Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Biutiful bied oomblikke van hoop, maar niks op ’n skinkbord nie


André Crous - 2011-07-06

Regisseur: Alejandro González Iñárritu
Kamerawerk: Rodrigo Prieto
Rolverdeling: Javier Bardem, Maricel Álvarez, Diaryatou Daff
Looptyd: 140 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 22 Julie 2011

’n Film onder leiding van regisseur Alejandro González Iñárritu is nou al maklik herkenbaar. Sy vorige drie films, Amores perros, 21 Grams en Babel, het almal ’n verskeidenheid hoofkarakters met hul eie afsonderlike stories gehad wat op een of ander manier saamgeheg word deur een of ander brutale gebeurtenis. As oudreklameregisseur het hy ’n sin vir styl, ten spyte van die duidelike onmiddellikheid van sy wêrelde.

Eintlik was sy draaiboekskrywer van bogenoemde films, Guillermo Arriaga, verantwoordelik vir hierdie “styl” wat kykers met Iñárritu geassosieer het, en almal het gewonder of Biutiful sou pas by die filmmaker se ander films. Die antwoord is ’n volslae “ja”, hoewel dit nou begin voel of Iñárritu te behep geraak het met sy eie styl, ongelukkig sonder die ervaring om te weet wanneer dit werk en wanneer dit nie werk nie. Om die waarheid te sê, Biutiful werk op sy beste wanneer ons beelde sien wat nie by die uitbeelding van die res van die verhaal hoort nie, soos die hoofkarakter, Uxbal, se hallusinasies, of wanneer hy vroegaand twee swerms voëls in die hemelruim gewaar wat vry dog in formasie ronddartel.

Biutiful het sy oomblikke van hoop, maar op die ou end het Iñárritu se siening van die wêreld nie plek vir gelukkige verhale nie. Hy het dit alreeds in sy vorige films bewys en hier doen hy dit weer. ’n Skokkende, uiters tragiese toneel, wat die laaste derde van die film afskop, is die gevolg van Uxbal se goeie bedoelings en hy kan die skuld hiervan skaars verwerk. Baie dikwels voel dit of die gebeure in die regisseur se films onregverdig is; heeltemal geloofwaardig, maar onregverdig, gegewe die kyker se hoop, of verwagting, dat karakters beloon word vir hul goeie dade.


Die verhaal speel af in Barcelona, en vir ’n verandering (met een uitsondering, wat ek nie uit die mou sal laat nie) vind al die aksie op een plek plaas. Uxbal is ’n fasiliteerder van onwettige immigrante: hy is die middelman wat reël dat Chinese immigrante (goedkoop) werk kry en hy is ook betrokke by die dwelmhandel wat deur Senegalese immigrante op straat bedryf word.

Maar die film bied jou nie alles op ’n skinkbord nie. Inteendeel, dit is baie huiwerig om enigiets netjies aan jou te bied en dit is byna eers teen die halfpadmerk, wanneer Gaudi se La Sagrada Familia op ’n panoramaskoot van die stad verskyn, dat ons agterkom dat hierdie Barcelona is. So stadig en gefragmenteerd soos die stad onthul word, so is die storielyn ook. Iñárritu is waarskynlik ’n regisseur wie se films meer as een keer gesien moet word om dit behoorlik te waardeer, want al die verskillende drade word gewoonlik eers in die tweede helfte saamgevleg, hoewel dit steeds nooit ’n duidelike beeld gee van die geheel nie.


Natuurlik sal daar baie aanhangers wees wat argumenteer dat dit soos die lewe is – dieselfde geld vir die negatiewe trant van die film(s). Dis hoe dinge soms gebeur in die lewe, sal hulle sê. Dis natuurlik ’n heel geldige opmerking om te maak, maar wil ons sulke gebeure sien, veral wanneer die hoofkarakter sy eie krisisse het om op te los? Elke kyker sal dit self moet beantwoord en die film gevolglik op ’n ander manier ervaar. Wat seker is hoe dit moet wees.

Wat my betref: ek was ongeduldig tydens die eerste helfte van die film. ’n Groot rede hiervoor is die film se redigering – en dit is iets wat my gewoonlik in Iñárritu se films pla. Detail is goed en elke toneel moet tel, maar dit moenie net in retrospek tel nie. Die film bevat soms baie kort skote, selfs sonder enige dialoog of werklike aksie, wat tussen twee belangriker maar onverwante tonele geplaas is. Die manier waarop die regisseur sy storie saamstel, is onkonvensioneel en ons reaksie is ’n gevolg van die vloei van beelde eerder as die fyn ontleding van spesifieke gebeure.

Biutiful is ’n film wat jou hoop sal laat verloor in die lewe. Mense doen hul bes om te oorleef – met mekaar, met hulself en met die gebeure wat hulle onwetend in die lewe gebring het – maar dinge gaan nooit so mooi uitwerk soos jy wil hê nie.