Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Spoorloos – Eckard Potgieter se soliede debuut


Leon-Ben Lamprecht - 2011-07-06

Spoorloos 
Eckard Potgieter

 

Net op ’n punt van orde: daar is seker diegene wat sal betwis dat dit regtig musiek is. Hulle sal sê dis eerder “spoken word”-opvoerings bo-oor musiek, soos dié van Kabous Verwoed. Vir hulle sê ek ... Julle is seker plek-plek reg.

Maar kom ons begin voor.

Potgieter is beslis eerder bekend as “boererock-pionier” (soos einste Verwoed dit gestel het). Hy was onder meer eienaar van Wildebeest Records – wat van Piet Botha se Suitcase vol Winter tot Valiant se Dorpstraat Revisited, Gert Vlok Nel se Beautiful in Beaufort-Wes, Jan Blohm se Melkstraat Confessions en selfs Theuns Jordaan se Vreemde Stad uitgebring het. Groot gees, dus.

En nou het hy self agter die mikrofoon ingeskuif.

Spoorloos, Potgieter se debuutalbum, is 12 snitte lank en benewens Blohm is onder meer Botha, Anton L’Amour, Albert Frost en Brenda Burnit ook betrokke.
         
Die album se lirieke, het Potgieter aan Theunis Engelbrecht vertel, is geskryf tydens sy verblyf van twee jaar as die enigste Westerling in ’n dorpie van 1 000 inwoners in die Arabiese woestyn Rub’ el Khali. Hy het Blohm gekontak en so is die liedjies soos digitale tennisballe heen en weer oor die internet gestuur en aan geskaaf.
         
Die beste manier om te beskryf hoe Eckard Potgieter se musiek klink, is seker maar om Tom Waits se duimspykers-met-bourbon-gegorrel-stem te meng met Blohm se bluesy rock (Blohm het immers saam met Sean Manley die album gemeng, so dit is seker nie regtig ’n verrassing nie).
         
Daar is weer ander, skryf Engelbrecht, wat meen Potgieter klink “soos Leonard Cohen op witblits”.
         
Hoe dit ook al sy, die album klink goed, maar na deeglike luister is my oorwegende indruk van die album een van tref-en-mis, as jy my ’n anglisisme sal toelaat.
         
Die album gaan van luisterbare popperige rock in “Winternag” (terloops, in die video verskyn almal van Blohm tot Jordaan, Elsabé Zietsman, Verwoed en, ja, selfs Steve), tot die prewelende praatsing op “Blomme vir Boeddha”, liedjies in ballade-gebied soos “Kom ons kuier” en die, uhm, blues van “Oopkaarte blues” en “Woestynblues”.
         
Burnit en Jackie Hancke doen die agtergrondsang, en dít werk baie goed.
         
“Winternag” en “Blomme vir Boeddha” is vir die uwe loshande die beste snitte op die album – dis nie net straks die maklikste op die oor nie, dit het ook die sterkste lirieke.
         
In “Kom ons kuier” lig Potgieter sy hoed na van dié kunstenaars saam met wie hy al gewerk het (wat ook hier bo genoem is), en onder die vaandel van die oorwurm-melodie sing hy oor partytjieterapie vir die lewenspyn wat ons almal mos maar takel. Dalk is dit maar so dat ons makliker aan ons sorge dra as ons weet ander dra ook?

Gooi jou sondes in die asblik
Gooi jou sorge in die sloot
Nooi jou duiwels partytjie toe
Vanaand trap ons hulle dood

Bring ’n bottel van jou beste
Ja, jou bittersoetste wyn
Dan staar ons na die kole
En begrawe ons ons pyn

En dan luister ons na Gertjie
En na Valiant en Piet
En dan haal ek my kitaar uit
En ek skryf vir jou ’n lied.

Loshande die vreemdste snit op die album is Potgieter se cover van Uzo Blaker se “Push-up bra”. Dié song het destyds op die Volk jou ook-kompilasie verskyn (wat deur Wildebeest uitgebring is) – Blohm het hierop verskyn, toe nog as George Harry, asook Bacchus Nel, Seeleeu Leipoldt (seker beter bekend as die akteur Erik Holm) en Adam Tas.

Dit pas glad nie in by die res van Spoorloos se liedjies nie. Ek sou dit nie heeltemal as studentikoos beskryf nie, maar dis bietjie soos om ’n jelly tot raak te byt as jy gebraaide hoender eet. En dit kom bietjie creepy oor as Potgieter sing “Ravertjies of rock chicks?/ Ek soek net ’n hot chick/ wat hot pants in die somer dra/ ’n kenner is van die Kama Sutra ... ek soek net ’n meisie in ’n push-up bra.”

“Oopkaarte blues” klink bietjie of dit Hendrix channel, en dis heeltemal reg met my.

Maar die res? Dit spreek nie regtig tot my nie. Ja, die titelsnit het sy oomblikke (veral die kitaarwerk), en ook “Woestynblues” ook (soos hier: “die woestynslang is ’n adder/ en sy naam is Alleen/ hy vreet jou diep van binne/ reg tot op die been”).

Maar snitte soos “Wie”, of “Op die bodem van my” gryp my eenvoudig nie aan nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie, dis glád nie sleg nie, dis net van daai snitte wat ek lateraan geskip het as dit opkom.

So waar laat dit ons met Spoorloos? Dis ’n baie soliede debuut en ek hoop van harte Potgieter bring nog albums uit. Maar ek is nie uitgeboul nie.

Ek dink egter jy moet die album gaan koop en self besluit.