Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > Reney Warrington: Reeltime

Ek joke net kon skerper en snaakser wees


Reney Warrington - 2011-07-06

Untitled Document

Titel: Ek joke net
Regisseur: Stefan Nieuwoudt
Rolverdeling:Andrew Thompson, Christel van den Bergh, Solomon Cupido, Morne du Toit, Thokozani Ntuli, Lelia Etsebeth, Bryan Hadwen, Richard Lukunku

1/5

Candid camera films was nog nooit “hogere” kuns nie. Dit kán wel vlymskerp kritiek wees en dit móét verseker snaaks wees. Vat Borat as voorbeeld. Sacha Baron Cohen kan jou in een toneel laat lag, huil en met afgryse gevul laat terugsit. Selfs Schuster se films kwalifiseer. (Wie sal die taxi vergeet wat die luislang in ’n tas opgelaai het? Of die rookie speedcop? Ek lag al klaar.)

Ek joke net is nie skerp, snaaks of oorspronklik nie. Regtig.

Al lig ’n mens ’n wenkbrou vir die toilethumor van ander Afrikaanse komedies, is daar tog oomblikke waar jy nie kan help om te giggel nie, waar jy die eg Afrikaanse, of Suid-Afrikaanse, humor nie kan ontken nie.

Ek joke net se grappies is bloot flou. Hulle druk in by die Checkers-till, versteek ’n pakkie kondome in mense se kruideniersware, verkoop pirated DVDs voor ‘n DVD-winkel, en, en – ek kan nie onthou nie, want dit was so vervelig.

Daar was een toneel wat moontlik ’n platform is om op te bou. Die akteurs doen hulle voor as regeringsamptenare en gaan lig die bruin vissermanne op Paternoster in dat daar te veel bruin mense in die Kaap is. Hulle moet eers gou die swartes leer visvang, en dan begin hulle Maandag op die myne in Gauteng. Die vissermanne het net begin vloek, toe is die toneel oor.

Ons het ’n diverse land met leiers, politieke partye en muso’s wat self hulle name met ’n plank slaan. Ons kan met ’n snaakser, skerper probeerslag vorendag kom as Ek joke net.