis ’n verligting, dink hy. Maar doktor Markus is spyt daaroor en sou graag die wolf wou gesien het as hy dalk na hulle kant toe gevlug het. Dis ook met respek dat Barend toe vir hom sê hy dink nie doktor Markus sal hom sien nie, want dis al klaar donker en môre sal hulle hom al gevang hê. Dis as hy huil dat hulle hom sal hoor, want hy huil uit sy siel uit en dan vang hulle hom.

Uit sy siel uit huil? ’n Wolf? Wat ’n siel het?

Barend sien dat doktor Markus hom nie glo nie, maar hy sê niks nie, omdat hy beleefd is.

Doktor Markus dink na oor die wolf wat uit sy siel uit huil. Hoekom sou hy dít doen? Hy besef nie dat hy eintlik half met homself praat nie. Dis jammer dat hulle die wolf sal vang. Hy wens hulle vang hom nooit nie. Seker ’n mooi dier, so ’n wit woudwolf. Terwyl doktor Markus dit sê, kyk hy voor hom uit, maar sien niks nie. Barend kyk bekommerd of doktor Markus nie dalk duiselig geraak het soos anderdag nie.

Doktor Markus? Praat u? So ’n wolf is ’n baie gevaarlike roofdier. Daar is kinders en swak oumense wat hulleself nie kan verdedig nie, en ’n wit woudwolf is ’n verskriklike dier.

Hy wag dat doktor Markus moet terug antwoord.

Doktor Markus?

Toe sê doktor Markus hy is jammer, hy het nie gehoor nie. Wat het jy gesê, Barend?

En Barend antwoord hy meen maar net ’n wit wolf is ’n baie gevaarlike dier en daar is oumense en kinders en –

Waarop doktor Markus verskonend antwoord en sê natuurlik Barend, dis onverantwoordelik van my om te sê hulle moenie die wolf vang nie; mens kan nie toelaat dat half-makgemaakte wolwe in ons stede se strate rondloop nie – daar is kinders en oumense en –

Wat het jy nog gesê, Barend?

Niks nie doktor, net van ... net van die oumense en die kinders.

Doktor?

Barend?

Doktor?

Sou jy sê as die wolf dalk hierdiekant toe vlug, mens hom sal hoor? As hy dalk sou huil?

So ’n woudwolf huil verskriklik, Doktor. Lang droewige huile, sê hulle.

Het jy dit al gehoor, Barend?

Net wildehonde in die wildtuin, Doktor, eenkeer in die nag. En ook in die bioskoop. Dis baie droewige huile, as ek moet sê. En dan het ek ook gehoor die oumense sê daar moet iemand doodgaan as ’n wolf huil. Iemand. Iewers.

Doktor Markus is geamuseerd dat iemand sal doodgaan net oor ’n wolf huil en sê vir Barend dis tog doodlogies dat iemand sal doodgaan as ’n wolf huil, iewers. Daar sterf ’n halfmiljoen mense elke dag en dit moet die wolwe besig hou en hy weet nie of daar heeldag ’n halfmiljoen wolwe sit en huil net sodat mense kan doodgaan nie. Nie waar nie, Barend?

Barend dink dis hoekom die oumense so gedink het. Hy weet maar wat hy geleer is.

Doktor Markus, wat ’n wetenskaplike is, en wat op die besondere aand ’n erepenning vir sy internasionale prestasies by die President kry, sien dadelik dat Barend nie die volle waarheid onder die knie gekry het toe hy geleer is nie.

Maar nou, Barend, is die probleem die volgende: die oumense het ook maar net geweet wat vir húlle geleer is, en húlle oumense het dit weer by húlle oumense geleer, en húlle oumense weer by ...

Jy verstaan, nè? So ’n láááng ry oumense op ’n ry af wat mekaar leer. Dit kan dalk wees dat die eerste oue die tweede oue verkeerd geleer het, en nou sit ons met iemand, iewers, wat doodgaan as ’n wolf huil, iewers. Of nie, Barend?

Barend stem beleefd saam.

Doktor Markus vermaan ook vir Barend dat hy nie na die oumense moet luister nie. ’n Wolf is eintlik ook maar net ’n groterige kwaaierige hond.

Barend dink na. Met respek sê hy dan as doktor Markus mooi luister, sal hy hoor ’n wolf huil soos verdriet. Dis eintlik ’n mens, maar ’n mens met ’n wolfgesig, het die oumense ook gesê. En, vra hy, het doktor Markus nog nooit ’n wolf hoor huil nie?

Doktor Markus weifel en dink na. Het hy nie dalk nie?

Miskien tog, ja, Barend.

Dan het u mos gehoor dis soos iemand wat doodgaan?

Ja, maar toe was ek maar ’n kind. Soos ‘n plaashond wat vir die maan huil, laat die aand, toe hoor ek dit. Ek allenig, maar nie een van die ander huismense het dit gehoor nie.

En toe, Doktor? Wat toe, Doktor?

Daar ís toe selfs iemand dood, ’n jong vrou, dink ek.

Daar sê u dit self. Dis alles waar, sien u, die oumense was reg. As ’n wolf huil, kan jy jou voorberei vir iemand wat gaan doodgaan.

En as dit jy self is, Barend? Kan jy dalk jou eie wolf hoor huil?

Jy sal sy wolfgesig sien ook, doktor Markus. Dis hoekom so ’n voorbode ’n goeie ding is, dan kan jy jou voorberei. Mens moet jou voorberei, anders –  

Anders, wat help die voorbode dan?

Doktor Markus is ’n wetenskaplike wat nie verstaan hoekom wolwe wat huil, ’n voorbode kan wees nie en hoekom net sekere mense dit kan hoor of sien nie. Maar hy reageer goedig.

Dan was dit ’n voorbode blykbaar net vir my ore bedoel. Niemand anders het dit gehoor nie, net ek. Toe sê die oumense dis duidelik net my verbeelding. Want waar sal daar nou ’n wolf vandaan kom? Eienaardig hoe ’n kind hom dinge kan verbeel. Koddig eintlik, nè Barend?

Barend wil nie hê doktor Markus moet spot oor ’n wolf wat huil nie. Veral nie as hy goed weet wat dit beteken nie.

Spot ek? Dit kon tog maar net ’n plaashond gewees het. Want waar sál daar nou ’n wolf vandaan gekom het? Hè Barend?

Hy ... hy is maar daar, Doktor, daar ... waar iemand doodgaan.

O.

Doktor Markus sê niks verder nie en Barend sien dus dat doktor Markus nie meer oor wolwe wil praat nie.

Is daar nog iets, doktor?

Nee Barend, nie op die oomblik nie, maar ek bring ’n paar gaste vir ’n drankie saam hiernatoe ná die seremonie vanaand. Moet dus nie gaan slaap nie. Hoeveel van die spesiale Cabernet is daar nog oor?

Nog drie bottels, Doktor.

Dis goed. As ek terugkom, sal ek daarvan wil voorsit, maar effens verkoel, sowat vyf grade onder kamertemperatuur. Die twak van ’n Cabernet teen kamertemperatuur duld ek nie.

Ek het reeds een bottel verkoel en hier in die kraffie gegiet, Doktor. Kan ek vir u nou daarvan skink?

Dankie Barend, dis bedagsaam van jou. Nie nou wyn vir my nie, dankie. Maar verkoel die res ook, asseblief.

Met graagte, Doktor, maar ek is bekommerd dat hulle u miskien te laat sal kom haal vir die seremonie vanaand. Sal ek u nie maar self soontoe neem nie?

Doktor Markus waardeer Barend se kommer en stel hom gerus dat die organiseerders darem nie maklik hulle een eregas sal vergeet nie.

’n Senior amptenaar kom my persoonlik haal. Nog sowat ’n halfuur, wees gerus. En ...

Hy kry ’n ingewing.

Barend?

Doktor Markus?

Ek dink jy moet vir my ’n whisky skink, asseblief?

Barend dink dis ‘n goeie idee, want as hy reg onthou, het doktor Markus lank laas een gedrink, en ’n enkelmout met min ys sal goed wees om hierdie besonderse aand te help vier.

Wanneer hy klaar die drankie geskink het en doktor Markus dankie gesê het, staan hy stil en wag. Dalk sê doktor Markus nog iets.

Maar doktor Markus het niks meer te sê nie.

Naand dan, Barend.

Naand, doktor Markus. En doktor Markus ...

Ja Barend?

Geluk ook, Doktor. Ek het altyd geweet u sal eendag nog beloon word, ’n toekenning kry. So ’n erepenning by die president.

Dankie Barend. En hoe het jy dit altyd geweet?

Mens lees maar die koerant, Doktor. Toe dink ek maar. Die koerante was die laaste jare so vol van u. En u het ook so hard gewerk. Altyd maar hier in die studeerkamer, skryf, skryf elke dag. Of in die laboratoriums by die firma. Lesings en reise. Mens kan nie aanhou werk en niks daarvoor kry nie.

Barend lag beleefd, maar sy lag is tog eintlik amper voorbarig. As hy sy familiariteit besef, bly hy verleë stil en vra of doktor Markus seker is daar is niks verder nie. Hy wag, maar doktor Markus swyg net goedig.

Dan loop hy maar. Hy sal in sy kamer wees.

Goeienaand dan, doktor Markus.

Toe doktor Markus alleen is, dink hy na oor Barend se woorde. Goeie Barend. Hoekom sou hy nou so gaande oor die wolf wees? Nie ’n gryse nie, maar ’n witte, ’n wit woudwolf. En dan ook een wat huil, droewig huil, uit sy siel uit, sy wolwesiel. ’n Wolf se siel?

Doktor Markus se kop rus teen die leuning, hy teug aan die whisky, voel weer die duiseligheid van anderdag. Dit raak al meer deesdae, noudat ek nog oud ook word. Seker so oud soos Barend se oumense, een van dié in die lang ry waar die een die ander op die ry af leer. Nes ek – probeer alewig ander mense leer. Artikels en lesings. Die mikrobiologie is mos ’n wye terrein. Onuitputlik. Wie lees dit eintlik?
Wanneer gaan ek bietjie afskaal, minder reis, minder werk, minder jaag, minder –

Wat maak dit eintlik saak vir ’n allenige ou man?

Maar die vermaarde doktor Markus murmureer nie. Hy is tevrede. Hy sit in sy beste stoel en hy drink aan sy whisky. Maak sy oë toe om beter agteroor te rus. Weldadig die stilte en die rus. Goed vir ’n man wat beroemd geword het.

En toe hoor hy dit.

Die wolf wat huil. Hier vlak by sy venster.

Doktor Markus sit aangegryp, hou aan die leuning vas, haal swaar asem. Die wolf het toe wél gekom. Droewig sy huil. Weer ’n keer huil die wolf. En soos die wolf huil, onthou hy dis dieselfde as die huil uit sy kleintyd, die tyd toe die vrou of een dood is. So mooi, so droewig. Uit sy siel uit huil die dier. Nes destyds. Dit kón tog nie ’n plaashond gewees het nie. Na al die jare weet doktor Markus dit nou: die oumense was toe tóg verkeerd.

Dit is op daardie oomblik dat die voordeurklokkie lui. Hy gaan maak die deur oop.

Goeienaand, doktor Markus, sê die man voor hom, ek is die amptenaar wat u kom haal het.

Goeienaand, kom gou binne asseblief, daar is ’n gevaarlike wolf hier buite, ons moet die polisie bel. Sit asseblief, ek wil gou bel. So ’n gevaarlike dier moet agter slot en grendel kom. Agtelosigheid aan die kant van die dieretuin se bestuur, so ’n ontsnapping.

As doktor Markus probeer bel, is die foon dood. Verdeksels. Ons telefoondepartemente munt nog altyd daarin uit om ondoeltreffende dienste te lewer. Is dit nie so nie, meneer ...?

Ek is die amptenaar wat u kom haal het, doktor Markus. Is u gereed?

Doktor Markus is gereed ja, maar hy was eintlik besig met ’n drankie, en daar is nog heelwat tyd. Sal u nie eers iets saam met my drink nie?

Ek sal dit as ’n baie groot eer beskou, doktor Markus, en dan ook graag ’n glasie van u Cabernet.

Doktor Markus is effe verbaas, maar sê hoflik: met graagte.

Weet u doktor Markus, ek hou van ’n Cabernet wat effe verkoel is, en dis so selde dat mens dit verkoel kry, liefs tot sowat vyf grade onder kamertemperatuur. Dink u nie so nie?

Ja. Ja, dit is selde.

Die Amptenaar se antwoord maak hom onhandig as hy die kraffie neem en daaruit skink.

Ons drink op u toekenning, doktor Markus. Dis vir ons albei ’n groot eer, en hy proe aan die spesiale Cabernet.

My komplimente, doktor Markus, ’n perfekte wyn. Hy proe weer en glimlag.

Weet u, in ’n groot mate is ú eintlik mý gas alhoewel dit u huis is. Dis eintlik ’n voorspel, want ek het te vroeg opgedaag. Nogmaals, my komplimente.

Dankie.

Doktor Markus is ongemaklik. Kyk, dis nie ék wat u gas is nie, dis ú wat my gas is.

Ja, dit is ook waar. So baie is waar en so baie nie. So baie is albei. Begryp u?

Ek is jammer, ek begryp nie. U praat in raaisels.

En toe huil die wolf weer. Hier vlak langs die huis.

Luister! sê doktor Markus. Dit moet ’n verskriklike dier wees.

Wat? vra die Amptenaar.

Hoe bedoel u wát? Die wolf natuurlik.

Watter wolf?

Genugtig, kêrel, het jy nie nou die wolf daar buite gehoor nie?

Nee.

Raak ek nou van my sinne af? Wil u vir my sê u het nie nou die wolf daar buite gehoor nie?

Soms laat my gehoor my bietjie in die steek, doktor Markus. U moet my verskoon as ek dan uit voeling is met alles wat gebeur. Watse wolf was dit?

Doktor Markus is verstom. Dit ... dit was net ’n wolf. Dit het vanmiddag uit die dieretuin ontsnap. Het u nie daarvan geweet nie?

Dit spyt my, ek het nie daarvan geweet nie. Ek was werklik ook so besig met die reëlings vir u onthaal vanaand.

Dis ... dis ’n groot wit wolf. Dis eintlik maar dieselfde as ’n woudwolf, maar hierdie een is wit.

O. Hulle behoort eintlik almal aan die Canis Lupus-familie, doktor Markus.

Die Canis Lupus-familie? Ken u dan wolwe?

Ja. Ja, ek ken wolwe, as u dit só stel. Dis eintlik die enigste studie wat ek het. Maar ken ú dit nie?

U weet tog, my studie is dié van die mikrobiologie.

Maar is dit die eerste keer dat u dan ’n wolf hoor huil?

Ek? Doktor Markus pouseer. Ja. Dis die eerste keer.

Maar vroeër, lank gelede, miskien toe u nog ’n kind was?

Nee. Nee, toe ook nie.

En tog hoor u dit nou? Net enkeles hoor soms ’n wolf, weet u. Die uitgesoektes.

Enige persoon met normale gehoor kon die wolf nou daar buite gehoor het. Ek begryp glad nie waarop u afstuur nie.

Die Amptenaar kom staan voor doktor Markus.

Slegs enkeles, doktor Markus, hoor ooit die stem van die wit wolf. Dit is inderdaad ’n bonatuurlike vermoë waaroor net die uitgesoektes van die Augeri se priesterordes beskik.

Belaglik. Ek is nie ’n priester nie en nog minder weet ek wie die Augeri is.

Die Augeri is die priesters wat op die heuweltoppe na die stem van die wit wolf luister, doktor Markus.

Priesters, Augeri, witwolwe en heuweltoppe. Waarvan praat u tog?

Toe kom die Amptenaar nóg nader en praat in ’n sagte stem.

Ken u dan nie die verhaal nie?

Verhaal?

As die Amptenaar praat, kyk hy doktor Markus stip in die oë: Want twee seuns is gebore, broers was hulle. Met ’n wolf-ma aan wie hulle soog. Die een het ’n stad gebou, en die ander nie. Kyk, sê die ander een, jou stad beteken niks nie, die mure is te laag, en hy spring daaroor om te bewys wat hy sê. Maar toe hy dit doen, neem sy broer ’n klip en kap hom dood. Het jy dan geen geloof nie? sê hy vir Remus toe hy uiteindelik dood is. Maar Remus antwoord niks nie, want hy lê dood langs die lae mure.

En toe? vra doktor Markus.

Toe bou hy sy stad klaar op die sewe heuwels, tot sy wolf-ma hom kom haal, terug na haar land toe, ’n vlakteland, een stormnag. Maar dood is Romulus nooit.

Doktor Markus sê hy onthou uit sy kleintyd nou weer die storie van Romulus en sy broer Remus en hulle stad. En ook iets van Picus die houtkappervoëltjie by hulle. Remus is dood, ja, dit onthou hy goed, maar dit verbaas hom dat Romulus nooit dood is nie. Waar ís hy dan? Op sy wolf-ma se vlakteland dalk? vra hy die Amptenaar.

‘n Wolfgod word Romulus toe, antwoord die amptenaar, Quirinus is sy nuwe naam. Quirinus wat saam met sy wolf-ma op die vlakteland van Janus gaan bly en wat sy priesters op die heuweltoppe plaas. Augeri noem hy hulle.

Doktor Markus, wat ’n vermaarde wetenskaplike is en wat ’n erepenning by die President gaan kry, hoor selde verhale van vervloë eeue se priesters, maar vind sy besoeker se vertelling tog wel interessant.

En is dit nou die verhaal wat u my wil vertel? Van Quirinus en Janus se vlaktes?

Dis ’n ewige verhaal, sê die Amptenaar, sonder ‘n einde. Janus is die vlaktes van die wolwe. Hier woon die groot gryses, die bruines, die swartes, en ook die groot rooi wolwe. Hulle is die verskriklikes, die honde onder die wolwe, en wreder as die aardwolf van Afrika: die groot woudwolwe van Janus.

Doktor Markus, wat ‘n vermaarde wetenskaplike is en wat ’n erepenning by die President gaan kry, raak nou nog meer weetgierig. Wat doen hierdie priesters heeldag op die heuweltoppe tussen die wolwe? Hierdie Augeri, wil hy weet.

Profete is hulle, sê die Amptenaar, elkeen ’n priester op sy heuweltop en wat hoor en luister na Quirinus, hulle wolfgod, die een wat eers Romulus was. Een maal in vyf of tien jaar sal daar één wees, groter as die ander, wat sý trop sal laat heers in die woude van die wolwewêreld: dis die heilige witte van Janus wat sy omen huil en sy uitgesoektes self gaan haal. Soos verdriet is sy stem, van Janus af.

Die Amptenaar praat in doktor Markus se gesig. Het u dan nie geweet nie, doktor Markus: as die wit wolf van Janus huil, moet iemand sterf, iewers. Hoor u my nie, doktor Markus? Het u dit nie geweet nie?

Doktor Markus is nou baie ongemaklik. Die wolfgod Quirinus se wit wolf wat van Janus af huil, was nooit deel van sy studieveld nie en hy kan werklik nie met gesag kommentaar daarop lewer nie.

Dit lyk my u het ’n hele arsenaal fabels en verhale. Baie interessant. Maar ek is nie so seker dat ek langer daarna wil luister nie.

Beantwoord eers my vraag, doktor Markus. Het u dit geweet? As die wit wolf van Janus iewers huil, moet iemand iewers sterf. Dis tog wat die oumense gesê het.

Daar is altyd ouvroustories om na te luister. Maar eintlik wil ek u nie meer in my huis hê nie. Gaan asseblief. Ek sal self by die funksie kom.

Maar u het dit geweet.

Sal u loop, asseblief.

Hoekom het u dan gesê u wens hulle vang die wolf nooit nie?

Dis ‘n leuen! Ek het nooit so iets gesê nie. Toe u hier binnekom, wou ek die polisie bel, en toe –

Dink weer, doktor Markus. Het u dit nooit vanaand gesê nie?

Ek het dit bloot aan my bediende genoem en gesê omdat ek –

En toe bly doktor Markus stil, kyk na sy besoeker.

Hoe weet u al hierdie dinge?

Sien u, doktor Markus, u het dit tóg gesê.

U is bloot ’n vreemdeling. Ek het u nog nooit in my hele lewe gesien nie, en tog weet u elke ding wat vanaand in hierdie huis gesê is. Wie is u?

Ek is die amptenaar wat u kom haal het, doktor Markus.

Doktor Markus kyk onbegrypend na die amptenaar.

Wie is u? vra hy weer.

Doktor Markus, u is ’n wetenskaplike, en tog ook ’n man van die lettere, van die religie. U weet dit tog nou. Kyk na my oë, doktor Markus, en u sal sien ek het u kom haal.

Ek sien u oë, maar wat daarvan? Wat wil u van my hê?

Luister na die wit wolf, doktor Markus, wat huil as hy iemand kom haal. Onthou u van die vrou die tyd? U het dit gehoor toe hy haar kom haal. En nou het hy weer gekom.

Maar hierdie keer om mý te kom haal? Luister Meneer die Amptenaar, ek is nou moeg om na u te luister, want u het niks om vir my te sê nie. Gaan asseblief terug van waar u gekom het.

My priestertaak is onafgehandel sonder u, doktor Markus. Ek stel dit weer aan u: as die wit wolf van Janus huil, dan sterf –

Iemand, iewers. Asseblief, u weet net so goed soos ek daar sterf ’n halfmiljoen mense elke dag en dit –
Dit hou die wolwe besig. Ek weet, doktor Markus.

Daar is dit weer! Vandat u vanaand hier ingekom het, het u my ontstel deur kort-kort ’n opmerking te maak wat ek veronderstel is om ook vroeër vanaand te gemaak het.

En nou ontstel dit u nie meer nie?

Inteendeel. Toe jy vanaand hier ingekom het, het jy nie die wolf gehoor nie; die telefoon het buite werking geraak; jy het ’n glasie Cabernet verkies wat juis vyf grade onder kamertemperatuur verkoel moet wees. Jy maak twee of drie opmerkings wat woordeliks herinner aan opmerkings wat ek self vroeër vanaand gemaak het. Jy maak ’n aantal bonte gevolgtrekkings uit die verhaaltjie van Romulus en Remus en die wolfteef wat hulle gesoog het sodat hulle ’n stad kon bou, en toe nog Romulus wat daarna ’n Romeinse god word. Genoeg. Elke skoolkind ken die verhaaltjie. Snaaks dat jy nie nog van Picus die houtkappertjie ook vertel het nie. Inderdaad ’n baie meewarige versamelinkie getuienis om jou as amptenaar van die dood te bewys.

En u slotsom, doktor Markus?

Jy maak die slotsom, Meneer die Amptenaar. Die bewering dat jy nie die wolf gehoor het nie, is bloot ’n subjektiewe ontkenning. Dis niksseggend. Telefone raak daagliks buite werking. Dus: ook van gener waarde. Dis verder welbekend dat ek graag Cabernet drink, en wel ook verkoel tot vyf grade onder kamertemperatuur. Slegs ’n week gelede was daaroor ’n stukkie in een van die Sondagblaaie.

Ek kon u woorde herhaal wat u vroeër vanaand gesê het, doktor Markus.

Die verklaring is tog voor die hand liggend. My studeerkamervensters staan wawyd oop oor die stoep. Dis duidelik dat jy op die stoep moet gewees het en alles gehoor het wat ek met my bediende gesels het. Daar is eintlik weinig meer wat geheimsinnig is aan jou besoek, selfs jou fabeltjies.

Quirinus laat sy wit wolf huil van Janus af en u noem dit ’n fabel? ’n Fabel van ’n stad op sewe heuwels? Rome is ’n ewige stad, doktor Markus.

Elke heiden het maar sy eie verhaal oor gister, sy eie stad met sy sewe heuwels en sy eie priesters wat na antwoorde soek. Romulus en Remus saam met die houtkappertjie Picus is slegs maar bekoorlike voorbeelde daarvan. Janus se Quirinus is nie ’n wit wolf wat huil nie, Meneer die Amptenaar.

En tog, doktor Markus, weet u van u kleintyd af dat u hom hoor?

Daar is wetenskaplik vasgestel dat die menslike oor die onbetroubaarste gehoorapparaat ter wêreld is. Bang mense hoor deure wat klap en voetstappe in leë gange, soldate hoor bomme val, moeders hoor hulle kinders roep, en in u verhaaltjie klim Romulus se priesters op heuweltoppe en luister na die klaaglied van Janus se wit wolf. Geluide en klappe en klaagliedere wat nie bestaan nie.

Doktor Markus bly vir ’n rukkie stil, stap stadig tot by die Amptenaar.

Ek hoor jou wolf, ja; soos die tyd op die plaas hoor ek hom, soms as ek alleen is. En onseker, of bekommerd, of ontsteld. Maar hy bestaan nie. Jou wolf is eintlik maar net ’n groterige, kwaaierige hond wat iewers op ’n plaaswerf vir die maan huil.

Kyk na my oë, doktor Markus, en jy sal sien ek het jou kom haal.

Jou oë? Dis net ’n gesigsorgaan waar die kornea, die retina, die iris en die lense van die pupil ’n fisiologiese proses aan die gang sit wat –

Nie dit nie! Kyk my wolf-oë! Kyk, doktor Markus, kyk!

Jy het my in die verkeerde eeu kom besoek, Meneer die Amptenaar. Ons bewe nie meer as ons ’n wolf in die nag hoor nie. So baie wolwe wat ons gehoor het in die lang nag wat agter lê, so baie verdriet tot nou toe waar ons in die dag staan. Jou wolwe en jou priesters met hulle bygelofies is maar net fabeltjies. Jy kan my nie meer saam met jou neem nie, en ek sal bly wees as u my huis nou sal verlaat. Asseblief.

U stuur my weg, maar die wit wolf van Janus sal tog nog huil as hy u kom haal. U sal sy lied hoor, in sy oë kyk, in sy gesig. Dan sal u die waarheid sien.

Doktor Markus maak die voordeur oop. Uit asseblief. Uit uit my huis uit!

Toe klap hy die deur agter die Amptenaar toe, gaan sit in sy stoel, klou aan die leuning as hy swaar asemhaal.

Die man wie se naam Barend is kom vinnig die vertrek binne. Hy sien doktor Markus op sy leunstoel, sien hoe hy aan die leuning vasklou, sien hy is ontsteld.

Doktor Markus? Wat makeer, Doktor?

Doktor Markus is verward. O, dis jy Barend. Wat is dit?

U het geskree, Toe kom ek.

Ek, geskree?

U was die hele tyd so onrustig. Miskien het u gedroom terwyl u geslaap het.

O. Was jy hier toe ek geslaap het?

Ek wou u kom sê hulle het die wolf gevang, aan die anderkant van die stad glo. Maar toe slaap u, en ek wou u nie steur nie. Ek was maar bly dat u bietjie kon rus. U lyk vir my glad nie gesond nie. Wil u nie maar dat ek u na die plegtigheid toe neem nie?

Nee glad nie, Barend. Die amptenaar wat my kom haal, sal nou enige oomblik opdaag. Dis net –

Barend?

Ja Doktor?

Dis net baie eienaardig, die wolf, dis asof dit vanaand gedurig in my gedagtes is. Eintlik moet mens jou nie aan wolwe steur nie, want hulle bly te ver hiervandaan om skadelik te wees. Op die vlaktes van –

Barend?

Ja, doktor Markus?

Het jy vroeër vanaand vir my gesê van ’n plek met die naam ... Janus?

Ek, Doktor? Ek ken nie so ’n plek nie, Doktor.

O. En tog verbeel ek my ons het vanaand oor ... Janus gesels. Sonderlinge naam.

Ja Doktor. Nou goeienaand dan, doktor Markus.

Naand Barend.

Doktor Markus is nou moeg, moet hy nie ’n dokter gaan spreek nie? As hy gaan sit, wonder hy waar hy aan die vreemde naam sou gekom het. Janus se vlakte, en die wit wolf? En dan ook Romulus met sy broer tussenin? En ’n wolfteef vir ’n soogma. Daar was priesters ook. Op hulle heuwels?

Dis goed hy rus so ’n bietjie agteroor. Hy is ’n vermaarde persoon en hy gaan ’n erepenning kry, die President gee dit vir hom. Dus is dit goed as hy agteroor rus en vars by die plegtigheid opdaag.

Toe die voordeurklokkie lui, maak doktor Markus self die deur oop en kyk na sy besoeker. Terselfdertyd hoor hy die wolf wat huil, ’n lang huil, uit die wolf se siel uit. Van ’n baie ver vlakte af, seker.

Goeienaand, doktor Markus, ek is die amptenaar wat u kom haal het, sê die besoeker met die wolfgesig.